Kontak:Simbongile Ntwasa
- 021 808 3589
Plek: MS Team: Click here to join the meeting
U word genooi na die vyfde OLA (Onderrig-Leer-Assessering) Auxin seminaar van 2024, aangebied deur die Sentrum van Onderrig en Leer:
Spreker: Dr. Kathryn Smith
Onderwerp: Tussen Ateljee en Laboratorium: Die gebruik van kunsgebaseerde metodes vir kuns-wetenskap- en interdissiplinêre onderrig en leer aan die US en verder
Datum: 23 Julie 2024
Tyd: 13:00-14:00 RSA Tyd
Plek: Aanlyn by MS Teams Click here to join the meeting
Opsomming van seminaar
Net meer as tien jaar gelede het ek die proses van nisspesialisasie in forensiese gesigsafbeelding begin, ná amper twintig jaar as ʼn praktiserende kunstenaar, kurator en opvoeder in ateljeekuns-praktyk binne die Suid-Afrikaanse hoëronderwyskonteks. Hierdie drie aspekte van my professionele identiteit het min beteken (of só het ek aanvanklik gedink) toe ek my as ʼn medestudent (hoewel 'ouer') en ervare opvoeder in ʼn wetenskaplaboratorium saam met meestal (baie) jong voorgraadse studente bevind het. Ná ʼn MSc en ʼn PhD, albei van Britse instellings, het ek na ateljeekuns-onderwys aan die US teruggekeer, met die dwingende begeerte om studente by radikale weetgierigheid betrokke te kry; gate te steek in die grens tussen kunsateljee en wetenskaplaboratorium; en ʼn breër begrip van die rol van ateljeekuns-onderwys in die akademiese projek te bevorder.
Hierdie aanbieding sal, deur verwysing na spesifieke onderrig- en leerprojekte, my persoonlike reis weerspieël van wissel tussen leerkrag en student en weer terug en hoe die ervaring van 'wetenskap doen' uit die perspektief van ʼn kunstenaar vars pedagogiese geleentheid in albei wêrelde moontlik gemaak het. My omgang met studente in die visuele kunste en wetenskappe het vir my gewys hoe kennis binne hierdie paradigmas gekonstrueer word, saam met die vooroordele, blinde kolle en mites wat elkeen oor die ander handhaaf. Dit het ʼn lopende haalbaarheidstudie, genaamd 'Die Aankweek van die Derde Kultuur', geïnspireer, wat die vraag na kuns-wetenskap-interaksies aan die US verken.
Biografie van spreker
Kathryn Smith (PhD, UMU) is ʼn interdissiplinêre visuele kunstenaar en 'prakademikus' wat belang stel in hoe kennis geproduseer en gedeel word wanneer kuns, wetenskap, geskiedenis en tegnologie kruis. Haar kurator- en forensiese werk het saamgekom as aanvullende uitdrukkings van noodsaaklike sorg vir liggame, infrastrukture en niemenslike goed, deur haar werk oor uitstallings-, argief-, erfenis- en humanitêre kontekste heen. Sy is ʼn medeprofessor en voorsitter van die Departement Visuele Kunste aan die Universiteit Stellenbosch, besoekende navorsingsgenoot by Face Lab (Liverpool John Moores Universiteit) en adjunk-kurator by die A4 Kunsstigting in Kaapstad.
Meer inligting is beskikbaar van Mnr Simbongile Ntwasa by sim@sun.ac.za .