Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium en Hennie Joubert Nasionale Klavierkompetisie – Vanad 1 tot 7 April 2024 by die Endler Saal in Stellenbosch.
Begin: 01/04/2024, 13:00
Einde: 07/04/2024, 13:00
Kontak:Vicky Davis - 021 808 2358
Plek: Endler Hall

​Die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium -reeks, wat sedert 2006 tweejaarliks by Stellenbosch Universiteit plaasvind, poog om die voorste klavieronderwysers en studente bymekaar te bring vir 'n fees van lesings, publieke meestersklasse en konserte.  Die simposium is bekend daarvoor dat dit vele nuwe internasionale kunstenaars aan die Suid-Afrikaanse konsertpubliek bekend gestel het, en bied aan plaaslike leerders 'n ongeëwenaarde geleentheid waarvoor hulle andersins oorsee moet reis. Die Hennie Joubert Nasionale Klavierkompetisie is in 1984 gestig om jong pianiste vir groter kompetisies en 'n konsertloopbaan voor te berei.  Dit word sedert 2012 onder die vaandel van die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium aangebied, in samewerking met die Kaapse Filharmoniese Orkes, onder leiding van maestro Bernhard Geuller wat die finaliste op 6 April in die Endler saal sal begelei.   

Die formaat van die Simposium is, soos gewoonlik gepak met openbare meestersklasse, lesings, en konserte. Alle konserte sal in die Endlersaal by die Musiekdepartement van die Universiteit Stellenbosch plaasvind. Die openingskonsert op Woensdag 3 April  word deur die internasionaal bekroonde konsertpianis Jan Jiracek von Armin gehou wat tans 'n gasprofessor aan die Elisabeth Universiteit in Hiroshima, Japan en ook 'n besoekende professor aan Yale Universiteit in die VSA is. Gehore kan op Vrydag 5 April na die Finse pianis Henri Sigfridsson se solouitvoering uitsien.  Sigfridsson is tans 'n Professor aan die Essen Folkwang Universiteit.  Hy was onder meer 'n medaljewenner in die Geza Anda Klavierkompetisie in Zurich in 2000 en sy gewildheid onder gehore het spoedig 'n loopbaan in belangrike konsertsale wêreldwyd verseker.     

Vir diegene wat iets ongewoons soek sal die immergewilde Klavierextravaganza op 7 April nie teleurstel nie.  Die gehoor sal getrakteer word met interessante klavier ensembles van populêre Klassieke werke wat later 'n klimaks bereik met 10 klaviere gelytydig op die Endlersaal se verhoog. Suid-Afrika se top jong pianiste sal  op 1 en 2 April tydens solo rondtes vir die geleentheid meeding om in die finaal van die  Hennie Joubert Klavierkompetisie saam met die KFO op te tree. Die solo rondtes kan gratis bygewoon word.  

Alhoewel die fees in die verlede op universiteitstudente toegespits is, verbreed die fokus om in 2024 om ook vir hoẽrskool leerlinge sowel as musiekonderwysers toeganklik te wees. Inskrywings vir meestersklasse kan op die webwerf gemaak word en sluit op 15 Maart 2024.   

Kaartjies vir individuele vertonings, sowel as die opsie van `n volle fees pakket, is by Webtickets beskikbaar: https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1542834917