Economic and Management Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Meer Oor

Die Fakulteit beslaan drie geboue op die hoofkampus in Stellenbosch, terwyl die nagraadse programme van die Bestuurskool en die Skool vir Publieke Leierskap by die Bellvillepark-kampus aangebied word.

Ons opleiding vir professionele registrasie in spesialisvelde soos rekeningkunde, aktuariёle wetenskap en finansiёle beplanning geniet beide nasionale en internasionale akkreditasie deur professionele institute. Boonop is ons studente se prestasies in eksterne eksamens daadwerklike bewys van die gehalte van ons programme. In dieselfde trant word die programme in bedryfsielkunde en menslike hulpbronbestuur deur professionale liggame erken. In ander dissiplines word gehalte-onderrig deur samewerkingsooreenkomste gerugsteun, wat onder andere die uitruil van studente en onderrigpersoneel en gesamentlike navorsingsprojekte met internasionaal erkende akademiese instellings insluit.

Die afgelope paar jaar het die Fakulteit sy nagraadse platform uitgebou en diversifiseer. Die mees onlangse ontwikkeling is die toevoeging van 'n nagraadse skool in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe in 2014. Die skool bied 'n voltydse beursprogram aan navorsers van Afrika en die res van die wêreld om hulle in staat te stel om hul doktorale studie binne drie jaar te voltooi.

Die meeste nagraadse studente studeer aan die Skool vir Publieke Leierskap en die Bestuurskool, terwyl die Afrika Sentrum vir MIV-/Vigsbestuur met 'n jaarlikse inname van byna 300 studente spog. Die Bestuurskool is een van die min bestuurskole buite Europa wat geakkrediteer is deur die Europese Kwaliteitsverbeteringstelsel (European Quality Improvement System) van die Europese Stigting vir Bestuursontwikkeling. Daarbenewens is die Bestuurskool se MBA-program deur die Britse Vereniging van MBA's geakkrediteer.

​Die Fakulteit streef ywerig na uitmuntendheid in navorsing, asook kapasiteitsontwikkeling. Ons is dus besonder trots op ons 26 NNS-geёvalueerde navorsers en die Fakulteit se Leerstoel in die Ekonomie van Sosiale Beleid.