Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekendstelling van die Suid-Afrika-Nederland Kubersekuriteitskool – ʼn eerste in Suider-Afrika
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 13/09/2023

​Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Haagse Sentrum vir Strategiese Studies (HCSS) het kragte saamgesnoer om Suid-Afrika se eerste Internasionale Kuberveiligheidskool van stapel te stuur.

Hierdie inisiatief, aangevoer deur prof Bruce Watson, voorsitter van die Sentrum vir KI-navorsing (CAIR) en van die Skool vir ​Datawetenskap en Rekenaardenke aan die US, en Noëlle van der Waag-Cowling, ook van CAIR, in samewerking met die HCSS en die Nederlandse regering, sal kundiges, instansies, en die private sektor van beide Nederland en Suid-Afrika byeenbring om ʼn Kubersekuriteitsomerskool aan te bied wat in Maart 2024 begin.​​

Prof Wim de Villiers, US-rektor en -visekanselier, en die US-span het dr Michel Rademaker van die HCSS, Hélène Rekkers, Konsul-generaal van die Koninkryk van Nederland in Kaapstad, en Joost Bunk, Eerste Sekretaris by die Nederlandse Ambassade, by die bekendstelling van die Suid-Afrika-Nederland Kuberveiligheidskool verwelkom.

Die Rektor het opgemerk dat globale vennootskappe noodsaaklik is om transnasionale veiligheid doeltreffend aan te pak. “In die moderne wêreld, waar bedreigings geen grense ken nie, is internasionale samewerking uiters belangrik. Dit stel nasies in staat om hul hulpbronne saam te voeg, kundigheid te deel en die wetlike raamwerke daar te stel wat nodig is om kuberbedreigings te bekamp. Dit is ʼn erkenning dat sekuriteit ʼn kollektiewe verantwoordelikheid is en ons moet saamwerk om vrede en stabiliteit in ʼn voortdurend ontwikkelende digitale landskap te handhaaf."

Watson het die belangrikheid van ʼn internasionale kuberveiligheidskool beklemtoon binne die konteks van globale skuiwe om ʼn oop internet te ondersteun. “Daar is binne universiteite en die breër navorsingsgemeenskap ʼn gedeelde idee van die behoefte aan ʼn oop kuberruimte."

Prof Hester Klopper, Adjunk-visekanselier: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake aan die US, het gesê die nuwe Skool is belyn met die Universiteit se strategie om met internasionale hoëronderwysnetwerke oor globale kwessies te skakel.

Een van die uitdagings wat lande regoor die wêreld in die gesig staar, is die groter wordende digitale kloof, het Rekkers gesê. “Hierdie Somerskool is ʼn baie belangrike stap om met Suid-Afrika oor hierdie kwessie saam te werk."

Die aanlyn kursus, wat in sy loodsfase in 2024 gratis beskikbaar sal wees, is gemik op honneursstudente en jong beroepslui met ʼn belangstelling in kuberveiligheid. Kursuswerk sal uitdagings insluit wat deur regeringsagentskappe en maatskappye gestel word om studente by werklike probleemoplossing te betrek. Die Somerskool bied ʼn kwalifikasie in kuberveiligheidstudies en sal ʼn “spelbreker vir die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse kubervaardighede wees", het Van der Waag-Cowling verduidelik.

Die HCSS is ʼn dinkskrum wat multidissiplinêre navorsing oor geopolitieke en verdedigings- en veiligheidskwessies vir regerings, internasionale instellings en besighede doen. Deur die Kubersekuriteitskool sal die HCSS studente uit verskeie dissiplines aanmoedig om hul onderskeie vaardighede te gebruik terwyl hulle as ʼn span saamwerk om uitdagings aan te pak, soos hulle in die werkplek sou doen, het Rademaker gesê.

“Die bou van ʼn hoëvlak-kuberveiligheidswerkmag in Suider-Afrika is nie net ʼn doelwit nie; dis ʼn strategiese noodsaaklikheid. Dis ʼn belegging in ons toekoms, een wat ekonomiese groei sal ondersteun, kritieke infrastruktuur sal beskerm, nasionale veiligheid sal verbeter en digitale insluiting sal bevorder," het De Villiers afgesluit. “Deur kuberveiligheidsonderrig en -opleiding te prioritiseer, kan ons die digitale dividende ontsluit en ʼn veiliger en voorspoediger toekoms vir ons streek verseker."

Onderskrif:

Dr Michel Rademaker van die Haagse Sentrum vir Strategiese Studies, prof Wim de Villiers, US-rektor en -visekanselier, en Hélène Rekkers, Konsul-generaal van die Koninkryk van Nederland in Kaapstad, by die bekendstelling van Suid-Afrika se eerste internasionale kuberveiligheidskool.