Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Spelgebaseerde assessering as alternatief vir die standaard toets
Outeur: E Els
Gepubliseer: 12/09/2023

'n Nuwe manier van leer en assessering is deur Delecia Davids, 'n dosent in Fakulteit Opvoedkunde, ontwerp. Davids het 'n spelgebaseerde manier van leer en assessering ontwikkel met die ontwerp van digitale ontsnapkamers spesifiek vir opvoedkunde. Elzette le Roux en Hannelie Adendorff het met Davids hieroor gesels in 'n podsending deur Universiteit Stellenbosch.

Davids het verduidelik dat sy per ongeluk op die konsep afgekom het en geïnspireer is deur die Stanford d.school wat 'n projek genaamd 'The deeper learning puzzle buzz' gehad het. Die doelwit was om die gestandaardiseerde toets vry te spring.

Davids het gesê dat sy begin werk het aan die fisiese ontsnapkamer-ontwerp vir opvoedkunde net voordat COVID-19 Suid-Afrika getref het. Sy was toe genoodsaak om te dink hoe die konsep in die aanlynruimte kan werk aangesien fisiese interaksie nie moontlik was gedurende die pandemie nie. Elemente van 'n fisiese ontsnapkamer soos 'n tydhouer, legkaarte, samewerking, leidrade en 'n slot moes na die aanlynruimte geneem word.

“Ek wou kyk of die digitale ontsnapkamers kan werk, want ek wou sekermaak my studente het 'n verrykende leerervaring. COVID-19 het 'n versnelling in my eie digitale leer veroorsaak." Een ding wat vir Davids deurlopend was in al die verskillende modules wat sy vir studente aangebied het, was om die grense te verskuif ten opsigte van assessering en om tegnologie op innoverende maniere in die Suid-Afrikaanse konteks te gebruik. “Die bedoeling destyds was hoe ek my studente kon help om iets vir hul vakspesialisasie te ontwerp wat hulle vir onderrig kan gebruik."

Die spelgebaseerde leer gaan oor samewerkende leer, die saam oplos van raaisels, kommunikasievaardighede en probleemoplossing. Davids het haar studente gevra om saam te werk aan digitale ontsnapkamer-ontwerpe in groepe van drie tot vier. Sy het hulle uitgedaag om hul ontwerpe na die opvoedkundige veld te te neem en die kurrikulum te inkorporeer.

Davids het verduidelik dat die fisiese ontsnapkamer-elemente in ʼn spasie saamgevoeg moes word vir die aanlynruimte. Die skerm is in wese die voertuig vir die digitale ontsnapkamer. Dit is 'n skyfievertoning-gebaseerde ontwerp waarin hiperskakels agter voorwerpe en foto's versteek is. Google Forms word gebruik om as slotte te dien. Davids het bygevoeg dat die produkte wat die studente vervaardig het, gekommersialiseer kan word of aan skole gegee kan word met gratis toegang. Een van die uitstaande assesserings wat sy van 'n student ontvang het, was rondom die tema ruimte wat deel is van die KABV-kurrikulum.

“Die opwindendste van die hele reis was om saam met die studente te leer en te sien hoe hulle my verwagtings oortref," het Davids gesê.

Davids doen ook navorsing oor haar eie innovasie en praktyk met die hulp van dr Anthea Jacobs. Hulle het 'n plakkaat met die naam Using escape rooms to develop the digital competencies of Natural Science pre-service teachers aangebied by die 30ste Internasionale Konferensie oor Leer in Brasilië in Julie 2023. Davids en Elzette le Roux was mede-outeurs van 'n boekhoofstuk oor die konseptualisering van die digitale ontsnapkamer as 'n assesseringstrategie wat binnekort gepubliseer sal word.

  

‘n Ontsnapkamer-ontwerp deur ‘n dosent  

            

‘n Ontsnapkamer-ontwerp deur ‘n student

Luister na die podcast:

https://podcasters.spotify.com/pod/show/stellenbosch-university/episodes/Game-based-learning-and-assessment-how-to-escape-the-room-e28sqps/a-aaaia84

​Foto: Dr Anthea Jacobs en Delecia Davids by hulle plakkaataanbieding in Brasilië.