Viticulture & Oenology
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Voorgraadse onderrig

BScAgric program uitleg en struktuur in Wingerd- en Wynkunde

Programbeskrywing

Die 4 jaar baccalaureusprogram in Wingerd- en Wynwetenskappe lei tot die kwalifikasie BScAgric.

Wingerd- en Wynwetenskappe dek die wingerdstok en sy organe en integreer hierdie kennis in die wetenskaplike manipulasie van die plant. So word, in harmonie met die omgewing, volhoubare produktipes gelewer wat gebruik kan word om unieke wyne te produseer. Dit behels verder die integrasie van ʼn deeglike kennis van die chemiese en biologiese prosesse betrokke by die maak van wyn- en brandewynprodukte waardeur die volhoubare benutting van die natuurlike hulpbronne deurgaans verseker word. In hierdie rigting word jy voorberei vir ʼn beroep in die wingerd- en wynbedrywe.

Praktykopleiding in Wingerd- en Wynwetenskappe

Indien jy die BScAgric-program met hoofvakke Wingerdkunde en Wynkunde volg, moet jy verpligte praktiese werk in albei hoofvakke doen. Praktiese werk in Wingerdkunde en Wynkunde behels hoofsaaklik praktiese werk vanaf die einde van die derde jaar tot die middel van die vierde jaar in wyndruifwingerde betreffende snoeiwerk in die winter, loofbestuur in die somer en werk in ʼn kommersiële wynkelder. Die Departement Wingerd- en Wynkunde sal die spesifieke minimum kwalifikasies betreffende die aantal weke wat jy aan hierdie aspekte moet bestee, aan jou kommunikeer. Hierdie werksprogramme word in ooreenstemming met dosente in die Departement Wingerd- en Wynkunde uitgeklaar en jy moet beide modules (Wingerd- en Wynkunde 478) gekoppel aan die internskap slaag om die graad BScAgric te verwerf.

Om jou in staat te stel om praktiese werk gedurende die parsseisoen te verrig, word jy as finalejaarstudent toegelaat om eers die tweede semester vir lesings aan te sluit.

Let wel: Die Universiteit is nie aanspreeklik vir enige beserings wat jy gedurende die praktykopleiding opdoen of eise wat daaruit ontstaan nie.

Hieronder volg ʼn uiteensetting van die modules wat in die verskillende jaargange van hierdie program voorgeskryf is. Die inhoude van die modules verskyn in die hoofstuk “Vakke, Modules en Module-inhoude" van hierdie Jaarboekdeel.

 

Meer inligting is beskikbaar by die volgende webtuistes:

·     www.sun.ac.za/afrikaans/faculty/agri/departemente/viticulture-oenology (Departement Wingerd- en Wynkunde)

·     www.sun.ac.za/afrikaans/faculty/agri/institutes-centres/institute-for-wine-biotechnology (Instituut vir Wynbiotegnologie)

 

Vakke, Modules en Module- inhoude

Voorbeeld:

55565 AGRONOMIE
32416Weiveldbestuur3L,3P

55565 is die vaknommer en verwys na die vak Agronomie.
324(16) (die 16 sal normaalweg tussen hakies geskryf word) is die modulekode plus kredietwaarde met module-onderwerp:  Weiveldbestuur.

Die modulekode 324(16) het die volgende betekenis:

·       Eerste syfer: 3 – dui die jaargang aan waarin die module aangebied word.

·       Tweede syfer: 2 – dien as ʼn onderskeidingsyfer tussen verskillende modules van dieselfde vak in

·       ʼn spesifieke jaargang en dui die semester aan (tensy anders vermeld), volgens die onderstaande patroon:

·       1, 2 of 3: modules wat in die eerste semester aangebied word;

·       4, 5 of 6: modules wat in die tweede semester aangebied word;

·       7, 8 of 9: modules wat oor beide semesters strek, d.w.s. jaarmodules.

·       Derde syfer: 4 – het geen spesifieke betekenis nie, maar kan dien as onderskeidingsyfer tussen verskillende modules van dieselfde vak in ʼn spesifieke jaargang.

Die getal in die tweede blokkie (andersins tussen hakies) (16) – dui die kredietwaarde aan wat aan die module gekoppel word. Agronomie 324(16) is derhalwe ʼn module wat in die eerste semester van die derde jaar aangebied word; ʼn student verwerf 16 krediete daarvoor.

Die doseerlading van die module word in die blokkie na die module-onderwerp aangetoon. Die volgende afkortings word vir die doseerlading gebruik:

·       L – lesing van 50 minute (bv. 1L)

·       P – praktikumperiode van 50 minute (bv. 1P, 2P, 3P) S – seminaar van 50 minute

·       T – tutoriaal van 50 minute (bv. 1T, 2T)

Die doseerlading vir Agronomie 324(16) bedra derhalwe drie lesings van 50 minute elk en drie praktikumperiodes van 50 minute elk per week vir die duur van die module, nl. een semester.

Vereistes

Onderaan die inhoud van modules word, waar toepaslik, die slaagvoorvereiste, voorvereiste en newevereiste modules  wat  daarop  betrekking  het,  aangedui.  Die  volgende  afkortings  word gebruik:

·       S – Slaagvoorvereiste module

·       V – Voorvereiste module

·       N – Newevereiste module

In hierdie verband geld die volgende omskrywings:

·       ʼn  Slaagvoorvereiste  module  is  ʼn  module  waarin  ʼn  student  eers  moet  slaag  alvorens  die module(s) waarvoor dit ʼn slaagvoorvereiste is, gevolg kan word.

·       ʼn Voorvereiste module is ʼn module waarin ʼn klaspunt van minstens 40, of ʼn prestasiepunt van minstens 40 in die geval van ʼn module wat deurlopend geassesseer word, behaal moet word alvorens die studie in die module waarvoor dit ʼn voorvereiste is, voortgesit mag word.

·       ʼn Newevereiste module is ʼn module wat vóór of in dieselfde akademiese jaar gevolg moet word as die module waarop dit betrekking het.

Let Wel

ʼn Kwalifikasie sal nie toegeken word alvorens ʼn student in al die voorgeskrewe voorvereiste en newevereiste modules geslaag het nie.

n)

 

BScAgric Wingerd en Wynkunde (Algemeen)

14052 Gewasproduksie

152 (8) Inleiding tot Toegepaste Plantwetenskap (1.5L, 1.5P)

Klassifikasiestelsels en klassifikasie van landbougewasse; struktuur van plante van belang vir landbou; plantgroeireguleerders; ekologiese beginsels en inleidende landbou-ekologie.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

13710 Wingerd- en Wynwetenskappe

142 (8) Inleiding tot wingerd- en wynwetenskappe (1.5L,1.5P)

Basiese morfologie van die druif en produksierigtings. Wyndruifkultivars. Inleiding tot die same­stelling van druiwe, mos en wyn, sowel as mikro-organismes in wynbereiding. Beginsels van alkoholiese gisting, keldertoerusting en produksiemetodes. Inleiding tot wynstyle en wyn­evaluering.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

212 (8) Inleiding tot wingerd- en wynmikrobiologie (1.5L, 1.5P)

Wynmikrobiologie-geskiedenis, beskrywings van mikro-organismes wat met wingerd- en wynomgewings geassosieer is en praktiese maniere om hulle te isoleer, te identifiseer en hul groei te bestuur, basiese biochemiese weë wat met wyngisting geassosieer word.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

278 (8)  Praktiese projek (1): Geïntegreerde wingerd- en wynwetenskappe (2L, 2P)

Toepassing van wingerd- en wynkundekennis van eerste- en tweedejaarmodules waar kritiese akademiese vaardighede gedemonstreer is. Voorlegging van ʼn fotografiese/elektroniese portefeulje, ʼn literatuurstudie, ʼn wingerdplan en ʼn wynproe.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

378 (16) Praktiese projek (2): Geïntegreerde wingerd- en wynwetenskappe (2L, 2P)

Toepassing van wingerd- en wynkundige kennis vanuit die tweede- en derdejaarmodules waarin kritiese akademiese vaardighede gedemonstreer is. Aanbieding van wetenskaplike verslae, portefeuljes, proses-vloeidiagramme, wynetikette wat aan vereistes voldoen, ʼn basiese bemarkingsplan en ʼn wynproe.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Voorvereiste modules: Wingerd- en Wynwetenskappe 278

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

 

444 (8) Internasionale terroir en wyne (2L, 3P)

Die module is inleidend tot die konsep van terroir in wingerd- en wynwetenskappe vir die studie en ondersoek van die wingerdkundige bestuurspraktyke en wynstylbesluitneming onder normale en vinnig veranderende klimaatskondisies. Dit is inleidend tot die hoofeienskappe (tipisiteit) van internasionale en plaaslike wyne wat met spesifieke terroirs geassosieer word.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Voorvereistes: Wingerdwetenskappe 344

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

454 (8) Die Toekoms van Wyn (2L, 3P)

Die module sal ʼn oorsig verskaf rakende die drywers van verandering in die wynindustrie, die belang van innovasie in konteks van ʼn veranderende wêreld, die proses van innovasie en die evaluering van tegnologieë wat die potensiaal het om die huidige sieninge en praktyke in die wynindustrie te onderbreek.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

478 (60) Industrie-internskap (3T, 3P)

Hierdie module maak gebruik van ʼn werkgeïntegreerde leerstrategie ter verbetering van praktiese wingerdkundige en wynmaakervaring in die industrie onder toesig van akademiese en industrie-mentors. Ervaring in alle aspekte van kelder- en wingerdbestuur. Identifiseer en ontwerp van ʼn wetenskaplike navorsingsprojek of sisteem in die werksplek. Werk in spanne en individueel om wingerde te bestuur, moniteer rypwording, produseer wyn, voer eksperiment uit, skryf ʼn projekverslag en dra resultate voor en skryf refleksie oor ervaring.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Slaagvoorvereistes:

·       Wingerdwetenskappe 214, 244, 314, 344

·       Wynwetenskappe 214, 244, 314, 344

·       Wingerd- en Wynwetenskappe 278, 378

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

 

13872 Wingerdwetenskappe

214 (12) Druifplantmateriale en hul groei en metabolisme (2L, 3P)

Druifplanthulpbronne vir wyn en tafeldruifproduksie (onderstok- en bostokkultivars en -variëteite); ampelografie; seisoenale siklusse; groei en metabolisme van die druifplant.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

244 (16) Hulpbronverspreiding en fisiologie van druifplante (3L, 3P)

Hulpbronverspreiding en fisiologie in druifplante, met die insluiting van vegetatiewe, reproduktiewe, rypwordings- en stresfisiologie.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Voorvereiste module: Wingerdwetenskappe 214

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

312 (8) Tafel- en droogdruifproduksie (2L, 3P)

Die globale bedrywe. Klimaat- en ander vereistes vir tafel- en droogdruifproduksie. Kultivars, onderstokke, kwekerstokgehalte. Vegetatiewe en reproduktiewe ontwikkeling. Produksiepraktyke gekoppel aan die seisoenale siklus van die wingerdstok (Snoei, dormansiebestuur, lowerbestuur, oesbeheer, trosvoorbereiding). Eksterne en interne vruggehalte. Rypheidsindeksering, oes- en na-oespraktyke. Saamstel van produksie-, oes- en na-oesplanne vir twee tafeldruifkultivars (een arbeidsintensief en een nie-arbeidsintensief) OF vir twee droogdruifkultivars. Gevallestudie van ʼn kommersiële eenheid se implimentering van ʼn produksieplan, asook die oes- en na-oesprosesse van hierdie twee kultivars.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Newevereiste modules: Wingerdwetenskappe 214, 244, 314

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

314 (12) Druifplantverbetering/-vermeerdering, vestiging en kultiveringspraktyke (2L, 3P)

Die fokus van hierdie module is wingerdmateriaalverbetering en -vermeerdering, die ontwikkeling van die wingerdstok en die onderhoud daarvan deur middel van snoei. Binne hierdie temas sal gedetailleerde kennis met betrekking tot wingerdkwekingspraktyke, die plant en oplei van wingerdstokke sowel as die verskillende snoeistelsels en hul toepassing in verskillende scenarios behandel word.

Metode van assessering: Buigsame assessering.

Voorvereiste module: Wingerdwetenskappe 214 en 244

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

344 (12) Opleistelsels en lowerbestuur: plae, siektes en abnormaliteite (2L, 3P)  

Die basis van besluitneming rondom ʼn toepaslike oplei-/prieelstelsel sowel as toepaslike lowerbestuursprogramme vir enige gegewe situasie. Die identifisering van peste en plae so wel as abnormaliteite (insluitend voedingstof tekort/toksisiteit) word tesame met toepaslike ingrypings behandel.

Newevereiste: Wingerdwetenskappe 314

Metode van assessering: Buigsame assessering

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

444 (16) Gevorderde wingerdkunde (3L, 3T, 3P)

Hierdie module bied ʼn teoretiese en praktiese basis vir die identifisering en bestuur van veranderlikheid in wingerde, met die fokus op die maksimalisering van opbrengste en kwaliteit, terwyl die omgewingsimpak daarvan geminimaliseer word deur die gebruik van natuurlike hulpbronne (grond en water) en deur chemiese toepassings (kunsmisstowwe, plaagdoders en onkruiddoders) te optimaliseer. Die implementering van hierdie konsep word bewerkstellig deur die plaaslike variasie in faktore wat wingerdopbrengs en kwaliteit beïnvloed (grond, topografie, mikroklimaat, wingerdgesondheid, vegetatiewe groei, ens.) te ontleed. Met behulp van afstandwaarnemingstegnieke (proksimale sensors, lugplatforms en satelliete) in kombinasie met geografiese-inligtingstelsel- (GIS) en basiese geostatistiese beginsels vir die opstel van ruimtelike veranderlikheidskaarte van die wingerde.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Voorvereiste module: Wingerdwetenskappe 344

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

452 (16) Wingerdproduksiestelsels en besigheidsmodelle (2L, 3P)

Tafel- en droogdruifprodukstelsels vir produksie van tafel- en droogdruiwe wat aan gehalte- en mark­vereistes voldoen. Marktoegang-2-dag- geakkrediteerde kortkursus (insluitend GLOBALGAP of soortgelyke gehalte-naspeurbaarheidstelsel). Saamstel van produksie-, oes- en na-oesplanne vir ʼn kommersiële eenheid. Gevallestudie van ʼn kommersiële eenheid se implementering van ʼn produksieplan, asook die oes- en na-oesprosesse.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Voorvereistes: Wingerdwetenskappe 314, 344

Newevereiste: Wingerdwetenskappe 452

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

13890  Wynwetenskappe

214 (16) Inleiding tot wynindustrie (3L, 3P)

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf, verbruikers en produkte in konteks. Wyn-van-Oorsprongstelsel, wetgewing en regulasies insluitend etiketering. Industriële gesondheid en veiligheid in ʼn wynmaakkonteks. Beginsels van volhoubare wynproduksie.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

244 (16) Wynstyle en sensoriese evaluering (3L, 3P)

Wynevalueringstelsels, werk in ʼn formele wynproe-omgewing, effektiewe kommunikasie aan wynverbruikers in proekamers (diensleer). Wynkomponente, wynpunte, beskrywende analise en die toepaslikheid van verskillende sensoriese toetse. Verbruikersvoorkeure. Tradisionele en nie-tradisionele wynmarkte. Wynstyle: belangrikheid in wynmaak, die proses van wynproduksie vir verskeie style, insluitende wetgewing rondom toelaatbare bymiddels. Brandewyn-, vonkelwyn-, sjerrie- en ander produksiestelsels.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Voorvereiste module: Wynwetenskappe 214

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

314 (16) Druifverwerking en wynproduksie (3L, 3P)  

Beginsels en praktyke vir wynbereiding sal bespreek en geïmplementeer word by die bereiding van verskillende wynstyle. Oes van druiwe; druifverwerking; gebruik van verskillende wyn­maaktegnieke; byvoeging van prosesseringshulpmiddels; bestuur van alkoholiese en appelmelk­suurgisting; hantering van probleemfermentasies.

Metode van assessering: Buigsame assessering

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

344 (16) Wynstabilisering, -verheldering, -bottelering en -foute (3L, 3P) 

Beginsels en tegnieke vir wynverheldering, -stabilisering en -bottelering. Wynfoute: voorkoming, oorsprong en behandelings. Wynproe en -analises.

Metode van assessering: Buigsame assessering.

Voorvereiste module: Wynwetenskappe 314

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde

​​446 (24) Biochemie van wyngeure (3L, 3T, 3P)

Geïntegreerde en omvattende studie van vlugtige en nie-vlugtige verbindings wat gedurende fermentasie ontstaan. Die biochemie van wynorganismes (gis en appelmelksuurbakterie). Die rol van fenoliese verbindings, polisakkariede, veroudering, oksidasie en hout-afgeleide verbindings in wyn.

Metode van assessering: Buigsame assessering.

Voorvereiste module: Wynwetenskappe 314, 344

Tuisdepartement: Wingerd- en Wynkunde