Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-studie kan help om middelweerstandige TB vinniger te diagnoseer
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 11/09/2023

Middelweerstandige tuberkulose (DR-TB) hou 'n wêreldwye gesondheidsbedreiging in weens die hoë sterftesyfer, koste van behandeling en die oordragsrisiko. Daar was in 2021 na raming 450 000 gevalle van DR-TB en 191 000 sterftes wêreldwyd. Suid-Afrika het van die meeste middelweerstandige pasiënte in die wêreld, maar slegs 50% van hierdie pasiënte begin met behandeling.

​“Middelweerstandige TB bedreig die ​ Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se END-TB-strategie wat ten doel het om die siekte teen 2035 wêreldwyd uit te roei. Daarom het ons nuwe en beter metodes nodig om DR-TB so vinnig as moontlik te diagnoseer om oordrag teen te werk, behandeling te verbeter en lewens te red," sê dr Brigitta Derendinger van die Kliniese Mikobakteriologie- en Epidemiologie-groep (CLIME) in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Derendinger, wat onlangs haar doktorsgraad aan die US behaal het, het maniere ondersoek waarop bestaande toetse vir die diagnosering van DR-TB verbeter kan word. Sy het ook die programmatiese voorkoms (nie-kliniese proefpasiënte) van weerstand teen bedaquiline – die eerste nuwe TB-middel in amper 40 jaar – in hoërisikopasiënte getipeer. Bedaquiline is deel van inspuitvrye behandelingsregimes vir middelweerstandige TB.

Derendinger wys daarop dat Xpert MTB en RIF Ultra twee van die toetse is wat die meeste gebruik word om TB en middelweerstandigheid te diagnoseer, maar 'n tweede speekselmonster is steeds nodig om weerstand teen rifampisien – wat gereeld voorgeskryf word om TB te behandel – te verifieer, en om tweedevlak-weerstand te diagnoseer. Daarby word molekulêre toetse (MTBDRplus) en MTBDRsl) wat deur die WGO onderskryf word, as deel van die roetine gedoen om 'n middelweerstandige diagnose te bevestig en om verdere weerstand teen ander middels te diagnoseer. 

 “Sedert die inwerkingstelling van Xpert, Ultra en MTBDRplus in Suid-Afrika, is die tyd verkort vandat veelvuldige middelweerstandige TB aanvanklik gediagnoseer is totdat die pasiënt behandeling begin ontvang, maar hierdie proses is nog steeds lank. 

“Verder beskik baie lande met 'n groot TB-las nie oor die bioveiligheid en infrastruktuur vir die onttrekking van DNA en bykomende molekulêre toetsing nie. Daar is dus 'n dringende behoefte daaraan om die diagnostiese vertragings te verminder en om vinnige molekulêre metodes te ontwikkel of te verbeter sodat daar minimaal op die verkryging van 'n tweede speekselmonster staatgemaak hoef te word."

Om hierdie tekortkominge aan te spreek, het Deredinger DNS van Mycobacterium tuberculosis (die bakterium wat TB veroorsaak) uit gebruikte Xpert-buise onttrek (BO – buisonttrekking) wat andersins deur laboratoriums weggegooi sou word. Sy het dit aangedui deur eerste- (MTBDRplus) en tweedelyn- (MTBDRsl) middeltoetsing op die BO te doen wat uit hierdie een buis verkry is. Sodoende was daar 'n vinniger diagnose van DR-TB en is die behoefte aan die verkryging van 'n tweede monster uitgeskakel.

​“Ons* het maniere geïdentifiseer om die behoefte aan die verkryging van 'n tweede speekselmonster te verminder, en sodoende is die tyd wat dit neem om 'n diagnose te maak, van weke na 'n paar dae verminder. 'n Vinniger diagnose sal beteken pasiënte kan gouer met behandeling begin.

“Ons het drempels geïdentifiseer om te implementeer ten einde te verseker dat geen toets op BO gemors hoef te word wat moontlik 'n ongeldige uitslag sal lewer nie. Dit het verreikende gevolge, veral in lande soos Suid-Afrika waar pasiënte dikwels nie terugkeer om 'n tweede speekselmonster te gee nie, of eenvoudig net nie een kan produseer om die diagnose van middelweerstandige TB te bevestig nie.

“Ons het ook gevind dat deur 'n parameter te korrigeer wat in die MTBDRplus- en MTBDRsl-toetse gebruik is, ons meer pasiënte met DR-TB kan diagnoseer en hulle op doeltreffende behandeling kan plaas," voeg Drendinger by. 

Wat betref bedaquiline, sê sy dit word vinnig, maar grootliks in die afwesigheid van TB-middeltoetsing, opgeskaal.

“Die WHO beveel aan dat TB-middeltoetsing op alle pasiënte gedoen word wat bedaquiline ontvang en dat hulle behandeling gemonitor moet word, maar dit word nie gereeld in Suid-Afrika gedoen nie. Slegs 'n paar sentrale laboratoriums het die kapasiteit om dit te doen, wat vertragings in diagnose veroorsaak.

“Kliniese bedaquiline-weerstand is besig om na vore te tree, maar daar is min data beskikbaar, veral op plekke waar daar 'n groter waarskynlikheid is dat pasiënte vertragings en middeltekorte sal ondervind, of minder ondersteuning ontvang en minder gemonitor word as pasiënte wat aan kliniese proewe deelneem.

“Gevolglik kan hierdie pasiënte moontlik nie op die behandeling reageer nie, en daar is 'n kleiner kans dat behandelingregimes wat misluk, opgemerk sal word. Dit is dus meer waarskynlik dat weerstand in hierdie omstandighede opgedoen en later oorgedra sal word."

Derendinger beklemtoon die behoefte daaraan om gevestigde molekulêre middelweerstandige TB-toetse optimaal te benut, asook vir die ontwikkeling van nuwe middelweerstandige TB-toetse om weerstand teen nuwe middels soos bedaquiline te monitor ten einde die vertraagde diagnose en voortgesette oordrag teen te werk.

Sy sê die bevindings van haar navorsingstudie het rigting gegee aand WGO-kursusopleidingsmateriaal en is by wêreldwye laboratoriumprestasie- en gehalte-assesserings ingesluit.

​*Derendinger gee ook erkenning dr Rouxjeane Venter van die US se Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika vir die bydrae wat sy tot haar navorsing gelewer het.