Indien jy nie in staat sal wees om jou klasse by te woon nie, moet jy aansoek doen om verlof tot afwesigheid. Raadpleeg asb. paragraaf 12 (Afwesigheid van akademiese aktiwiteite) van Deel 1 van die Jaarboek (Algemene Reëls).
Alle studente moet aan die betrokke vereistes vir klas- en assesseringsbywoning voldoen, aangesien dit deel uitmaak van die kurrikulum van die betrokke graad-, sertifikaat- of diplomaprogram waarvoor hulle geregistreer het.
In die geval van afwesigheid van enige verpligte akademiese aktiwiteite (bv. klas-, praktiese, kliniese, navorsings- of assesseringsaktiwiteite), geld die reëls in Deel 1 van die Jaarboek vir beide voor- en nagraadse studente.
Indien jy noodwendig klasse misloop weens ʼn rede soos ʼn tydperk van siekte, is dit jou verantwoordelikheid om die werk wat jy misgeloop het, in te haal; dus sal jy selfstudie moet doen. Die moduleraamwerke wat op SUNLearn beskikbaar is, bevat die kontakbesonderhede van jou dosente. Dit is ook nuttig om jou vriende wat dieselfde modules as jy het, te vra watter werk in die klas behandel is of om hulle aantekeninge te lees. Indien jy vrae ná selfstudie het, kan jy jou dosent kontak of van hul spreekure gebruik maak om spesifieke vrae aan hulle te stel.
Geen reëlings vir verlof tot afwesigheid sal getref word vir studente wat afwesig is gedurende hul assesseringsgeleenthede vir semester- en jaarmodules (A1S1, A2S1, A3S1, A1S2, A2S2, A3/A3S2) nie. Indien jy ʼn geruime tyd afwesig sal wees en assesserings gaan misloop, neem kennis van die Fakulteit se Voorgraadse Assesseringsreëls (by hierdie skakel) beskikbaar. Die Assesseringsreëls maak voorsiening vir studente wat weens die een of ander rede nie in staat is om ʼn assesseringsgeleentheid te voltooi nie. In elke module word ʼn aantal assesseringsgeleenthede aan studente gebied. Behalwe dat studente ʼn minimum getal assesserings moet voltooi, moet hulle ook A2/A2S2 of A3 voltooi en aan enige subminimum kriteria voldoen (indien van toepassing) ten einde ʼn geldige finale punt te behaal. Gaan jou moduleraamwerk na vir spesifieke vereistes.
Indien ʼn student se aanbevole aansoek om verlof tot afwesigheid vir verlengde tydperke is, kan dit onmoontlik wees om die betrokke akademiese verpligtinge in te haal en binne die normale tydperk te voltooi wat vir die spesifieke module, jaar of program toegelaat word. Dit kan nodig wees om die kurrikulumprogram te verleng, aansoek te doen om die studies vir ʼn jaar te onderbreek, of dit te oorweeg om die studies te staak en op ʼn latere stadium te hervat.
Indien jou mediese praktisyn verdere verlof tot afwesigheid aanbeveel, sal jy dit dalk moet oorweeg om jou studies vir die res van die jaar te staak. Gaan die universiteitsalmanak na vir die sperdatum vir die staking van studie weens mediese redes. Indien jy nie 50% van die krediete slaag vir die akademiese jaar waarvoor jy geregistreerd is nie, moet jy vir hertoelating aansoek doen. Indien dit op jou akademiese loopbaan van toepassing is, sal jy daaroor ingelig word. Indien daar ʼn risiko bestaan dat jy nie voldoene krediete aan die einde van die jaar slaag nie, sal jy in kennis gestel word en riglyne ontvang oor hoe en teen wanneer om aansoek te doen.
Indien jy deur siekte of ander oorsake verhoed word om aan verpligte akademiese aktiwiteite deel te neem, soos navorsing, klasse, praktika, kliniese werk, klasassesserings of die uitvoering van klaswerk, moet jy die betrokke akademiese personeellid van die module of program onverwyld raadpleeg. Dit is jou persoonlike verantwoordelikheid om ʼn aansoek om verlof tot afwesigheid in te dien. Die indiening van ʼn aansoek om verlof tot afwesigheid deur ʼn derde party sal net oorweeg word as jy medies ongeskik is (met bewys van mediese ongeskiktheid). Jy moet onverwyld ʼn geskrewe aansoek vir verlof tot afwesigheid by die betrokke beampte in die Sentrum vir Akademiese Administrasie (SAA) indien, behalwe wanneer die afwesigheid slegs vir een dag was. In die laasgenoemde geval behoort die betrokke akademiese personeellid die aansoek om verlof tot afwesigheid te hanteer.