Oor ons Skrywerswerkswinkels
Die Departement Afrikaans en Nederlands is van plan om weer die Skrywerswerkswinkels aan te bied – hierdie keer onder die Leerstoel in Kreatiewe Skryfkunde. Kom kyk gou weer hier vir besonderhede.
Die Departement bied ook ’n hele aantal kredietdraende nagraadse kortkursusse in taalpraktyk en Nederlandse taalverwerwing aan.
Ons Skrywerswerkswinkels se geskiedenis
Die Departement Afrikaans en Nederlands
bied sedert 1999 slypskole oor kreatiewe skryfwerk aan vir studente en
lede van die publiek. Die doel met ons jaarlikse werkswinkels is om aan
aspirantskrywers die geleentheid te bied om hul talente te slyp onder
leiding van 'n gevestigde skrywer of 'n kundige uit die skryf- en
uitgewersprofessie. Poësie is verreweg die gewildste genre, maar daar
word ook op gereelde grondslag werkswinkels in ander genres aangebied:
kortverhale (onder meer kontreiverhale en tydskrifverhale); rubrieke en
essays; romans; dramas; en kinder- en jeugliteratuur. Daar is ook al
werkswinkels vir hoërskoolleerlinge aangebied. Meer as 50 skrywers het
reeds by hierdie werkswinkels as aanbieders opgetree, byvoorbeeld die
Hertzogpryswenners Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Henning
Pieterse, Petra Müller, Deon Opperman en Tertius Kapp.