Om mans doeltreffend aan MIV-voorkomingspogings te laat deelneem, bly een van die grootste uitdagings in die veldtog om die MIV-epidemie in Afrika suid van die Sahara te beëindig.
Professor Frank Tanser, 'n uitgelese epidemioloog en die Direkteur: Bevolkingsgesondheidsinnovasie by die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI) aan die Universiteit Stellenbosch (US), het pas 'n toekenning van R40 miljoen van die Nasionale Gesondheidsinstitute (NGI) ontvang om 'n innoverende gemeenskapsverewekansigde beheerde proefneming in die ooste van Zimbabwe uit te voer.
Die proefneming is daarop gemik om mans se deelname aan MIV-voorkoming te verhoog en nuwe MIV-infeksies onder mans te verminder.
Die kern van die proefneming, wat as 'n “proefneming wat manlike eweknienetwerke inspan om deelname aan MIV-voorkoming aan te vul" of die “Imperative-proefneming" bekend staan, is die bevordering van pre-blootstelling-profilakse (PrEP) as 'n hoogsdoeltreffende metode om MIV-infeksie te voorkom. PrEP behels die gebruik van antiretrovirale medikasie deur individue wat 'n hoë risiko loop om die virus op te doen.
Deur 'n daaglikse regimen te volg, kan mans hulle kanse om MIV-infeksie op te doen, aansienlik verminder, wat hulle in staat stel om die beheer oor hulle seksuele gesondheid oor te neem en uiteindelik die oordrag van MIV na hulle maats te voorkom.
Die span navorsers sal in samewerking met die Manicaland Sentrum vir Openbare Gesondheid in Zimbabwe en ander internasionale vennote van Afrika, die Verenigde Koninkryk, Duitsland en die VSA poog om die bevolkingsuitwerking van die verspreiding van MIV-selftoetse deur manlike sosiale netwerke tesame met innoverende gemeenskapsgebaseerde ondersteuning oor die aanvaarding van PrEP te bepaal.
“Die vlak van nuwe MIV-infeksies is in baie Afrika-lande nog steeds onnodig hoog, maar ons beskik oor die kennis en instrumente om 'n merkbare verskil te maak. Deur met mans met behulp van innoverende strategieë soos PrEP in gesprek te tree, kan ons hulle bemagtig om hulle seksuele gesondheid te beskerm en uiteindelik die voorwaartse oordrag na hulle maats te voorkom en sodoende te help om die epidemie te bedwing," sê Tanser. Die Imperative-proefneming is die eerste om die uitwerking van hierdie soort strategie op die aanvaarding van PrEP volgens skaal te meet.
Die proefneming wil moeilikbereikbare mans deur hulle eweknienetwerke betrek en hulle in staat stel om hulleself vir MIV te toets. Dit sal meer as 3,500 mans wat in 44 gemeenskappe in Oos-Zimbabwe woon, werf, Dit gebruik innoverende gemeenskapsondersteuningstrukture om hindernisse oor die aanvaarding van PrEP uit te skakel deur die behoefte aan besoeke aan klinieke te verminder.
Net soos baie ander lande suid van die Sahara, staar Zimbabwe ook die harde werklikheid van die MIV-epidemie in die gesig. Aangesien 'n aansienlike gedeelte van die bevolking deur die virus geraak word, is innoverende benaderings dringend nodig om die verwoestende uitwerking van die virus teen te werk. Deur manlike eweknienetwerke vir die verspreiding van MIV-selftoetse aan te wend, kan mans bemagtig word om beheer oor hulle seksuele gesondheid te neem.
Deur innoverende tegnologie en gemeenskapsgedrewe inisiatiewe te kombineer, daag die span die bestaande stigma rondom MIV-voorkoming uit en bemagtig dit mans om ingeligte besluite oor hulle seksuele welstand te neem. Aanvanklike verspreiders wat deur die span geïdentifiseer sal word, sal 'n MIV-selftoetsingpak vir persoonlike gebruik ontvang, asook bykomende pakke om onder hulle eweknieë te versprei. Dit sal hopelik 'n rimpeluitwerking ten opsigte van bewustheid en voorkoming regdeur die gemeenskap hê.
Met die potensiaal om MIV-voorkomingsbenaderings in hoëvoorkomsstreke te omvorm, beskik die projek oor die vermoë om menige lewens te red en lande in Afrika na 'n toekoms te lei waar die risiko om MIV op te doen, gering is, verduidelik Tanser.
“Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie se MIV-data vir Afrika was daar in 2018 1,1 miljoen nuwe MIV-infeksies in Afrika. Teen 2021 was daar na raming 25,6 miljoen mense wat in die Afrika-streek met MIV saamleef. Afrika suid van die Sahara is steeds een van die gebiede met die hoogste infeksie in Afrika. Die voorkoming van MIV onder mans sal help om die las op Afrikalande in die lange duur te verlig. Ek wil prof Tanser gelukwens met sy sukses om die toekenning te ontvang. Dit sal bydra tot ons navorsingsuitnemendheid en relevansie tot die samelewing deur toepassingsnavorsing en skaal hiervan in Afrika en wyer," het prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie aan die US, in reaksie gesê.
“Die navorsingsbevindings is belowend vir die ontwikkeling van 'n veralgemeenbare manlike ewekniegebaseerde MIV-selftoetsing- en PrEP-aanvaardingsmodel wat in ander omgewings met 'n hoë voorkoms van MIV toegepas kan word en sodoende hoop gee vir vordering in die wêreldwye stryd teen MIV," het Tanser ten slotte gesê.