Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
LOV-seminaar - Kurrikulumtransformasie in die wetenskap
Begin: 20/10/2022, 11:00
Einde: 20/10/2022, 12:00
Kontak:Lucy Lucks - (021) 808 3717
Plek: MS Teams

​Onderwerp

​Die moderne Westerse wetenskap is verstrengel met kolonialisme (Roy, 2018) en positivistiese paradigmas wat sosiaal gekonstrueerde kennis as irrelevant of minderwaardig beskou. Kwessies van dekolonialiteit en sosiale geregtigheid in die wetenskap is kompleks (Ally, 2018) en uitdagend om by tegniese kurrikulums in te sluit. Daarom het Marianne in haar TAU- (“Teaching Advancement at University"-)genootskapsprojek in 2021 probeer vasstel hoe personeellede en nagraadse studente in die US se WTIW- (wetenskap-, tegnologie-, ingenieurswese- en wiskunde-)fakulteite dekolonialiteit beskou en daarmee omgaan, in die lig daarvan dat die instelling se Transformasieplan spesifiek na Afrikanisering en dekolonisasie as vereistes in onderrig en leer (O&L) verwys. Institusionele etiekgoedkeuring is bekom (TL-2021-23895). Gesprekke met personeellede en nagraadse studente is opgeneem en getranskribeer. Ná 'n gegrondeteoriebenadering is getranskribeerde inhoud stelselmatig in drie iteratiewe rondtes vergelykende ontleding gekodeer. Die resultate beklemtoon die hindernisse waarvoor personeel ten opsigte van hierdie kwessies te staan kom, waaronder verwarring en angs, 'n veronderstelde gebrek aan sistemiese steun of erkenning vir transformerende O&L, en onvoldoende kennis oor hoe om verandering te implementeer. Om uitkomste van sosiale geregtigheid in wetenskaponderrig en -leer aan die US te bereik, moet personeel dus opgelei en ondersteun word in “kulturele bevoegdhede" (Demosthenous, 2013) en maniere om hulle eie én studente se stemme by kontrapuntale benaderings in te sluit. Die navorsingsbevindinge en -aanbevelings dra by tot die bestaande kundigheidsbasis oor dekolonialiteit in WTIW. Dit onderstreep ook hoe belangrik dit is om te sorg dat die US hom in sy Transformasiebeleid (tans in konsepvorm) “verbind tot die verbintenis" deur seker te maak dat personeel en studente toegerus word met, en erkenning ontvang vir, bevoegdhede wat Afrikanisering en dekolonisasie gedurende kurrikulumvernuwing prioritiseer om 'n waarlik transformerende en inklusiewe studenteleerervaring te bied.


Die Spre​ker

Dr Marianne McKay

Marianne is 'n senior dosent in Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) met 'n passie vir onderrig en leer (O&L) en die geheimenisvolle kuns en wetenskap van wynaroma. Sy beskik oor 'n BSc in Chemie en Geografie van die Universiteit van Kaapstad en 'n MSc (Agric) en PhD in Wynkunde van die US. Sy het voorheen in die bedryf gewerk as 'n analitiese chemikus en as bedryfsbestuurder van kliniese proewe en stawingsdienste vir farmaseutiese maatskappye. In 2000 keer sy terug na wynkunde en die akademie as dosent by Plumpton College, Brighton, Verenigde Koninkryk. By Plumpton ontwikkel sy 'n belangstelling in O&L en behaal in 2004 haar Nagraadse Onderwyssertifikaat. Sy is sedert 2007 terug in Suid-Afrika en verbonde aan die US. Marianne se navorsing handel oor uiteenlopende terreine, van rooksmake in wyn, tot dekoloniale leermetodologieë, en sintuiglike evaluering. Haar O&L-navorsing lê sterk klem op transformasie en dekolonialiteit in die wetenskap. Sy publiseer oor sowel wynkunde as O&L en word vir haar bydraes tot albei terreine erken. Marianne is al met 'n aantal onderrigverwante toekennings en genootskappe, sowel by die US as nasionaal, vereer.