Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch brei astronomie-navorsingskapasiteit uit
Outeur: Faculty of Science (media & communication)
Gepubliseer: 29/08/2023

Die Departement Fisika by die Universiteit  Stellenbosch (US) se navorsingskapasitieit in astronomie en astrofisika word uitgebrei met die aanstelling van Prof Yin-Zhe Ma, 'n internasionaal erkende navorser op die gebied van berekeningsastronomie en kosmologie.   

Prof Ma, wat in September 2023 by die departement sal aansluit, fokus ook op kosmiese mikrogolf agtergrondstraling, die melkwegspesifieke snelheidsveld, epog van herionisasie, sterrestelselopname, neutronsterre, soeke na donker materie, en swart gate. Hy was betrokke by die Europese Ruimteagentskap se Planck missie om die oorblyfselbestraling van die Oerknal te bestudeer; en Australië se 6dF Galaxy Survey projek om die nabygeleë heelal te karteer. Tans lei hy 'n navorsingspan wat deelneem aan 'n Suid-Afrika-VSA samewerkingsprojek: die Hydrogen Epoch Reionization Array (HERA) en die Legacy Survey of Space and Time (LSST) projek by die Vera C. Rubin Sterrewag in Chili. Hy is ook betrokke by Suid-Afrika se MeerKAT-projek en die Square Kilometre Array (SKA) wetenskapswerkgroep, asook by China se FAST teleskoop. Hy het reeds meer as 120 navorsingsartikels gepubliseer in ewekniebeoordeelde vaktydskrifte in astronomie en astrofisika, en is reeds meer as 24 000 keer hieruit aangehaal.  

Prof Ma sê astrofisika en kosmologie is onder die navorsingsvelde in fisika wat die vinnigste groei. In hierdie opsig het Suid-Afrika groot geld belê in astronomie- en astrofisikanavorsing asook in infrastruktuur, soos die MeerKAT teleskoop, die HERA projek en LSST opname, én in die menslike kapasiteitsontwikkeling wat benodig word op hierdie gebied.  

Met Prof Ma se aanstelling beoog die Departement Fisika om 'n astrofisika- en kosmologieprogram te vestig wat sal aansluit by bestaande aktiwiteite van die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke – soos data-analisetegnieke om die groot data van teleskope te kan hanteer – asook die werk van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) in Elektromagnetiese Stelsels en EMI Mitigation vir SKA in die  Fakulteit Ingenieurswese.

“Met hierdie nuwe inisiatief hoop die US om by te dra tot die opleiding van die volgende generasie navorsers in berekeningsastrofisika en om interdissiplinêre samewerking tussen ons navorsers in ingenieurswese, fisika en datawetenskap uit te brei," sê Prof Sibusiso Moyo, Adjunk-visekanselier Navorsing, Innovasie en Nagraadse Steun.

Prof Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe moedig veral MSc- en PhD- studente aan om Prof Ma direk te kontak as hulle by die nuwe astronomie- en astrofisika-inisiatief betrokke wil raak.  

Prof Shaun Wyngaardt, hoof van die department Fisika, sê hulle verwelkom Prof Ma se entoesiasme en die bydrae wat hy sal lewer tot die department en die breër fisikagemeenskap in Suid-Afrika.  

Meer oor Prof Ma

Prof Ma het fisika gestudeer aan die Nanjing Universiteit in China. Nadat hy sy MSc-graad verwerf het aan die Instituut vir Teoretiese Fisika by die Chinese Akademie vir Wetenskappe, het hy sy PhD in astronomie aan die Instituut vir Astronomie (IoA), Cambridge Universiteit verwerf, onder die studieleiding van Professors George Efstathiou en Anthony Challinor. Voordat hy die US aangesluit het, was Prof Ma 'n CITA Nasionale Genoot by die Universiteit van British Columbia, en 'n navorsingsgenoot by die Jodrell Bank Sentrum vir Astrofisika by Manchester Universiteit in die Verenigde Koninkryk. In 2015 is hy by die Universiteit van KwaZulu-Natal as senior lektor aangestel waar hy in 2021 bevorder is tot vol professor. Hy is in 2022 verkies tot lid van die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf).

Vir meer inligting oor die Departement Fisika se programme, navorsing en befondsinggeleenthede, besoek ons webwerf by: https://physics.sun.ac.za/