Die Universiteit Stellenbosch (US) staan aan die hoof van 'n internasionale konsortium wat onlangs 'n toekenning van vyf miljoen euro (nagenoeg R101 miljoen) van die Europese Unie se voorste navorsings- en innovasieprogram, Horizon Europe, ontvang het om die diagnose, monitering en kliniese bestuur van huidige en toekomstige epidemies in Afrika te verbeter.
Hierdie groot toekenning sal help om genomiese waarnemingsvermoë te versterk en opleiding in gevorderde genomiese ontleding en interpretasie in die suidelike en oostelike dele van Afrika verskaf.
“Dit is 'n baie opwindende toekenning aangesien dit nie net voortbou op langtermyn-medewerkings met Duitsland en België nie, maar ook op ons navorsingsprogram saam met Kenia en Mosambiek in Afrika," sê die wêreldbekende bioinformatikus en direkteur van die US se Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI), prof Tulio de Oliviera. “Ons is baie trots op hierdie toekenning, aangesien die Europese en Ontwikkelende Lande Kliniese Proewe-vennootskap (EDCTP) vyf internasionale toekennings finansier en hierdie projek die enigste een is wat uit Afrika gelei word," voeg hy by.
Die toekenning, wat deur die Globale Gesondheid-EDCTP3-Gesamentlike Onderneming ondersteun word, is verleen aan 'n projek wat as Genomiese Waarneming bekendstaan en ten doel het om patogene-infeksies in Afrika (GenPath Africa) te beheer. GenPath Africa sal ook 'n integrale deel van die Afrika-Sentrums vir Siektebeheer-patogeegenomika-inisiatief (Afrika PGI) wees.
Soos die naam aandui, is GenPath Africa se oorkoepelende doel om patogene-infeksies op die vasteland te beheer. Die konsortium sal epidemioloë, klinikusse, bioinformatikusse, immunoloë en viroloë insluit om die gebruik van genomiese epidemiologie te verhoog ten einde belangrike gesondheidskwessies soos MIV-1, tuberkulose en antimikrobiese weerstand in Suid-Afrika, Kenia en Mosambiek aan te spreek. GenPath Africa sal ook vinnige opnames kan doen en op epidemies soos slenkdalkoors kan reageer wat deur klimaatsverandering aangeblaas word. Dit sal ook 'n “One Health"-benadering volg om vroeëwaarskuwingtoetsing in afvalwater en dierewaarneming uit te voer om ontluikende patogene op te spoor. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is “One Health" 'n geïntegreerde, samewerkende, multisektorale en transdissiplinêre benadering wat daarop gemik is om die gesondheid van mense, diere en ekosisteme volhoubaar te balanseer en te optimaliseer.
Die vennote van die US sluit 'n medewerking tussen SERI, vier navorsingsgroepe binne die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika (Diere-TB, die Suid-Afrikaanse TB-bioinformatika-inisiatief, die Immunologie-navorsingsgroep en die TB Genomika-navorsingsgroep) en die Afdeling Geneeskundige Virologie in. Ander lede van die konsortium is die Nasionale Instituut vir Gesondheid van Mosambiek, die Internasionale Lewendehawe-navorsingsinstituut in Kenia, die Instituut vir Globale Gesondheid aan die Universiteit van Antwerpen in België en die LINQ-bestuur GmbH in Berlyn, Duitsland.
“Ondanks die vinnige uitbreiding van genomiese volgordebepalingskapasiteit en verhoogde genomiese waarneming gedurende die Covid-19-pandemie, het die wêreldwye reaksie op SARS-CoV-2 die hindernisse uitgelig wat verhoed dat die wêreld geredelik beskikbare, betroubare en omvattende genomiese data het om met besluitneming oor openbare gesondheid te help. Veral die vermoë om die data vinnig te ontleed en te interpreteer om openbare gesondheid te kan beïnvloed, is uiters beperk," sê De Oliveira.
“Ons moet vir toekomstige pandemies beplan deur genomiese waarneming na ander patogene in Afrika uit te brei om nuwe opkomende epidemies vinnig op te spoor. Die GenPath Africa-span is goed geposisioneer om genomiese epidemiologie toe te pas om 'n impak op huidige en opkomende epidemies in Suider- en Oos-Afrika te hê."
GenPath Africa sal die EDTCP3-werkprogram bevorder deur i) navorsers en openbare gesondheidswerkers met vaardighede in genomiese epidemiologie toe te rus om die epidemiologie van aansteeklike siektes en middelweerstandigheid beter te verstaan, ii) die vermoë in Suider- en Oos-Afrika te versterk om vinnig op huidige en opkomende epidemies te reageer, en iii) navorsers op te lei ten einde hulle wetenskaplike loopbane in Afrika te bevorder en hulle as wetenskaplike en openbare gesondheidsleiers te vestig.
Meer oor die Globale Gesondheid-EDCTP3 GO
Die Globale Gesondheid-EDCTP3-Gesamentlike Onderneming (GG-EDCTP3-GO) bou voort op die eerste en tweede Europese en Ontwikkelende Lande Klinieseproewevennootskapprogram (EDCTP). Hierdie nuwe gesamentlike onderneming is 'n vennootskap tussen die EU en die EDCTP-vereniging, waarvan die lede verskeie Europese en Afrika-lande insluit. Die vennootskap sal nuwe oplossings bied om die las van aansteeklike siektes in Afrika Suid van die Sahara te verminder en navorsingskapasiteite te versterk om voor te berei en te reageer op die heropkoms van aansteeklike siektes in hierdie streek en regoor die wêreld.
Meer oor die US se navorsingsgroepe
Die US se vennote in hierdie program sluit vier navorsingsgroepe in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika (Diere-TB, Suid-Afrikaanse TB Bioinformatika-inisiatief, Immunologie-navorsingsgroep en TB-genomika-navorsingsgroep) en die Afdeling Geneeskundige Virologie in. Hierdie groepe is by die moderne Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI) in die Fakulteit Geneeskundige en Gesondheidswetenskappe (FGGW) gesetel. Die medewerking behels ook SERI, 'n transdissiplinêre navorsingsprogram wat met drie fakulteite van die US skakel, insluitende die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, die FGGW en die Fakulteit Natuurwetenskappe. Klik hier vir meer inligting oor SERI en hier om meer oor die BMNI te wete te kom.