AgriScience
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Proefplase

​​Die Universiteit besit twee proefplase (Welgevallen en Mariendahl) wat hoofsaaklik aangewend word vir voorgraadse studente-opleiding en vir navorsingsprojekte van nagraadse studente, sowel as dié van personeel in die Fakulteit AgriWetenskappe. Die proefplase dien in die eerste plek as veldlaboratoria waar navorsingsprojekte en studente-opleiding onder hoogs gekontroleerde toestande uitgevoer word. Die plase word nogtans so bestuur dat die bes moontlike praktyksituasies nagestreef word. Waar moontlik word spaarkapasiteit op die proefplase vir kommersiële produksie aangewend ten einde die proefplase so ver as moontlik na selfvergoedendheid te bestuur.

Welgevallen

Welgevallen is in 1917 aangekoop tydens die oprigting van die Fakulteit met die spesifieke voorwaarde dat ʼn proefplaas binne stapafstand van die kampus moes wees. Die oorspronklike grootte was 278 ha, waarvan daar nog net 120 ha beskikbaar is. Welgevallen word hoofsaaklik deur die akademiese departemente van die Fakulteit AgriWetenskappe benut. Die Departement Agronomie is in sy geheel daar gevestig, met verskeie laboratoria, klimatologiesbeheerde groeikamers, plastiektonnels, asook klein proefpersele. Die DepartementHortologie beskik oor goed gevestigde sagtevrugte- en sagtesitrusboorde, terwyl die Departement Wingerd- en Wynkunde wingerde van hoog-staande gehalte gevestig het. ʼn Eksperimentele wynkelder, waar wynbereidings op ʼn semi-kommersiële skaal uitgevoer word, is op die walle van die Eersterivier opgerig en met die nuutste tegnologie toegerus. Die Departement Veekundige Wetenskappe beskik ook oor uitstekende fasiliteite op Welgevallen, waar 'n verskeidenheid van navorsingsaksies plaasvind. Hierdie Departement hou ʼn hoogs produserende Frieskudde aan wat beide vir opleiding en navorsing gebruik word. Daar is ook goed toegeruste fasiliteite waar intensiewe voedingsnavorsing met groot- en kleinherkouers uitgevoer kan word. Ander departemente wat ook gereelde aktiwiteite op die proefplaas bedryf, is GenetikaGrondkunde enBoskunde. Die Departement Genetika plant jaarliks 8 000 tot 13 000 segregerende populasies en suiwer lyne uit die koring- en korogteelprogramme onder droëlandtoestande op Welgevallenen Mariendahl vir siekte-evaluering en seleksie. Die Departement benut verskeie groeikamers en glashuise vir die maak van nuwe kruisings, uitvoer van saailing siekte-evaluering en die deurvoer van ʼn uitgebreide kruisingsprogram. Laasgenoemde program fokus op die daarstelling van spesieshibriede en sekondêre hibried derivate in ʼn poging om siekte- en soutverdraagsaamheids-gene uit die wilde spesies na die verboude grane oor te dra. Selfs departemente van ander fakulteite, soos byvoorbeeld Botanie (toetsing van suikerriet) en Soölogie(navorsing op byekolonies), benut van die fasiliteite wat die proefplaas bied.

Mariendahl 

Mariendahl (375 ha) is aangrensend tot die Elsenburg proefplaas ongeveer 14 km buite Stellenbosch geleë. Dit word hoofsaaklik deur die Departement Veekundige Wetenskappe benut. Die Fakulteit se uitstekende fasiliteite vir pluimvee- en vark­navorsing is hier geleë. Die Departement Veekundige Wetenskappe beskik verder oor ʼn Simmentalerkudde, sowel as ʼn Dohnemerino- en vleismerinostoet. Al hierdie kuddes is van hoogstaande gehalte en welbekend in die bedryf. Hierdie fasiliteite word vir studente-opleiding sowel as vir bedryfsgerigte navorsing gebruik.

Navorsing op proefplase

Die Fakulteit se proefplase word deur verskeie departemente as veldlaboratoria benut. Gedurende die 2006 verslagjaar is meer as 20 proewe op die twee plase uitgevoer. Departemente se navorsingsfokusareas word bespreek onder die opskrif "Navorsing".

Navrae

Welgevallen Proefplaas

Mnr. Willem Van Kerwel
Proefplaasbestuurder 
Tel: 021-8084870
Sel: 0726605526

Mariendal Proefplaas​

John Morris
Tel 021 884 4460
Sel: 082 771 2285​