Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Première Teaterfees
Begin: 19/07/2022, 18:00
Einde: 23/07/2022, 22:00
Kontak:Andre Gerber - 021 808 9677
Plek: Adam Small Auditorium

Premiere_Branding_2022.JPG​​

Die Universiteit van Stellenbosch Dramadepartement, met die ondersteuning van die ATKV, NATi bied weer hierdie jaar Première: ʼn teaterfees vir nuwe en opkomende kunstenaars aan. Hierdie fees is in 2018 geloods, en ná dit in 2020 ʼn breek moes neem, en in 2021 in ʼn aanlynformaat aangebied is, is die fees weer gereed om gehore in die teater te verwelkom.

Première is ʼn opwindende teaterfees eie aan Stellenbosch waar daar oorspronklike produksies deur jong, vernuwende teatermakers van die Universiteit Stellenbosch se Dramadepartement ontwikkel en opgevoer word. Daar is vanjaar meer as 60 studente by Première betrokke, wat onderskeidelik as regisseurs, skrywers, ontwerpers, verhoogbestuurders en akteurs optree.

In Maart is 25 produksievoorstelle aan ʼn paneel teaterdeskundiges voorgelê. Twaalf van hierdie voorstelle is uiteindelik gekeur om aan die fees deel te neem. Hierdie 12 produksies verteenwoordig ʼn breë spektrum style, tale, onderwerpe en temas.

Van 19 – 22 Julie word daar elke aand drie produksies in die Lab Teater by die Adam Small Teaterkompleks in Stellenbosch opgevoer, waarná ʼn paneel bekwame beoordelaars repliek sal lewer. Die beoordelaars vir 2022 is

  • Saartjie Botha, hoof van die Toyota US Woordfees,
  • Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi).
  • Prof. Petrus du Preez, voorsitter van die Universiteit Stellenbosch Dramadepartement,

Op Saterdag, 23 Julie word die top drie produksies teruggenooi om by die Première Curtain Call te speel. Na afloop van die aand, word verskeie pryse oorhandig en die wenproduksie van die jaar se fees, sal aangekondig word. Die pryse sluit in

  • Beste Regisseur
  • Beste Speler (Manlik en Vroulik)
  • Beste Speler in ʼn Ondersteunende Rol (Manlik en Vroulik)
  • Beste Nuwe Teks
  • Beste Ensemble
  • Beste Algehele Tegniese Versorging en Ontwerp
  • Beste Verhoogbestuur en
  • Beste Algehele Tegniese Prestasie.

Elke individuele wenner ontvang R2 000. Die wenproduksie ontvang ʼn kontantprys van R20 000. Hierdie produksie kry ook ʼn speelvak by die 2022/3 Toyota Woordfees. Verder ontvang die beste akteur, beste aktrise, en die volledige geselskap van die wenproduksie persoonlike portretfotografie van Nardus Engelbrecht – bekende fotograaf en teaterliefhebber -  vir hul professionele portefeuljes.

Die organiseerders van die fees, dr. André Gerber en Elana-Marié Snyman, beskryf Première as ʼn viering van die jong, energieke teatertalent van Stellenbosch. “ʼn Enorme deel van die professionele industrie is van die Stellenbosch Universiteit Dramadepartement afkomstig. Daar is nog altyd ʼn skeppingsgees onder die studente. Ons poog om hierdie jong talent aan Stellenbosch bekend te stel."

Teen slegs R50 per produksie, kan gehore deur dié jong teatermakers se unieke en uiteenlopende produksies vermaak en uitgedaag word. Gehore is ook welkom om ná die drie produksies na die beoordelaars se terugvoer te luister.

Feesmentorskap en Opvoeding

ʼn Belangrike aspek van Première is die opleidingsgeleenthede wat aan die studente gegee word. Première het mentors aangestel wat met sommige produksie-aspekte soos teksontwikkeling, regie, en bemarking gehelp het. Die mentors vir hierdie jaar was:

  • Wynand Kotze, gesiene teaterpraktisyn en -skrywer – het die tekste van die produksies voor hul repetisies onder oë gehad en gehelp om daaraan te verfyn en te redigeer.
  • Nardus Engelbrecht, dien as die amptelike feesfotograaf en het mentorskap vir die regisseurs oor hul visuele bemarkingstaal gelewer.

Première het ook ʼn oorhoofse feesmentor aangestel – die bekroonde teaterregisseur Marthinus Basson. Basson word as een van die beste regisseurs en ontwerpers in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf beskou en het meer as 40 jaar ervaring in die industrie. Hy het drie repetisies van elke produksie bygewoon en konstruktiewe raad en terugvoer gelewer. Hy hou ook toesig oor die ontwerp en tegniese aspekte van die produksies. 

Feesinligting

Datums

  • Première – drie produksies per aand: 19 – 22 Julie om 18:00, 19:00, en 20:00.
  • Première Curtain Call – die beste drie produksies van die week: 23 Julie om 18:00.

Kaartjies

Kaartjies kan aanlyn gekoop word by www.premierefees.co.za.

Première (19 – 22 Julie) – R50 per produksie.

Première Curtain Call (23 Julie) – R120 (sluit al drie topproduksies en die prysuitdeling in).

Produksielys

Dinsdag | 19 Julie

  • Begrafnis op Beaufort-Wes; 18:00
  • vier ore, vier bene, vier oë; 19:00
  • Jantjies and the Pearls!; 20:00

Woensdag | 20 Julie

  • On Display; 18:00
  • Rakel en Klara versus die Wêreld; 19:00
  • Stroop.; 20:00

Donderdag | 21 Julie

  • A Cat and a Brush with Destiny; 18:00
  • Bopha!; 19:00
  • Wannabe Keisers; 20:00

Vrydag | 22 Julie

  • Afval; 18:00
  • ʼn Gek vir jou; 19:00
  • Double Strike; 20:00