Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Lostlitdag 2023
Begin: 18/08/2023, 10:00
Einde: 03/09/2023, 10:00
Kontak:Luigia Nicholas -
Plek: Rooiplein, Stellenbosch campus / Student Centre, Tygerberg campus

Ons vier op Vrydag 1 September die 29ste Loslitdag wat die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede (NRPG) in Suid-Afrika organiseer. Die tema vir 2023 is 'Deel 'n Glimlag' (Share a Smile). Die NRPG-webblad verwys na die bekende liedjie “You're never fully dressed without a smile" (“Sonder 'n glimlag is jy nog nie behoorlik aangetrek nie"): “Dis nou 'n deuntjie vir persone wat voortdurend uitdagings teëkom in 'n ongelyke wêreld. 'n Glimlag is die eerste skuif om hindernisse uit die weg te ruim en die gapings te oorbrug wat die samelewing daarstel. 'n Glimlag is 'n universele taal wat ondersteuning, 'n positiewe gesindheid en samehorigheid uitdruk. Dit kan hoop bring vir dié wat alleen voel; bevestig dat ander ons raaksien, ons stem hoor en ons waarde insien" (https://casualday.co.za/; vry vertaal).

Sedert dit in 1995 ingestel is, het Loslitdag R411 miljoen ingesamel, waarby meer as 600 organisasies sonder winsoogmerk en skole gebaat het. Elf gestremdheidseenhede aan Suid-Afrikaanse universiteite baat ook by die plakkers wat julle elke jaar koop. 'n Glimlag kos niks nie; maar deur R20 op 'n plakker te bestee, stel jy die NRPG in staat om organisasies te ondersteun wat diens aan persone met gestremdhede lewer.

Oor die afgelope jaar het die Universiteit Stellenbosch dit 'n prioriteitsaak gemaak om amptelik deel te neem. Vanjaar se reëlingspan bestaan uit die Eenheid vir Gestremdhede, die Transformasiekantoor, die Afdeling Studentesake op Stellenbosch sowel as by Tygerberg, die Eenheid vir Gelykwaardigheid, die Afdeling Menslike Hulpbronne se Eenheid vir Welwees, die SR, die TSR en Dis-Maties.

As opwarming vir Loslitdag hou ons die volgende twee kompetisies:

  1. Die US-departement wat die meeste kaartjies verkoop het – sorg dat jy 'n kwitansie kry wanneer jy jou inbetaling doen (by MHB of die betaalkantoor by Tygerberg of op Stellenbosch). Jy moet dit na disability@sun.ac.za e-pos om te kan inskryf. Verkope wat vir hierdie kompetisie in aanmerking kom, sluit op 31 Augustus. Groot pryse te wen!
  2. Stories wat harte warm laat klop en gesigte laat glimlag – nog 'n manier om 'n lekker prys te wen! Skryf in deur jou storie en foto wat harte warm laat klop en gesigte laat glimlag teen 25 Augustus 2023 na disability@sun.ac.za te e-pos. Ons plaas dit dan op ons sosialemediablad @sudisability op Instagram en Facebook, en die wenners is die stories en foto's wat die meeste gekyk word. Dus: kom kyk, hou daarvan en stuur dit aan!

Vir 1 September is daar verskeie Loslitdag-bedrywighede op die Stellenbosch- sowel as die Tygerberg-kampus om na uit te sien, soos gesigverfkuns en die oorhandiging van die pryse aan ons kompetisiewenners. Jy kan by die stalletjies kaartjies koop (R20 elk), en ons sal 'n inligtingtafel hê waar jy met personeel, studente en die Stellenbosch Werksentrum (SWS) kan kom gesels. Kom wys jou glimlag by die Loslitdag-inisiatief: op die stoep by die bankmasjien en buite die studentesentrum by Tygerberg, en op die Rooiplein op Stellenbosch.

As jy vooruit Loslitdag-plakkers (R20 elk) wil koop:

  • Besoek die MHB-ontvangstoonbank op Stellenbosch, Maandae en Woensdae vanaf 09:00 tot 14:00. Slegs kontant.
  • Betaal die bedrag op kostepuntnommer R6771 in, by die betaalkantoor op Stellenbosch of Tygerberg. Gebruik 'Loslitdag 2023' plus jou naam of departement as verwysing en kom kry jou kaartjie(s) op 1 September by die stalletjies.

Ons mikpunt is om 700 plakkers te verkoop. R9 van elke plakker wat verkoop word, is ten bate van ons begunstigde, Stellenbosch Werksentrum (https://www.stellenboschworkcentre.org.za/); die ander R11 gaan na die NRPG toe.

As jy meer inligting wil kry, e-pos ons by disability@sun.ac.za.​