Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Elmi Muller se werk het lewens gered, beïnvloed steeds regs- en gesondheidsorgbeleid
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 30/08/2023

Prof Elmi Muller, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch, het Dinsdag 29 Augustus 2023 haar intreerede gelewer. Die titel van haar rede was “Vlietende oordenkings van pyn, die dood, en chirurgie".

Muller het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe haar baanbrekerswerk as oorplantingschirurg baie lewens gered het en steeds ʼn impak op regs- en gesondheidsorgbeleid wêreldwyd het.

Voordat jy Dekaan geword het, het jy as ʼn oorplantingschirurg gewerk. Vertel ons meer van jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld belang gestel het.

Nadat ek my mediese graad behaal het, het ek ʼn loopbaan in chirurgie gevolg vanweë my aangetrokkenheid tot die onmiddellike bevrediging en praktiese betrokkenheid wat dit bied. Ek wou nie ʼn algemene praktisyn of internis word nie, omdat ek ontdek het ek is inherent te ongeduldig om lank vir kliniese resultate en verbetering van pasiënte te wag. Met chirurgie kry jy jou resultate dieselfde dag – jy kan amper dadelik sien watter verskil jy aan die pasiënt gemaak het.

My kreatiewe sy het aanklank gevind by die veld van chirurgie, wat ʼn meer praktiese kant het as die meeste ander geneeskundevelde.

Die pad na oorplanting het in 2005, ná die voltooiing van my chirurgiese eksamens, vir my oopgegaan. Om my loopbaan verder in die oorplantingveld voort te sit was ʼn dwingende keuse: dis ʼn boeiende veld met ʼn menigte verdienstelike pasiënte wat verwikkelde samewerking verg. Oorplanting sluit verskeie fasette in: die chirurgiese aspek, noukeurig en bevredigend; asook ingewikkelde politieke dimensies waarby ek betrokke was deur publieke bewustheid te verhoog, etiese orgaantoewysingsbeleide te formuleer en orgaanhandel te bekamp. Hierdie kwessies het my geboei.  

Die wetenskaplike sfeer van oorplantingsimmunologie, die snypunt daarvan met geneeskunde en aansteeklike siektes, voeg nog ʼn vlak tot hierdie veld toe. My navorsing fokus op die kliniese uitkomste van pasiënte wat oorplantings ontvang het, die genuanseerde dinamika van MIV binne oorplanting, asook breër aangeleenthede soos orgaanhandel en billike toegang tot oorplantingsorg.

My bydrae staan uit vanweë die wêreld se eerste nieroorplantings van MIV-positiewe skenkers na MIV-positiewe ontvangers, wat ek in 2008 uitgevoer het.

Daarbenewens het my rol in die Verklaring van Istanbul-groep my betrokkenheid as ʼn klinikus-navorser onderstreep deur die aanpak van kwessies van orgaanhandel en etiese regulasies en opvoeding oor hierdie kwessies in baie dele van die wêreld. Ek het ʼn deurslaggewende rol as ʼn Afrika-gebaseerde klinikus-navorser gespeel om die ingewikkelde landskap van orgaanregulering in lyn met globale pogings aan te pak.

As jy jou reis as ʼn oorplantingschirurg betrag, hoe sou jy die relevansie van jou navorsing oor oorplanting beskryf?

Toe ek my loopbaan as oorplantingchirurg begin het, is mense wat met MIV geleef het, nie as geskikte dialise- of oorplantingskandidate beskou nie. Dit het dikwels gebeur dat pasiënte hul MIV-status eers ontdek het wanneer hulle simptome van nierversaking getoon het. In 2008 was ek die eerste chirurg wat MIV-positiewe skenkers vir oorplantings in MIV-positiewe ontvangers gebruik het.

Dié navorsingsgedrewe, baanbreker-oorplantingsprosedures van MIV-positiewe mense na MIV-positiewe pasiënte het nasionaal en internasionaal opslae gemaak. Plaaslik het dit die transformasie van dialise- en oorplantingsbeleide vir MIV-positiewe pasiënte meegebring. Voor hierdie inisiatief was sulke pasiënte in Suid-Afrika van hierdie intervensies uitgesluit. Internasionaal het hierdie werk ʼn onderwerp van bespreking op talle konferensies geword, waaronder die American Transplant Conference, die Transplant and Infectious Disease Conference en die Transplantation Society Conference.

Mettertyd, soos was die projek uitgebrei het, het my multidissiplinêre rol as ʼn klinikus-navorser na verskeie gespesialiseerde byeenkomste uitgebrei, insluitend tegniese chirurgiese vergaderings, simposiums vir aansteeklike siektes, immunologie-gefokusde geleenthede, virologiese konferensies en byeenkomste wat op etiek gefokus het.

My bydraes het ʼn deurslaggewende rol gespeel om beleid en wetgewing wêreldwyd te rig. Van groot belang is dat die uitkomste van my kliniese navorsing ʼn direkte invloed gehad het op die Hope Act, wat deur pres Barack Obama onderteken is en wat oorplantings van MIV-positiewe skenkers in die VSA moontlik gemaak het.

Ek was van 2016 tot 2018 Voorsitter van die Deklarasie van die Istanbul-groep. Hierdie rol het gelei tot my betrokkenheid by die opdatering van die Deklarasie van die Istanbul (DOI), ʼn deurslaggewende dokument wat globale gesonheidsorgbeleid rig wat etiese skenkings van lewende en afgestorwe skenkers betref. My mede-voorsitterskap en bestuur van die taakmag het gelei tot die 2018-hersiening van die DOI, ʼn transformerende inisiatief wat in pulikasies soos Transplantation en Kidney International bespreek word.

Hierdie poging om ʼn impak op regs- en gesondheidsorgbeleid op ʼn internasionale skaal te hê gaan voort. My betrokkenheid by die wêreldwye oorplantingslandskap blyk voorts uit my dekade lange lidmaatskap van die Uitvorende Komitee van die internasionale Transplantation Society (TTS) en my huidige rol as President van die vereniging. Hierdie posisie het my in staat gestel om talle opvoedkundige en navorsingsgerigte byeenkomste wêreldwyd te stuur.

Om die Dekaan van ʼn fakulteit te wees, kan op die beste van tye uitdagend wees. Wat hou jou aan die gang wanneer dinge moeilik raak?

Ek is gelukkig om ʼn ongelooflike ondersteunende man te hê wat instrumenteel in die vorming van my loopbaantrajek was. En dan is daar my twee seuns wat die kuns bemeester het om my ego in toom te hou met hul vlymskerp humor en geoefende oogrolle. My huis is my toevlugsoord, waar ek dit geniet om eksperimente in die kombuis te doen en my plante te probeer pamperlang om te groei sonder om vir hulle motiveringstoesprake te gee.

Ons gesin se buitelugeskapades is soos episodes van ʼn realiteitsprogram: ons versus die natuur, met stap, swem en stranduitstappies as die hoogtepunte. Dan is daar Addie, ons bulterriër, wat baie charisma het ... En laastens is daar ons kat, vernoem na my man, wat daarop aandring om ʼn stukkie gebotterde roosterbrood vir ontbyt te deel.

Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?

Ek vind groot bevrediging in die wete dat ek positiewe verandering kan bewerkstellig en stelsels en bedrywighede binne die Fakulteit kan verbeter en optimaliseer. Ek hou daarvan om met my kollegas te kommunikeer, om aan stimulerende gesprekke deel te neem en ek verwelkom die diversiteit van take wat oor my pad kom.

My interaksies met studente is nie so gereeld as wat ek wil hê dit moet wees nie. Ek het ʼn diepe waardering vir hierdie interaksies, want dit bring vreugde en ʼn gevoel van vervulling. Ek streef proaktief daarna om meer geleenthede te soek om met studente te skakel.

Ek probeer om uitdagings doeltreffend aan te pak en goed ingeligte besluite te neem. Om te weet dat my besluite die weg vir vordering in verskeie werkplekke kan baan en individue in hul professionele reis kan help, is werklik lonend.

Jy het jou as ʼn leier in gesondheidsorg en die akademie onderskei. Wat is jou boodskap aan jong, ambisieuse vroue?

Ek gebruik gereeld die term “kompartementaliseer" in my gesprekke. Veral wanneer ek met jong vroue praat, sal ek die belangrikheid beklemtoon om ʼn duidelike grens tussen hul professionele en persoonlike sfere te handhaaf. Gedurende werksure moet die fokus enkelvoudig op die taak op hande wees. Wanneer jy tuis is, word dit noodsaaklik om jou los te maak van werkverwante invloede wat buite jou beheer is.

Dit het gelei tot praktiese besprekings oor die instelling van doeltreffende stelsels, soos betroubare kindersorgreëlings.

Nog ʼn stukkie raad wat ek gereeld uitdeel, is die groot belang daarvan om die regte lewensmaat te kies. Vir my het dit behels dat ek ʼn individu ontdek het wat nie net liefde en ondersteuning bied nie, maar ook ʼn konstruktiewe rol speel in my veeleisende loopbaan, wat gereeld lang ure en aansienlike verantwoordelikhede behels. Ek erken dat daar baie gevalle was waar my verwagtinge baie hoog was ... Die essensie behels om ʼn harmonieuse balans te vind en met mekaar verbind te bly.

In wese kom dit daarop neer of twee individue naatloos as ʼn span kan funksioneer. Natuurlik bevind almal hulleself nie in ʼn verhouding met iemand andersnie en moet ons almal nie noodwendig kinders grootmaak nie, maar ons soek almal ʼn vorm van ʼn ondersteuningsnetwerk – individue wat as klankborde en bronne van aanmoediging kan dien, mense wat ons vir ons outentieke self en ons navigasie deur die lewe kan waardeer en toejuig .

My belangrikste raad is om getrou aan jouself te bly. Die lewe kry betekenis wanneer dit oor alle dimensies heen vervullend is en dit beteken om nooit ʼn kompromis oor jou identiteit en wese aan te gaan nie.

Vertel ons iets opwindends omtrent jouself wat ander mense nie sal verwag nie.

Ek het vroeër klavier en orrel gespeel. Ek beplan graag buitemuurse aktiwiteite soos staptogte, maar ek moet erken ek raak effe knorrig en prikkelbaar wanneer die son begin brand. Hitte is nie my vriend nie en ek is nie besonder lief vir snikhete toestande nie.

Tydens ʼn gesinsvakansie in Livigno in 2018 kon ek ʼn blou skihelling bemeester – ek het nie gedink dit is moontlik nie. My balans is pateties en dit was derhalwe g'n geringe prestasie nie. Ek het nie ʼn plakboek vol buitengewone verhale nie, maar die bemeestering van daardie ski-helling is ʼn bewys dat ek my gemaksones kan verlaat om oomblikke van opwinding te verwelkom.

Hoe bring jy jou vrye tyd deur?

Ek geniet die gerief van die huis en vind behae in die skep van interessante en nuwe disse, die versorging van my tuin, om Kersfees- en verjaarsdagbyeenkomste te reël, of bloot ʼn eenvoudige naweek in die natuur of op die strand deur te bring.

Om saam met my geliefdes aan aktiwiteite deel te neem, bring vir my groot vreugde, of dit nou saam met my gesin of my vriende is. Om nuwe resepte te verken is ʼn passie en ek geniet dit om met ʼn verskeidenheid van kombuisapparate en tuingereedskap te eksperimenteer.​