General Linguistics
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Oor die Departement

​Algemene Taalwetenskap is 'n relatief jong departement by US: dit is gestig in 1971, met Rudolf Botha as hoof. Vandag is die departement een van slegs twee onafhanklik funksionerende departemente in die land.​​

Die destydse motivering vir die vestiging van die vak geld steeds: om 'n ruimte te skep waar die verskillende aspekte van taal en taalgebruik bestudeer kan word binne teoretiese raamwerke, buite taal- en dissiplinêre grense. Die aanvanklike fokus was op die formele aspekte van taal - sintaksis, morfologie en fonologie, met 'n kritiese verbintenis tot generatiewe taalkunde. Die fokus het sedertdien uitgebrei om toegepaste areas van studie in te sluit, spesifiek tweedetaal verwerwing, pragmatiek, psigolinguistiek, sosiolinguistiek, diskoers analise, interkulturele kommunikasie, asook taalbeleid en -beplanning. Hierdie balans tussen die formele en toegepaste taalwetenskap is 'n kenmerkende eienskap van die departement. Voorgraadse uitbreiding het in 2000 geskied met die skep van Applied English Language Studies​ as 'n tweede vak binne die departement. 'n Nuwe studieveld wat tans geïmplementeer en uitgebrei word, is taalwetenskap van gebaretaal, en daar word reeds voorbereidende werk gedoen om 'n moontlike Taalverwerwing Laboratorium daar te stel, die eerste inisiatief van hierdie aard binne Afrika.

Gedurende die laaste dekade het die departement merkwaardig gegroei op nagraadse vlak. Sedert 2008 is 9 PhD-grade, 152 MA-grade en 44 Honneurs en Nagraadse Diploma kwalifikasies toegeken, en daar is tans 9 PhD, 32 MA en 22 Honneurs en Nagraadse Diploma studente geregistreer in die departement Navorsingsuitsette. Die departement publiseer ook twee geakkrediteerde joernale, Stellenbosch Papers in Linguistics en Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, wat toenemend gebruik word as forums vir linguistiek en taalverwante-artikels in Suid-Afrika.​

'n Departement kan natuurlik slegs uitmuntend presteer indien die personeel kundig en bevoeg is. In hierdie opsig is daar vele mense wie deur die jare groot bydrae gemaak het, onder andere Rudie Botha, Walter Winckler, Melinda Sinclair, Cecile le Roux, Mary-Ann Kemp, Debra Aarons en Simone Conradie. Hierdie bydrae hou steeds aan deur die huidige dosente - Christine Anthonissen, Johan Oosthuizen, Frenette Southwood, Kate Huddlestone, Marcelyn Oostendorp en Lauren Mongie​. Dit sluit nie eers die onmeetbare administratiewe bydrae in nie, deur Lottie Gildenhuys in vroeër jare en Christine Smit in die afgelope 20 jaar.​

In die 2013 QS-opname is Algemene Taalwetenskap as een van die top 200 departemente van sy soort ter wêreld genoem, en ook as een van die top 10 presterende departement by die Universiteit Stellenbosch. Glad nie sleg vir 'n departement met skaars 6 voltydse dosente nie!