Drama
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​Wat is die fokus van die BA (Drama- en Teaterstudie)-program?

Hierdie driejarige keuringsprogram is hoofsaaklik daarop gemik om goed ingeligte, kreatiewe en goed toegeruste teaterpraktisyns en navorsers op te lei wat sinvol binne die Suid-Afrikaanse konteks 'n bydrae kan lewer in die teaterbedryf en aanverwante terreine.

In die eerste twee jaar fokus die program hoofsaaklik op drama en teater in die tradisionele sin as verhooggesentreerde uitvoerende kuns. In die derde jaar fokus die opleiding egter ook op die uitvoerende kunste en die vermaaklikheidsbedryf in die breër sin. Daar is twee spesialiseringsterreine waartussen voornemende studente kies:

  • Toneelspel en performance opleiding
  • Tegniese en bestuursopleiding

Hierdie praktiese spesialiseringterreine word ondersteun deur 'n sterk teoretiese basis, insluitend teksanalise; beginsels van teaternavorsing; en basiese bemarkings- en besigheidsvaardighede.

Uit watter vakke bestaan die program?

Drie verpligte vakke vorm die kern van die program, naamlik Teaterwetenskap, Teatervaardighede, en Teaterkuns. Op basisvlak (eerste jaar van studie) kies studente twee verdere vakke (waarvan een 'n taal moet wees) wat binne ander departemente in ons fakulteit – die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe – aangebied word en een van hierdie vakke word voortgesit op intermediêre vlak (tweede jaar van studie).

Teaterwetenskap is 'n teoretiese vak en word in semestermodules verdeel. Dit beteken dat daar aan die einde van elke semester 'n geskrewe eksamen afgelê word in die betrokke module. (Die Universiteit se akademiese jaar word in twee semesters verdeel: Februarie tot Junie en Julie tot November.) Tans is Teaterwetenskap die enigste vak wat die Toneelspel en performance studente en die Tegniese en bestuursopleiding studente saam neem.

Teatervaardighede en Teaterkuns is hoofsaaklik praktiese vakke, alhoewel beide hierdie vakke ook teoretiese komponente insluit. Die inhoude van die vakke verskil egter na aanleiding van die spesialiseringsterrein wat studente gekies het. Teatervaardighede en Teaterkuns is jaarmodules en word in verskillende komponente onderverdeel. 'n Sisteem van buigsame assessering word gebruik om vordering en prestasie te toets. Dit beteken dat elke komponent, na aanleiding van die aard en inhoud, op 'n spesifieke manier geassesseer word. Assessering kan onder andere die volgende formate aanneem: praktiese toetse (solo- of groep performances, teateropvoerings, film- en radio-opnames); kreatiewe produkte (stelontwerpe, kostuumstukke, rekwisiete); kreatiewe prosesse (vordering tydens klaswerk); en/of geskrewe toetse en take.

Die onderstaande tabel gee 'n uiteensetting van die programuitleg en vakkeuses van die BA (Drama- en Teaterstudie)-program.

       

BA (Drama- en Teaterstudie)

Programuitleg en vakkeuses

 

BASISVLAK

(Eerste jaar)

INTERMEDIÊRE VLAK

(Tweede jaar)

GEVORDERDE VLAK

(Derde jaar)

 

VERPLIGTE MODULES:

 

Teaterwetenskap 114, 144

Inleiding tot teatergeskiedenis. Westerse teater en beginsels van teksstudie (Grieke tot 20ste eeu).

Teaterwetenskap 212, 222, 242, 252

Teksanalise in konteks. Teorie en vorme van drama en teater.

Teaterwetenskap 314, 324, 344, 354

Filmstudies en -analise. Geskiedenis en aard van nie-Westerse teater (Oosterse en Afrika teater). Geskiedenis en aard van Suid-Afrikaanse teater.

Teaterkuns 178

Basiese teorie en vaardighede in toneelspel en improvisasie.

OF:

Inleiding tot tegniese vaardighede vir verhoogproduksie. Verftegnieke. Kostuums.

Teaterkuns 278

Voortgesette toerie en vaardighede in toneelspel. Verhooggrimering.

OF:

Teaterkuns 288

Toepassing van tegniese vaardighede vir verhoogproduksie.Kostuums. Verhooggrimering.

Teaterkuns 379

Voortgesette teorie en vaardighede in toneelspel (Televisie en film, Radio en Teater).

OF:

Teaterkuns 389

Voortgesette toepassing van tegniese vaardighede vir verhoogproduksie. Kostuums. Grimering.

Teatervaardighede 178

Basiese teorie en vaardighede in stem, spraak en beweging.

OF:

Basis teorie en vaardighede in tegniese aspekte van teater en media (inlsuitend: Verhoogbestuur, Ontwerp, Rekwisiete, Dekor

Teatervaardighede 278

Voortgesette teorie en vaardighede in stem, spraak en beweging

OF:

Teatervaardighede 288

Voortgesette teorie en vaardighede in tegniese aspekte van teater en media (insluitend:Beligting, Klank, Videoproduksie, Ontwerp, Maskers)

Teatervaardighede 378

Performance Skepping

OF:

Teatervaardighede 388

Voortgesette teorie en vaardighede in tegniese aspekte van teater en meida (insluitend: Produksiebestuur, Videoproduksie, Beligting, Ontwerp)

 

KEUSE MODULES:

 

Kies TWEE:

Afrikaans en Nederlands

Afrikaanse Taalverwerwing

Antieke Kulture

Basiese Xhosa (slegs basisvlak)

English Studies

Geskiedenis

Praktiese Musiekstudie (slegs basisvlak)

Sielkunde

Visuale Studies

Xhosa

Gaan aan met EEN vanaf basisvlak:

Afrikaans en Nederlands

Afrikaanse Taalverwerwing

Antieke Kulture

Applied English Language Studies

English Studies

Geskiedenis

Sielkunde

Visuele Studies

Xhosa

Geen

 

LET WEL: Die Dramadepartement volg 'n benadering van tweetalige akteursopleiding. Kandidate wat vir die Toneelspel en performance opleiding aansoek doen, moet in gedagte hou dat die BA (Drama- en Teaterstudie)-program tweetalig (Engels en Afrikaans) aangebied word. Daar is dus verpligte Afrikaanse en Engelse komponente wat suksesvol voltooi moet word ten einde die graad te verwerf.

Toelatingsvereistes

Dit is nie nodig om enige vorige drama- en/of teateropleiding te hê om oorweeg te word vir die BA (Drama- en Teaterstudie)-program nie. Jy moet slegs aan die volgende toelatingsvereistes voldoen:

  • Ten minste 'n 60% gemiddeld vir die Nasionale Senior Sertifikaat (Lewensoriëntering uitgesluit);
  • Ten minste 'n 4 (60%) vir elk van vier aangewese universiteitstoelatingsvakke*;
  • Huistaal ten minste 'n 4 (60%); en
  • Eerste Addisionele Taal ten minste 'n 4 (60%).

(* Lys van aangewese universiteitstoelatingsvakke:

Besigheidstudies, Dramatiese Kunste, Ekonomie, Fisiese Wetenskappe, Geografie, Geskiedenis, Godsdiensstudie, Inligtingstegnologie, Ingenieursgrafika en -ontwerp, Landbouwetenskappe, Lewenswetenskappe, Musiek, Rekeningkunde, Tale (een taal van leer en onderrig aan 'n hoëronderwysinstelling en twee ander erkende taalvakke), Verbruikerstudie, Visuele Kuns, Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid.)

Hoe om aansoek te doen

Om vir die BA (Drama- en Teaterstudie)-program in ag geneem te word, moet jy (1) 'n Voorgraadse Aansoek om Toelating tot die Universiteit invul en 'n aansoekfooi betaal, en (2) 'n Persoonlike Inligtingsdokument voltooi en dit terugbesorg aan die Universiteit voor  die voorafgaande jaar van voorgenome studie.

Indien jy onseker is oor die aansoekproses of probleme met die aansoekproses ondervind, kontak me. Karla Koopstad telefonies by 021 808 9111 (tussen 08:15 en 12:30) of per e-pos by karlak​@sun.ac.za .

LET WEL: Die sluitingsdatum vir aansoeke wat vir Universiteitsakkommodasie oorweeg wil word, is 30 Junie van die voorafgaande jaar van voorgenome studie.

Die keuringsproses​

Die keuringsproses bestaan uit twee rondtes. Die eerste rondte keuring berus op die kandidate se akademiese profiele en voldoening aan die toelatingsvereistes van die program. Die tweede rondte keuring is in die vorm van 'n persoonlike oudisie (Toneelspel en performance spesialiteitsterrein) en/of 'n onderhoud (Tegniese en bestuursopleiding spesialiseringsterrein).

Die tweede rondte keuring word slegs by die Dramadepartement van die Universiteit van Stellenbosch afgeneem. Dit word normaalweg geskeduleer oor een van die naweke tydens die September/Oktober skoolvakansie van die voorafgaande jaar van voorgenome studie. Die tweede rondte keuring geskied slegs op uitnodiging en is verpligtend vir alle kandidate wat vir die BA (Drama- en Teaterstudie)-program oorweeg wil word.

Die finale uitslag van die keuring sal per e-pos aan kandidate gestuur word.  Telefoniese navrae in dié verband kan vanaf einde Oktober gemaak word by me.. Karla Koopstad (021 808 9111).

LET WEL: Die uitslag van die keuring is finaal. Geen korrespondensie sal na afloop van die bekendmaking van die keuring gevoer word nie.


Belangrike datums

  • 31 Julie 2023: Finale sluitingsdatum vir alle voorgraadse aansoeke –geen laat aansoek sal oorweeg word nie.

  • 7 Augustus 2023: Kandidate ontvang die Persoonlike Inligtingsvorm wat ingevul moet word as deel van die eerste rondte van keuring.

  • 14 Augustus 2023: Sperdatum vir die indiening van die Persoonlike Inligtingsvorm. Indien die Persoonlike Inligtingsvorm nie op die genoemde sperdatum ingedien word nie en/of die Persoonlike Inligtingsblad nie volledig voltooi is nie,die aansoek sal as onvolledig en onsuksesvol beskou word.

  • 21 Augustus 2023: Kandidate wat vir die tweede rondte van keuring kwalifiseer sal in kennis gestel word deur e-pos.

  • 8 en 9 September 2023 in Stellenbosch: Tweede rondte van keuring – in die vorm van 'n persoonlike oudisie en/of onderhoud.

  • 9 Oktober​​​​​ 2023: Finale uitslae van keuring sal vrygestel word. Telefoniese navrae in hierdie verband kan vanaf 1 November 2023 (gedurende gewone kantoorure) aan me Karla Koopstad (021 808 9111) gerig word.


Waaruit bestaan die keuring vir die program?

Die keuringsproses bestaan uit twee rondtes. Die eerste rondte keuring berus op die kandidate se akademiese profiele en voldoening aan die toelatingsvereistes van die program. Die tweede rondte keuring is in die vorm van 'n persoonlike oudisie (Toneelspel en performance spesialiteitsterrein) en/of 'n onderhoud (Tegniese en bestuursopleiding spesialiseringsterrein).

Die tweede rondte keuring word slegs by die Dramadepartement van die Universiteit van Stellenbosch afgeneem. Dit word normaalweg geskeduleer oor een van die naweke tydens die September/Oktober skoolvakansie van die voorafgaande jaar van voorgenome studie. Die tweede rondte keuring geskied slegs op uitnodiging en is verpligtend vir alle kandidate wat vir die BA (Drama- en Teaterstudie)-program oorweeg wil word.

Die finale uitslag van die keuring sal per e-pos aan kandidate gestuur word.  Telefoniese navrae in dié verband kan vanaf einde Oktober gemaak word by mev. Annatjie Moolman (021 808 2508).

LET WEL: Die uitslag van die keuring is finaal. Geen korrespondensie sal na afloop van die bekendmaking van die keuring gevoer word nie.

Kontak

Vir meer inligting oor die BA (Drama- en Teaterstudie)-program, kontak:

Dr André Kruger Gerber (Voornemende Studene en Eerstejaars) (Kantoorure:  08:30 - 16:00)

  • Telefoon: 021 808 9877
  • E-pos: akg@sun.ac.za

Vir meer inligting oor die Universiteit Stellenbosch en toelatingsvereistes, kontak

Me Karla Koopstad (Kantoorure:  08:00 - 12:45)

  • Telefoon: 021 808 9111
  • E-pos: karlak@sun.ac.za​​