Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale Geletterdheidsdag: Innoverende onderrigmetodes kan help om leeskrisis op te los
Outeur: Zelda Barends
Gepubliseer: 08/09/2023

Internasionale Geletterdheidsdag word jaarliks op 8 September gevier. In ʼn meningsartikel vir die Cape Times skryf dr Zelda Barends van die Departement Kurrikulumstudie dat innoverende onderrigmetodes gesteun deur bewysgebaseerde navorsing kan help om Suid-Afrika se leeskrisis op te los.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder. Klik hier vir die artikel soos geplaas.

Zelda Barends*

Wanneer ons saam met die res van die wêreld op 8 September weer Internasionale Geletterdheidsdag vier, kan ons nie die leeskrisis ignoreer wat ons in die gesig staar nie. Volgens die jongste verslag van die Studie oor die Vordering in Internasionale Leesgeletterheid (PIRLS) wat in Mei vanjaar vrygestel is, kan 81% van ons graad 4-leerders nie met begrip lees nie. En om dinge te vererger, word ons onderwysers se pogings om die geletterdheidsvaardigheid van leerders te verbeter, net verder lamgelê.

Een ding wat gereeld in my gesprekke met sommige onderwysers na vore kom, is hulle frustrasie wat uit vele onopgeloste uitdagings voortspruit, insluitende oorvol klaskamers en onvoldoende toegang tot hulpbronne, infrastruktuur en ondersteuning. Hierdie struikelblokke bemoeilik nie net hulle taak om individuele aandag aan leerders te gee nie, maar beïnvloed ook hulle vermoë om doeltreffende onderwys en geletterdheidsonderrig te bied.

​Onderwysers worstel ook met kurrikulumveranderinge. Die situasie ná Covid-19 vereis dat hulle onderrigplanne en die implementering van die kurrikulum moet aanpas om toepaslike inhoud te lewer en aan die behoeftes van die leerders te voldoen in die lig van die leerverliese wat gedurende die pandemie gely is. Dit is tydrowend en uitdagend. Ons moet ook nie die administratiewe las vergeet waaronder onderwysers gebuk gaan nie – soos rekordhouding en papierwerk wat die tyd wat hulle het om aan lesbeplanning en onderrig te bestee, verminder.

Ondanks hierdie eise, gebruik onderwysers nog steeds professionele ontwikkelingsgeleenthede om op hoogte te bly van beste praktyke en innoverende onderrigmetodes. Een voorbeeld is die opkoms van in-diens onderwysers wat opgelei word volgens die “wetenskap van lees", 'n term wat blyk om hoogmode in onderwyskringe te wees. Die mees onlangse interpretasie van die “wetenskap van lees" beklemtoon onderrig deur die klankmetode wat 'n fundamentele deel van vroeë leesonderrig is waarvolgens leerders geleer word hoe letters met klanke in 'n taal ooreenstem.

Hierdie ontwikkeling moet in die lig beskou word van die dringendheid om op ons geletterdheidskrisis te reageer soos deur die uitslag van die PIRLS-verslag bevestig is. Hoewel ons hierdie krisis onmiddellik moet oplos, moet ons egter op bewysgebaseerde navorsing steun om dit te doen.

Ten slotte …

Al hoe meer navorsing word aan die “wetenskap van lees" gekoppel wat die leesproses in vyf uiters belangrike vaardighede verdeel wat elke leerder moet bemeester om 'n vaardige leser te word, naamlik fonemiese bewustheid ('n noodsaaklike onderafdeling van vroeë geletterdheidsontwikkeling wat die grondslag vir leerders lê om die klankstruktuur van woorde te verstaan), klankleer, leesvlotheid, woordeskat en leesbegrip. Hierdie navorsing beklemtoon ook dat leerders breedvoerig in hierdie vaardighede onderrig moet word, veral in die grondslagfase (graad R tot 3) waar leerders die vaardighede aanleer om te leer lees voordat hulle oorgaan na lees om te leer in die intermediêre fase (graad 4 tot 6).  Daarbenewens sal gestruktureerde onderrig en gedifferensieerde ondersteuning in hierdie vaardighede verseker dat leerders leer lees.

Breedvoerige onderrig volg gewoonlik 'n reeks duidelike, weldeurdagte stappe. Die onderwyser se aksies is duidelik, spesifiek, direk en hou met die leerdoelwit verband. Hierdie onderrig word gesteier waar toepaslike leerondersteuning soos aanwysings, wenke of leidrade belyn is met die behoeftes van leerders en help om hulle na meer akkurate reaksies te lei terwyl nuwe vaardighede bemeester word.

Benewens die geleentheid vir onderwysers om meer oor die “wetenskap van lees" te leer, moet ons hulle ook help om hulle onderrig van die vyf uiters belangrike vaardighede soos beklemtoon deur die huidige kurrikulum, te verskerp. Dit kan gedoen word deur leesinstruksies van 'n hoë gehalte te ontwikkel en te lewer op grond van en ter oorweging van bewysgebaseerde navorsing. Op hierdie manier sal ons 'n stap nader aan die oplossing van die leeskrisis beweeg en ons kinders werklik 'n kans in die lewe gee.

*Dr Zelda Barends is 'n senior dosent in die Departement Kurrikulumstudie by die Universiteit Stellenbosch.