Food Science
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Navorsing

​​​  

Departement Voedselwetenskap het 'n sterk navorsingskultuur wat gebaseer is op die toepassing van wetenskaplike beginsels en die uitbreiding van ons kennis  oor voedsel as biomateriaal.

Navorsing wat aan die spits staan en die aanspreking van behoeftes van vandag se globale voedselindustrie bv voedselveiligheid, voedselkwaliteit en voedselvolhoubaarheid lok beduidende befondsing.​


​​​​  Voedsel- en waterveiligheid

                   ​​                                                                          microbiology[1].jpg


Die voedselveiligheidspan doen navorsing om geïntegreerde kennis in die multidissiplinêre sfeer van voedsel-, omgewings- en publieke gesondheidsorg te kombineer. Navorsing fokus op die opsporing en identifikasie van 'n verskeidenheid van mikrobe-populasies wat teenwoordig mag wees in voedselprodukte, insluitend; vrugte, vrugtesappe, groente, suiwelprodukte, graankosse, geprosesseerde vleis, lewende hawe asook gefermenteerde voedsel. Die voorkoms, identiteit, oorlewing en beheer van bederfsorganismes sowel as voedsel patogene, in die voor-en na-oesverwerkingsomgewing word ondersoek. 'n Een Gesondheid-benadering word gevolg om die nadelige uitwerking van voedsel organismes op publieke/openbare gesondheid te beperk.

 

Die verband tussen voedselveiligheid en die kwaliteit van besproeiingswater wat gebruik word in kommersiële landbou asook bestaansboerderye word bestudeer. Klem word geplaas op produkte wat rou of ná minimale verwerking verbruik word. Die uitwerking van voedselverwerkingsaktiwiteite op waterverbruik, afvalwater en behandelingsopsies word ook nagevors. Dit sluit in die toepassing van anaërobiese verteringstegnologie en die gebruik van ander voorbehandelingstegnieke om die doeltreffendheid van suiweringstelsels vir afvalwater te verbeter.

​ 

     environmental[1].jpgfood_safety[1].jpg

 

 

​Sensoriese wetenskap

Navorsing in sensoriese wetenskap is dikwels multidissiplinêr waar die chemiese, sensoriese en fisiese kwaliteit van voedselprodukte gekorreleer word.Sensoriese kwaliteit word verseker deur gebruik te maak van opgeleide panele en standaard beskrywende sensoriese analise. Die geldigheid van nuwe beskrywende metodes soos projektiewe kartering, vryekeuseprofilering en gepolariseerde sensoriese posisionering (PSP) word bepaal vir toepassing in die voedselindustrie. Hierdie nuwe sensoriese metodes is baie buigsaam en minder tydrowend as die klassieke beskrywende metodes en daarom beter om te gebruik vir industriegerigte navorsingsprojekte.​



sensory[1].jpgsensory[1].jpg


Sensometrika

Die navorsing in sensoriese wetenskap word aangevul deur sensometrika wat gevorderde statistiese metodes behels waarmee analise gedoen word van sensoriese-, chemiese-, fisiese- en verbruikersvoorkeurdata. Tegnieke soos gedeeltelike kleinste kwadrate regressie analise word gebruik om die bitter smaak van plante soos die heuningbos te voorspel deur gebruik te maak van die fenoliese samestelling daarvan.​


​Graankwaliteit

cereal_quality[1].jpg               


Die graankwaliteitsnavorsingsprogram het ten doel om 'n groter begrip te ontwikkel van die onderliggende faktore wat graangehalte bepaal en beïnvloed deur gebruik te maak van konvensionele graankwaliteitsanalisetegnieke. Daarmee saam word gebruik gemaak van nie-vernietigende tegnieke soos X-straal mikro-berekende tomografie om die mikrostruktuur van ontbytgrane sowel as die borrelstruktuur van deeg en gebakte produkte te karakteriseer. Tegnologie vir die outomatiese gradering van grane om defekte vinnig op te spoor word ondersoek.

​ 

​Vibrasionele Spektroskopie en Chemometrika


spectroscopy[1].jpg


Konvensionele naby-infrarooi (NIR)-spektroskopie en NIR-hiperspektrale beeldanalise gekombineer met chemometriese tegnieke word gebruik vir kwalitatiewe-, kwantitatiewe- en verifikasiestudies. Gevorderde beeldanalise word toegepas om ruimtelike resolusie hiperspektrale beelde (chemiese kaarte) van voedsel-en landbouprodukte te bestudeer. Die nuut gevestigde Vibrasionele Spektroskopie Eenheid van die Sentraal Analitiese Fasiliteit van die US word in die Departement gehuisves. 

​​


​​spectroscopy[1].jpg

 


 

​​Tel: +27 (0)21 808 3578                             Fax: +27 (0)21 808 3510                   ​    corner of Hammandshand and Helshoogte Roads, Stellenbosch                          voedselw@sun.ac.za