Afrikaans & Dutch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Kollokwium

Oor die Kollokwium


Die kollokwium van die Departement Afrikaans en Nederlands is ʼn tweejaarlikse openbare gespreksgeleentheid waar die een of ander tersaaklike eietydse kwessie aan die orde gestel word. Die doel daarvan is om veral studente ʼn kans te gee om deel te neem aan ʼn vorm van ingeligte, openhartige en eksploratiewe samespraak. Ons voorsien hiermee na ons mening in ʼn steeds dringender behoefte aan die ontwikkeling van ʼn kritiese bewussyn oor eietydse diskoerse en gekontesteerde kwessies, dikwels met verwysing na die rol van letterkunde en ander artistieke vorme in ons komplekse maatskappy. Die geleenthede dien ook om die idee te vier dat dit moontlik is om oor enige moeilike saak te praat met ʼn soort informele grasie, met behoud van selfrespek, respek vir ander en ʼn wellewende, geesryke retoriese styl. Ons uitgenooide gaste kom uit wye ’n spektrum van skrywers, denkers, musici en aktiviste van binne en buite die Universiteit van Stellenbosch. Die formaat wissel van voordragte, tot lesings, tot paneelbesprekings en uitgebreide persoonlike onderhoude.


Kollokwium 2022

Om die draai

Vier Afrikaans outeurs, Jolyn Phillips, Alettie van den Heever, Ryan Pedro en SJ Naude bespreek hoe hulle Suid(er)-Afrika in 2050 verbeel. Hulle het hul visie krities dog speels in prosa en poësie uiteengesit.

As jy ‘n idee wil hê van wat hulle gesê het, klik hier vir Ryan Pedro se bydrae en hier vir SJ Naude s’n.


IMG_3818-crop.JPG

Dr Alfred Schaffer, Alettie van den Heever, Jolyn Phillips, Ryan Pedro, SJ Naude en dr Willem Anker.


Colloquium panel.JPG

Sal die eerste 50 jaar van die eeu so ingrypend wees soos die eerste 50 jaar van die twintigste eeu? Hoe sien ons wêreld daar uit polities, kultureel, ekonomies, ekologies, sosiaal-maatskaplik? Watter tale praat ons in 2050? Hoe lyk die natuurlandskap? Hoe lyk Milnerton, Mitchells Plain, Mosselbaai? Hoe lyk die verdeling tussen arm en ryk? Het ons 24/7 beurtkrag, of is energievoorsiening soos ons dit ken iets van die verlede?


Vorige kollokwia

​2016 ​Die Antroposeen en klimaatsverandering
​2015 ​Bou jou eie Departement Afrikaans
​2014 ​Mens dier ding. Alfred Schaffer oor sy veelsydige digterskap: Gesprek met Marlene van Niekerk
​2012 ​Johnathan Zapiro in gesprek met Marlene van Niekerk
​2010 Brief aan Suid-Afrika: Digters skryf ’n gedig as “antwoord” op Allen Ginsberg se gedig “America”, maar met verwysing na Suid-Afrika
​2009 ​Larkin in Afrikaans: ’n Eksperiment in vertaling
​2008 ​Mystic Boere: Lirieke in Afrikaanse rockmusiek
​2007 ​Ivan Vladisavic in gesprek met Marlene van Niekerk