Institute for Plant Biotechnology
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Nagraads

 

Vanweë die interdissiplinêre aard van biotegnologie word nagraadse studente uit 'n wye spektrum akademiese agtergronde, byvoorbeeld plantwetenskappe, biochemie, mikrobiologie en genetika, op BSc‑honneursvlak aanvaar. Studente kan ook vir meesters- of doktorale studie in plantbiotegnologie inskryf, waartydens hulle 'n integrerende deel van ons navorsingsprogram uitmaak.

 

BSc-honneurs

Kursusoorsig

 

Die honneursprogram is ontwerp om aan studente loopbaangerigte opleiding te verskaf wat hulle in staat behoort te stel om as biotegnoloë te werk. Ons studente leer om krities en sinteties te lees en te dink, wetenskaplike vrae te stel, en formeel en informeel te kommunikeer (verbaal sowel as skriftelik). Hulle pas wetenskaplike metodes toe; versamel inligting uit die literatuur en verwerk daardie inligting; leer om in die wetenskaplike gemeenskap te kommunikeer; bemeester tegniese vaardighede om in die biotegnologieveld te kan werk, en leer hoe om navorsing te beplan, uit te voer, te evalueer en daaroor verslag te doen.

Die volgende modules maak deel uit van die BSc‑honneursgraad in biotegnologie: Molekulêre Tegnieke, Plantfisiologie, Geïntegreerde Plantmetabolisme, Bio-informatika en Plantgenomika. Daar word ook van studente verwag om onafhanklik – maar onder toesig van 'n akademiese personeellid – 'n projek in plantbiotegnologie te voltooi.