Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wetenskapswinterweek word aanlyn aangebied
Begin: 13/07/2021, 11:00
Einde: 15/07/2021, 13:00
Kontak:Maambele Khosa -
Plek: MS Teams meeting

Die gewilde Wetenskapwinterweek wat jaarliks deur die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Natuurwetenskappe aangebied word, word hierdie jaar van 13 tot 15 Julie 2021 aanlyn aangebied.

Die doel van die Wetenskapwinterweek is om graad 11-leerders aan graadprogramme en loopbaanmoontlikhede in die natuurwetenskappe bloot te stel. Die Fakulteit bied programme in die veld van mikrobiologie, biochemie, chemie, aardwetenskappe, wiskunde, fisiologiese wetenskappe, toegepaste wiskunde, rekenaarwetenskap, fisika en plant- en dierkunde aan.

“Leerders is dikwels nie bewus van die vele geleenthede wat in die natuurwetenskapkonteks beskikbaar is nie. Hulle, en hulle ouers is dikwels slegs bekend met loopbane in ingenieurswese, geneeskunde, die regte en die onderwys. Intussen is daar 'n hele verskeidenheid studievelde en loopbaanmoontlikhede moontlik in die biologiese, wiskundige en fisiese wetenskappe," sê Mariétta van den Worm, Direkteur, Fakulteitsbestuur by die US se Fakulteit Natuurwetenskappe.

Gedurende die Wetenskapwinterweek sal leerders die geleentheid hê om direk met dosente en nagraadse studente in hierdie studievelde kontak te maak. Van 13 tot 15 Julie kan leerders daagliks van 11:00 tot 13:00 aanlyn by 'n MSTeams interaktiewe sessie aansluit - gratis!

“Ons is jammer dat ons nie vanjaar die leerders op ons mooi kampus kan huisves nie," sê Maambele Khoza, werwingsbeampte vir die Fakulteit Natuurwetenskappe en ook een van ons onlangse BSc-graduandi. “Maar aangesien die geleentheid aanlyn sal plaasvind, kan ons leerders van oor die hele Suid-Afrika betrek," voeg sy by.

Klik hier om vir die 2021 Wetenskapwinterweek te registreer of besoek ons webblad vir voornemende studente vir jou gids tot die wêreld van natuurwetenskappe.