Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ALOV OLA Seminaar: 14 Maart 2024
Begin: 28/02/2024, 11:00
Einde: 28/02/2024, 11:00
Kontak:Dr Karin Cattell-Holden -
Plek: MS Teams

​U word genooi om die eerste kwartaallikse OLA (Onderrig-Leer-Assessering)-seminaar van 2024, aangebied deur die Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking, by te woon:

 

Spreker: Prof. Susan van Schalkwyk (Direkteur: Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys (“CHPE"), Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) (US Onderriggenoot)

Onderwerp: “Models of doctoral supervision in health professions education: process and power"

Datum: 14 Maart 2024

Tyd: 12:45-14:00

Plek: MS Teams: Klik hier om by die vergadering aan te sluit

 

Opsomming van seminaar

Doktorale studies is daarop gemik om die grense van wat bekend is uit te brei, met die doel om 'n kennisbydrae tot die veld waarin sulke studies onderneem word te maak. Kennis wat as waardevol beskou word deur diegene wat hoë aansien in die veld geniet, is inherent kragtig – dit rig die wetenskap en dra by tot die kanon. Die nastreef van sulke kennis staan sentraal in die doktorale onderneming wat gekenmerk word deur 'n proses van “wees en word" soos die student die oorgang na 'n gekose dissiplinêre gemeenskap maak – 'n gemeenskap wat gedefinieer word deur 'n stel norme en waardes wat oor die tyd heen ontwikkel is, en deur wat as kennis geld binne hierdie struktuur. Die begrip van die oorsteek van grense bied 'n lens waarmee hierdie oorgang verken kan word. Doktorale skryfwerk verteenwoordig byvoorbeeld 'n spesifieke grens waarmee studente moet omgaan soos hulle die korpus werk wat uit hulle akademiese ondernemings na vore kom probeer inskryf om uiteindelik kragtige skrywers te word (Van Schalkwyk & Jacobs, 2021). Die proses van studieleiding is sentraal in die doktorale reis en probeer hierdie omgang fasiliteer terwyl die integriteit van die dissiplinêre kanon terselfdertyd gehandhaaf word. Dit bring vrae na vore oor die aard van daardie studieleiding, die manier waarop dit georganiseer word, en hoe dit beoefen word.

In hierdie seminaar sal prof. Van Schalkwyk insigte beskryf wat verkry is uit werk oor doktorale studieleiding wat, onder meer, die ervaring van die ontvang van studieleiding, of die lei van andere, tydens 'n reeks onderhoude (sommige aanlyn) met 23 doktorale kandidate en 10 studieleiers in 10 lande verken het. Die voortdurend veranderende aard van die verhouding tussen studieleier en kandidaat, wat dryfvere vir nuwe modelle en benaderings insluit, sal gedeel word. Hierdie werk het implikasies vir die inisiëring van gesprekke oor doktorale studieleiding, die hersiening van die benaderings wat ons volg, en kritiese betrokkenheid by die begrippe van kennis en mag.

 

Biografie van spreker

Susan van Schalkwyk, M Phil, PhD., is Professor in Gesondheidsberoepe Onderwys en Direkteur van die Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys in die Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Afgesien van haar betrokkenheid by nagraadse studies, is twee hoofelemente van haar werk verbonde aan doktorale onderwys, en spesifiek doktorale skryfwerk, en kurrikulumvernuwing gebaseer op die transformatiewe-leerteorie. Susan is 'n B2 NRF-gegradeerde navorser en 'n Genoot van die internasionale “Association of Medical Educationalists" (AMEE). Sy het 'n US Onderriggenootskap in 2019 ontvang. Tans dien sy in die redaksies van twee toonaangewende joernale en is outeur of mede-outeur van meer as 90 ewekniebeoordeelde artikels en boekhoofstukke.

 

Verwysings

  • Van Schalkwyk, S; Jacobs, C. (2021). Borders and tensions in Doctoral Writing. In: Badenhorst C; Amell and B & Burford J. (eds). Re-imagining doctoral writing. WAC Clearing House: Colorado.