Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
UNESCO-leerstoel in interkulturele bevoegdheid Die twee geleenthede voor die leerstoelbekendstelling 14-15 Augustus
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 31/08/2023

​Universiteit Stellenbosch Internasionaal (US Internasionaal) het onlangs twee dae se aktiwiteite met betrekking tot interkulturele bevoegdheid aangebied, wat uitgeloop het op die amptelike bekendstelling van die UNESCO-leerstoel in interkulturele bevoegdheid op die derde dag.

 Die leerstoel, wat vroeër vanjaar aan die Universiteit Stellenbosch (US) toegeken is, sal geleë wees in US Internasionaal se Afrikasentrum vir Akademieskap (ACS). Dr Darla Deardorff, 'n US-geaffilieerde uitgelese genoot van die Verenigde State, sal die leerstoel saam met prof Sarah Howie, direkteur van die ACS, beklee.

 Die twee geleenthede voor die leerstoelbekendstelling – 'n vermoëbousessie en 'n simposium oor interkulturele bevoegdheid – het onderskeidelik op 14 en 15 Augustus plaasgevind. Vooraanstaande direkteure, navorsers en akademici van hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika, Afrika en die res van die wêreld sowel as UNESCO-leerstoelbekleërs en -eregaste het die geleenthede bygewoon.

 Vermoëbousessie oor interkulturele bevoegdheid – UNESCO-storiekringopleiding

 

Dr Deardorff, wat ook die stigterspresident is van die Wêreldraad oor Interkulturele en Globale Bevoegdheid (www.iccglobal.org), was die aanbieder van die vermoëbousessie op die eerste dag. Die sessie het gebruik gemaak van storievertel in kringe (UNESCO-storiekringe) – 'n belangrike interkulturele metodologie van UNESCO – om interkulturele bevoegdhede soos luister vir begrip, ontvanklikheid en empatie te oefen en aan te leer. Die doel was om deelnemers toe te rus om later self die metodologie te fasiliteer.

 “UNESCO-storiekringe spruit uit een van die eerste navorsingsgegronde raamwerke oor interkulturele bevoegdheid," sê Deardorff. UNESCO het die kringe in ál vyf UNESCO-streke in die wêreld sowel as aanlyn bekend gestel en gebruik dit om Verenigde Nasies-personeel wêreldwyd op te lei. “Kringe bestaan al eeue lank in inheemse kulture, maar dít is die eerste keer dat dit gebruik word om interkulturele bevoegdhede te oefen en aan te leer," sê Deardorff. Meer as 30 Stellenbosse kollegas het saam met internasionale vennote van die Universiteit aan die werksessie deelgeneem.

Simposium oor interkulturele bevoegdheid

Die simposium op die tweede dag het uit hibridiese hoofsessies bestaan, waaronder praatjies deur toonaangewende US-navorsers, paneelgesprekke deur die US se internasionale vennote, en aanbiedings deur UNESCO-leerstoelbekleërs.

 Prof Hester Klopper, die US se Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, het in haar verwelkomingsrede gesê die simposium het net op die regte tyd gekom. “Die tydsberekening van die simposium is perfek, nie net ten opsigte van ons stryd om geslagsgelykheid of vrede nie, maar ook baie ander vorme van onreg wat spruit uit die 'ons-en-hulle-mentaliteit' wat ons so dikwels teëkom. Daardie mentaliteit lei tot rassisme, xenofobie, geslagsgebaseerde geweld en, in Suid-Afrika se geval, die voortslepende nalatenskap van kolonialisme, slawerny en apartheid. Hierdie ongelukkige ervarings bied ons die geleentheid om saam na 'n beter toekoms te soek. Ek glo die UNESCO-leerstoel sal 'n belangrike rol vervul om hierdie stelsel van navorsing, onderrig en leer te bevorder en te integreer."

Dr Deardorff het in haar openingsrede die belang van interkulturele bevoegdheid op wêreldvlak beklemtoon. “Terwyl die wêreld die afgelope drie jaar teen die Covid-19-pandemie baklei het, het ons ervarings van afsondering, inperking, sosiale distansiëring en selfs vrees ons daaraan herinner hoe kragtig menslike verbondenheid is. Die pandemiejare het ons 'n geleentheid gebied om na te dink oor wat regtig saak maak, wat ons saambind, en wat dit beteken om goeie bure te wees. Dit het beklemtoon dat ons almal saam hierin is en dat ons gewoon moet leer om oor die weg te kom, en dít is waar interkulturele bevoegdheid 'n rol speel.

 “Die konstruk van interkulturele bevoegdheid word al langer as 60 jaar akademies bestudeer. Ons sien ook ál hoe meer navorsing oor sosiale emosionele leer, emosionele intelligensie en gesprekke oor empatie en deernis. Dít, tesame met gesprekke oor die verband met geregtigheid, billikheid, diversiteit, samehorigheid en insluiting, opper weer verdere vrae wat nóg navorsing vereis, en juis daarom kan hierdie UNESCO-leerstoel so betekenisvol wees."

 

Sy het dit egter betreur dat die meeste van die bestaande werk oor interkulturele bevoegdheid uit die globale noorde kom. “Dít is waarom dit so belangrik is om die UNESCO-leerstoel op Stellenbosch te hê. Omdat die leerstoel in Suid-Afrika geleë is, kan ons met navorsers van oor die hele vasteland saamwerk aan interkulturele bevoegdheid," het Deardorff gesê.

 Die UNESCO-leerstoel bied 'n opwindende geleentheid om met kollegas van die US, maar ook van ander instellings saam te werk, het prof Howie, die medebekleër van die leerstoel, in haar openingsrede gesê. “Die gedagte is dat dit 'n dinkskrum moet wees met 'n groot span wat ten nouste saamwerk. Dit is 'n manier om navorsing, opleiding en programontwikkeling in die hoër onderwys te bevorder. Die oorhoofse doel van hierdie leerstoel is om by te dra tot onderwys van gehalte, volhoubare gemeenskappe en geslagsgelykheid, met 'n bepaalde klem op Afrika, sodat ons 'n meer regverdige, vreedsame en inklusiewe samelewing kan skep."

 Prof Howie het bygevoeg: “Daarom het die leerstoel vier doelwitte. Die eerste is om navorsing en praktyk op die terrein van interkulturele bevoegdheid saam te stel en te versprei. Die tweede is om aan projekte deel te neem wat relevant is vir die Afrika-unie se Agenda 2063, as 'n geleentheid vir interdissiplinêre samewerking om kwessies soos geslagsgelykheid, konflikbeslegting/vrede en klimaatsverandering te hanteer. Die derde is om samewerking tussen die verskillende universiteite te versterk. Die vierde is om aan institusionele ontwikkeling en vermoëbou deel te neem om interkulturele bevoegdheid onder tersaaklike rolspelers te verbeter."

 Die drie paneelgesprekke by die simposium het onderskeidelik oor die temas “Die strewe na 'n beter toekoms in Afrika", “Die strewe na 'n beter toekoms wêreldwyd" en “UNESCO-leerstoele se bydrae tot 'n beter toekoms wêreldwyd" gehandel.

 Die strewe na 'n beter toekoms in Afrika

 Hierdie hoofsessie het uit drie praatjies oor die verband tussen die UNESCO-leerstoel en gendergelykheid, klimaatsoptrede en vredestigting bestaan.

 In die eerste praatjie het prof Amanda Gouws, bekleër van die SARChi-leerstoel in genderpolitiek aan die US, benadruk dat interkulturele bevoegdheid met 'n feministiese sorg-etiek moet gepaardgaan. “'n Feministiese sorg-etiek word gekenmerk deur sorgsaamheid, responsiwiteit, verantwoordelikheid en bevoegdheid. 'n Sorg-etiek gaan oor verhoudings en vereis dat ons luister na die behoeftes van diegene vir wie ons sorg. Eweneens behoort interkulturele bevoegdheid met relasionaliteit in verband gebring te word sodat ons ander se kulture kan begryp, en verstaan hoe ons in verhouding tot ander leef. Dít weerspreek die liberale gedagte van die outonome individu, want ons almal behoort tot gemeenskappe en ons almal leef in verhouding tot mekaar. Interkulturele bevoegdheid spruit uit die idee van ubuntu. Eers wanneer ons erken dat ons almal verbind is, sal ons tot die welvaart van Afrika kan bydra."

 

Vir die tweede praatjie het prof Guy Midgley, waarnemende direkteur van die Skool vir Klimaatsverandering by die US, oor klimaatsoptrede gesels en gesê die UNESCO-leerstoel sal van groot waarde wees om in klimaatsverband 'n beter toekoms vir Afrika te skep. “Suider-Afrika kan uitsien na 'n era van volhoubare ontwikkeling met 'n gesonde bevolkingsdemografie en goeie ekonomiese vooruitsigte, mits dit reg bestuur word. Nietemin is ons sosiaal-ekologiese stelsels in Afrika in groot gevaar weens klimaatsverwante invloede en onvanpaste aanpassings- en temperingsreaksies wat die res van die wêreld op ons afdwing, veral ten opsigte van grondgebruik.

 

“Internasionale finansiers ken veels te min bystand aan hierdie streek toe. Ons streek moet sy eie skamele hulpbronne gebruik om 'n wêreldklasbydrae tot internasionale kennis te handhaaf. Die streek behoort beter beloon te word, want ons wetenskap dra by tot die wêreldwye kennisbasis oor klimaatsverandering en -aanpassing. Suider-Afrikaanse wetenskap in die besonder lewer 'n wesenlike bydrae tot die wêreld se kennis oor klimaatsverandering."

Die derde aanbieding deur me Sarah Richmond, senior bestuurder by US Internasionaal, was oor die tema van vredestigting en die kernrol van internasionaliseringspraktisyns om interkulturele bevoegdheid te ontwikkel. “Een van die hoofbeginsels van UNESCO se werk is om 'n nuwe sosiale kontrak te skep, veral wat onderwys, diversiteit en begrip betref. En dít is waarom ons, as praktisyns by US Internasionaal, so opgewonde is daaroor om as gasheer vir hierdie leerstoel op te tree. Met ons unieke interkulturalisme, multidiversiteit en onderrig kan ons met verskillende studente, kurrikulums, organisasies en instellings in gesprek tree oor die mees basiese boustene van wedersydse begrip, wat ons en die medebekleërs van die UNESCO-leerstoel in staat sal stel om 'n beter toekoms vir Afrika, sáám met Afrika te bou," het sy gesê.

 

Die strewe na 'n beter toekoms wêreldwyd

Van die US se internasionale vennote wat die Universiteit se aansoek om die UNESCO-leerstoel ondersteun het en ook met die leerstoel sal saamwerk, het in die tweede simposiumsessie as sprekers opgetree.

 

Dr Maureen Vandermaas-Peeler, 'n professor in Sielkunde en direkteur van die Sentrum vir Navorsing oor Globale Skakeling aan Elon-universiteit, Verenigde State, het gesê haar sentrum se doelwitte strook goed met die oogmerke van die UNESCO-leerstoel omdat hulle ook samewerking aanmoedig, vennootskappe bou en beste praktyk vestig.

 

Sy het spesifiek melding gemaak van 'n mentorskapsinisiatief van die Amerikaanse Raad op Onderwys, waarvoor sy by Elon-universiteit die leier was. “Mentorskap maak saak. Dit is 'n uiters belangrike manier om voorgraadse onderwys van gehalte op die voorgrond te stel. Daar is die afgelope paar dekades heelwat navorsing gedoen, en daar is bewys dat studente wat leiding van 'n mentor ontvang meer geneig is om later in hulle werk te floreer en sukses te behaal.

 

“Ons het ook twee verskillende dinkskrums gehou wat ons die verskillende lae van onderwyspraktyke help verstaan het. Die deelnemers het drie behoeftes uitgelig, naamlik dié aan groter toegang tot wêreldgerigte voorgraadse navorsing onder leiding van mentors, sterker interkulturele leer, en die oorbrugging van kennisleemtes."

 

Mnr Milton Nyamadzawo van die Instituut vir Ekonomie en Vrede in Harare, Zimbabwe, het gesels oor 'n samewerkingsprojek met UNESCO waarin interkulturele bevoegdheid 'n rol gespeel het om politieke onstabiliteit die hoof te bied. “Die UNESCO-inisiatief genaamd Enabling Intercultural Dialogue is in vennootskap met die Instituut vir Ekonomie en Vrede ontwikkel om die kennisleemte oor interkulturele bevoegdheidsgesprekke te oorbrug en doeltreffender gesprekvoering te ondersteun. Noudat die Enabling Intercultural Dialogue-raamwerk bekend gestel is, wil UNESCO graag voortgaan om interkulturele bevoegdheidsgesprekke uit te brei deur middel van 'n gespreksteunfasiliteit. Hulle beplan ook 'n reeks proewe in verskillende lande om vermoëbou en beleidsbystand te ondersteun," het hy gesê.

 

Ook me Orla Quinlan, 'n verteenwoordiger van die Internasionale Onderwysvereniging van Suid-Afrika (IEASA) en direkteur van die Internasionale Kantoor by Rhodes-universiteit, het aan die sessie deelgeneem. As 'n vennoot van die UNESCO-leerstoel, sal IEASA 'n interkulturele netwerk in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor help bou. Quinlan het die belangrike rol van internasionale onderwys in die ontwikkeling van interkulturele bevoegdheid by studente onderstreep. Sy het klem gelê op die behoefte daaraan om interkulturele bevoegdheid met hoëronderwyskurrikulums te integreer en akademici se beroepsontwikkeling ten opsigte van interkulturele bevoegdheid te ondersteun.  

 

UNESCO-leerstoele se bydrae tot 'n beter toekoms wêreldwyd

 

Die finale simposiumsessie het as vertoonvenster gedien vir die werk wat wêreldwyd ten opsigte van interkulturele bevoegdheid gedoen word deur van die internasionale UNESCO-leerstoele wat die US se leerstoelaansoek ondersteun het.

 

Prof Joanna Hughes, die bekleër van die UNESCO-leerstoel in gemeenskaplike onderwys vir vredestigting en sosiale geregtigheid aan die Queens-universiteit, Belfast, het meer vertel oor haar werk op die gebied van gemeenskaplike onderwys in Noord-Ierland. Volgens Hughes verwys 'gemeenskaplike onderwys' na 'n beleid en praktyk wat samewerking en hulpbronuitruiling tussen skole uit verskillende godsdienstige en kulturele omstandighede aanmoedig en fasiliteer. Die doel is om versperrings tussen verskillende gemeenskappe uit die weg te ruim, skeiding te verminder, en gemeenskapsverhoudinge te verbeter. Dit word beskou as 'n manier om versoening aan te help en 'n meer inklusiewe en eensgesinde samelewing in Noord-Ierland te skep.

 

“'n Aantal opvoedkundiges het omstreeks 2004 byeengekom om te dink oor wat in die onderwysstelsel gedoen kan word om geleenthede te probeer skep vir kinders om bymekaar te kom, en dís hoe die idee van gemeenskaplike onderwys ontstaan het. Gemeenskaplike onderwys gebeur wanneer skole op verskillende maniere vennootskappe smee, soos deur gesamentlike buitekurrikulêre aktiwiteite, gemeenskaplike onderwyserontwikkeling, en onderwyseruitruilprogramme," het sy verduidelik.

 

Prof Marion Keim, bekleër van die UNESCO-leerstoel in sport, ontwikkeling, vrede en Olimpiese onderwys aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), het gesê sy gebruik haar passie vir sport as 'n instrument vir vredestigting en ontwikkeling. Sy is die voorsitter van die UWK se Sentrum vir Sportwetenskap en -ontwikkeling, “die enigste sportsentrum in Afrika wat nie op prestasie of sportbestuur konsentreer nie, maar op die konsep van ontwikkeling en vrede". In dié hoedanigheid het sy projekte soos The Case for Sport – 'n studie oor die nasionale impak van sport – van stapel gestuur. “Ons het bewys dat sport in die Wes-Kaap meer geld vir die provinsie inbring as toerisme. Dít het die politici laat regop sit en meer geld in sport- en vredesinisiatiewe laat belê. Die studie duur voort in samewerking met die provinsiale regering," het Keim gesê. Sy het bygevoeg dat hulle ook in 2014 'n projek oor sport- en ontwikkelingsbeleid in Afrika saam met UNESCO begin het, wat Afrikalande volgens hulle sportbeleide karteer.

 

Ander internasionale vennote wat aan hierdie sessie deelgeneem het, was dr Jorge Gonzales, bekleër van die UNESCO-leerstoel in interkulturele gesprek by Universidad Nacional de Colombia, en prof Helena Marujo, bekleër van die UNESCO-leerstoel in onderwys vir globale vredesvolhoubaarheid aan die Universiteit van Lissabon in Portugal.

Die UNESCO-leerstoel in interkulturele bevoegdheid is amptelik op 16 Augustus by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing bekend gestel saam met die UNESCO-leerstoel in komplekse sisteme en transformerende Afrikatoekomste, wat deur prof Rika Preiser en me Tanja Hichert beklee word.