Kontak:Wiida Basson
-
Plek: Die Khaya Café, 39 Ryneveld Street
Die Stellenbosch Wetenskapskafee is 'n inisiatief van die Fakulteit Natuurwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch om gesprekke oor wetenskaplike kwessies in die openbare sfeer aan te moedig. Bywoning is gratis maar kom gerus betyds om 'n goeie sitplek te verseker.
Dinsdag 10 Oktober 18:00-19:00
Die oorsprong van tyd: Is daar dinge wat ons nooit sal verstaan nie?
On the Origin of Time verteenwoordig Stephen Hawking se finale teorie oor die oorsprong van die heelal en die ontwikkeling van lewe soos ons dit vandag ervaar. Is dit moontlik dat die wette van fisika nié so fundamenteel is nie, maar dat dit saam ontwikkel het soos wat die heelal vorm aangeneem het? Dr Anslyn John tree in gesprek met Prof. Yin-Zhe Ma oor dié onderwerp, buiteaardse lewe en wat ons nooit sal weet nie. Hulle is beide kosmoloë en astrofisici in die US se Departement Fisika.
Woensdag 11 Oktober 2023 18:00-19:00
Kunsmatige Intelligensie versus die menslike bewussyn: wie gaan wen?
Met die menslike brein as inspirasie, vorm neurale netwerke tans die elektroniese dryfkrag agter die revolusie in generatiewe kunsmatige intelligensie (KI). Is 'n toekoms wat deur super-intelligente sisteme beheer word, ons voorland? Of is daar iets anders aan die menslike bewussyn – soos intelligensie, kreatiwiteit en die siel – wat nie gekwantifiseer kan word nie? Willem Bester tree in gesprek met Prof. Bruce Watson, houer van die Capitec navorsingsleerstoel in toegepaste kunsmatige intelligensie, datawetenskaplike Dr McElory Hoffmann van Praelexis, en die bekende Stellenbosch-gebaseerde kliniese sielkundige Anton Böhmer.
Donderdag 12 Oktober 18:00-19:00
Daardie goggas wat (nog) nie doodmaak nie, sal jou (dalk) sterker maak?
Bakterieë, virusse, fungi en parasiete het oor biljoene jare die vermoë ontwikkel om in verskillende omgewings te oorleef. Nou het sommige van hierdie “super-goggas" begin om weerstandigheid teen natuurlike én mens-gemaakte antibiotika te toon. Prof. Ann Louw gesels met Prof. Marina Rautenbach van die US se Departement Biochemie, asook Prof. Andrew Whitelaw, hoof van die Afdeling Mediese Mikrobiology by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, oor hoe die wetenskaplike en geneeskundige gemeenskap hierdie sluimerende openbare gesondheidskrisis aanspreek.