Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Eenheid vir Internasionale Kwalifikasies help met Lesotho se Gevorderde Sekondêre Sertifikaat
Outeur: SU International
Gepubliseer: 06/09/2023

Die Universiteit Stellenbosch se Eenheid vir Internasionale Kwalifikasies (SU-UIC) het 'n ooreenkoms met die Lesotho-eksamineringsraad aangegaan om as konsultant op te tree vir hul nuwe nasionale kwalifikasie, die Lesotho Gevorderde Sekondêre Sertifikaat (LASC).

Die Lesotho-eksamineringsraad (ECoL) het voorheen namens die Lesotho-onderwysministerie die Lesotho Algemene Sekondêre Onderwyssertifikaat (LGCSE) in vennootskap met die Universiteit van Cambridge aangebied. Toe dié vennootskap egter aan die einde van 2022 ten einde loop, het EcoL besluit om die LASC te implementeer – 'n nuwe skoolverlatersertifikaat wat leerders met vaardighede van 'n internasionale standaard sal toerus.

Hoewel die LGCSE ook as 'n skoolverlatersertifikaat gedien het, was die standaard vergelykbaar met graad 11 in die Suid-Afrikaanse kurrikulum. Dít het as 'n struikelblok gedien vir leerders wat graag aan hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika en elders wou studeer. Die nuwe LASC sal gelykstaan met Suid-Afrika se Nasionale Senior Sertifikaat en ander, soortgelyke matriekkwalifikasies, wat Basotho-burgers toegang tot 'n groter verskeidenheid universiteite sal bied.

Die SU-UIC is die eksterne gehalteversekeraar vir Afrika se eerste internasionale skoolverlatersertifikaat, die Internasionale Sekondêre Sertifikaat (ISC), wat die Onafhanklike Eksamineringsraad in 2022 bekend gestel het. Dít het ECoL laat besluit om die SU-UIC te nader om ook as gehalteversekeraar vir die LASC op te tree, wat Lesotho graag in 2024 wil implementeer.

Volgens die ooreenkoms sal die SU-UIC raad gee gedurende die ontwikkeling van die LASC in 2023 sowel as daarná. Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, en die uitvoerende hoof van ECoL, dr Mokhitli Khoabane, het die ooreenkoms in Junie op Stellenbosch onderteken.

Die US se bystand sal EcoL 'n belangrike paradigmaskuif na Afrikarelevansie en -responsiwiteit in die Lesotho-onderwysstelsel help maak. Albei rolspelers is opgewonde om te sien hoe die inisiatief vorm aanneem. ​