Afrikaans & Dutch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Geskiedenis

​'n Oorsig oor die ontwikkeling van die Departement Afrikaans en Nederlands neem 'n mens terug na die voorlaaste dekade van die negentiende eeu en die Universiteit se voorgangers, te wete die Arts Department van die Stellenbosch Gymnasium, die Stellenbosch College en die Victoria College.  Op 1 Januarie 1880 is professor Nicolaas Mansvelt aangestel as professor in Moderne Tale en Geskiedenis in die destydse Arts Department van die Stellenbosch Gymnasium. Hy was maar slegs die vierde persoon wat professorale status hier verwerf het, en het in dié pos aangebly met die oorgang na die Stellenbosch College (1881) en die Victoria College (1887). Uit die destydse Departement Moderne Tale ontwikkel die Departement Nederlands in 1904 tydens die diensjare van prof. W.J. Viljoen. Dit word later die Departement Nederlands en Afrikaans met prof. J.J.Smith as professor, 'n pos wat hy van 1919 tot 1945 beklee. Sedert 1926 was hy ook die eerste hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.  Bekende akademici soos proff. E.C. Pienaar en Lydia van Niekerk was kollegas van prof. Smith.  In 1930 word prof. F.E.J. Malherbe aangestel as professor in die Departement Afrikaans-Nederlands.  Die Departement sou hierdie naam hou tot die laat sewentigerjare toe dit die Departement Afrikaans en Nederlands geword het.  Oor die dekades heen het die Departement toonaangewende taal- en letterkundiges as professore gehad, te wete proff. W. Kempen, M. de Villiers, W.J. du P. Erlank, D.J. Opperman, W.E.G. Louw, H.v.d. M. Scholtz, J.G.H. Combrink, F.A. Ponelis, J.P. Smuts, L. Spies, L.G. de Stadler, L. Viljoen en M. van Niekerk​ . Die Departement het 'n lang tradisie waarop voortgebou word, ooreenstemmend met die eise van die tyd en veranderinge in die Suid-Afrikaanse samelewing. 

Die Departement Afrikaans en Nederlands is 'n uitsonderlik diverse sentrum van vakkundigheid in deurlopende gesprek en samewerking met ander nasionale en internasionale taalgebiede en -professies. Gehalte-navorsing onderlê die uiteenlopende aktiwiteite wat sentreer om die Departement se gevestigde kern, naamlik die studie en onderrig van Afrikaanse en Nederlandse letterkunde, taalkunde en toegepaste rigtings.  Daarbenewens lewer die departement 'n besonder wye aanbod van akademiese sowel as praktykgerigte, meertalige opleiding in skeppende skryfwerk, leksikografie, vertaling, tolking en redigering​.