Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ESI se gesamentlike skole onstuitbaar
Outeur: SU International
Gepubliseer: 07/09/2023

Die inisiatief vir ontluikende akademici (ESI) in US Internasionaal se Afrikasentrum vir Akademieskap (ACS) versit steeds grense met sy gesamentlike skole saam met universiteite van oor die hele Afrika. Die skole voorsien goeie dog bekostigbare vaardigheidsgebaseerde opleiding by vennootinstellings van die Universiteit Stellenbosch (US) as deel van die Universiteit se pogings om jong akademici op die vasteland te ontwikkel.

Die ACS en Makerere-universiteit se Direktoraat Navorsing en Nagraadse Opleiding (DRGT) het vroeër vanjaar 'n gesamentlike skool aangebied wat 85 deelnemers gelok het, waaronder vyf doktorale studente en personeellede van die US (sien foto hier onder).

ESI berei tans voor vir gesamentlike skole met die universiteite van Mauritius, Lusaka (Zambië) en Malawi, en gesprekke met ander Afrikavennote duur voort. Kursusse vir die gesamentlike skole word saamgestel op grond van die behoeftes en prioriteite wat vennootuniversiteite identifiseer, en fasiliteerders en personeellede van albei universiteite is betrokke by die ontwerp en aanbieding.

Meer as 350 afgevaardigdes het tot dusver al aan die gesamentlike skole deelgeneem. Daarbenewens was die kursusfasiliteringspanne divers en van 'n verskeidenheid fakulteite en dissiplines. Van die 33 medefasiliteerders was elf byvoorbeeld verbonde aan die US, waaronder personeel van die Universiteit se Taalsentrum, die Sentrum vir Hoër en Volwassene-onderwys, die Sentrum vir Gesondheidsberoepsonderwys, die ACS, die Afdeling Navorsingsontwikkeling, en die Sentrum vir Navorsing oor Evaluering, Wetenskap en Tegnologie.

Boonop het ESI altesaam 108 beurse toegeken aan afgevaardigdes van Afrikavennote om aan die ADA se skole deel te neem.


Voor van links staan prof Robert Wamala (Makerere), dr Brent Abrahams (US), prof Edward Bbaale (DRGT-direkteur, Makerere), prof Sarah Howie (ACS-direkteur, US), prof Umar Kakumba (Viserektor: Akademiese Sake, Makerere), prof Julius Kikooma (Makerere), dr Mmampho Gogela-Smith (US), dr Rovincer Najjuma (Makerere) en prof Christopher Mugimu (Makerere), saam met deelnemers aan die gesamentlike skool by Makerere-universiteit in Kampala, Uganda. Foto met vergunning van Makerere-universiteit.