Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch installeer sanitêre doekiesmasjiene op kampus
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 31/08/2023

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n beduidende stap geneem om menstruasie-armoede te beëindig deur moderne sanitêre doekiesmasjiene op kampus te installeer. Die masjiene is moontlik gemaak deur die geldelike ondersteuning van 'n skenker in die Verenigde Koninkryk.

Twee eenhede is op die Stellenboschkampus geïnstalleer, terwyl die derde eenheid in die komende weke op die Tygerbergkampus in Bellville opgerig sal word.

In Suid-Afrika affekteer menstruasie-armoede meer as sewe miljoen jong vroue, met baie wat moet kies tussen die koop van kos of sanitêre produkte. Dit is ook die ervaring van baie vrouestudente aan die US wat nie oor voldoende hulpbronne beskik om toegang tot hierdie produkte te kry nie, en op sy beurt het dit weer 'n geweldige impak op hul opvoeding, liggaamlike gesondheid en geestesgesondheid.

Om hierdie kwessie op US-kampusse aan te spreek, het die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge die #EndPeriodPoverty-inisiatief van stapel gestuur as deel van die Universiteit se Bridge The Gap-jaarfonds (BTG). #EndPeriodPoverty het ten doel om fondse in te samel om sanitêre doekiesmasjiene aan te skaf om die stigma rakende menstruasie aan te spreek en studente waardige toegang tot vroulike higiëneprodukte te bied.

"Vir die toetsfase het ons besluit om twee groot outomatiese masjiene vir ons Stellenboschkampus aan te skaf wat altesaam 1 000 pakke met doekies per maand sal bevat en 'n kleiner masjien vir ons Tygerbergkampus met 100 pakke per maand. Elke pak bevat agt plaaslik vervaardigde, bioafbreekbare sanitêre doekies. Die masjiene sal maandeliks hervul word," sê Viwe Benxa, Alumnibetrekkinge Koördineerder en BTG-ambassadeur.

"Ons studente sal doekies ontvang deur bloot met hul studente-identiteitskaarte te tik. Deur die studente-identiteitskaart se gebruik, sal ons die proses monitor en die vraag daarna akuraat kan bepaal. Hierdie inligting is goud werd om sodoende meer masjiene by nuwe punte op ons kampusse beskikbaar te stel."

Die masjiene is strategies geleë in areas waar vroulike studente maklik toegang daartoe kan kry. Die twee plekke vir die Stellenboschkampus is by die Jan Mouton-leersentrum en buite die Tinie Louw-saal.

"Ons hoop om genoeg fondse te werf vir die volgende twee installasies wat vir ons Saldanha-kampus geoormerk is," voeg Benxa by.