Eredoktorsgrade

Die Universiteit Stellenbosch ken eredoktorsgrade toe aan buitengewone individue wat hulleself op hul onderskeie gebiede onderskei het en 'n beduidende bydrae tot die samelewing gelewer het.

Die Universiteit sal gedurende die Maart 2024-gradeweek eredoktorsgrade aan die volgende persone toeken:

Prof Leonard Wantchekon

As professor in die politiek en internasionale sake aan die Princeton-Universiteit, het prof Leonard Wantchekon wesenlike bydraes tot die gebied van die politieke ekonomie, ontwikkelingsekonomie en ekonomiese geskiedenis gelewer. Sy navorsing fokus op Afrika, veral op demokratisering, kliëntelisme en herverdelingspolitiek, die ‘hulpbronne-vloek’ en die langtermyn- maatskaplike impak van geskiedkundige gebeure.

Sy innoverende werk sluit navorsing oor politieke instellings en bestuur in en het veldproewe met politici behels wat aan intydse verkiesings deelgeneem het om die uitwerking van beleid en veldtogboodskappe op kiesers se gedrag te ondersoek. Sommige van sy ander baanbrekerstudies het die langtermyn- ekonomiese gevolge van belangrike geskiedkundige gebeure, soos die Atlantiese slawehandel, op Afrika ondersoek.

Wantchekon het in 2014 die Afrika-skool vir Ekonomie (ASE) in Benin, sy geboorteland, gevestig. Die skool identifiseer voornemende Afrika-ekonome en beleidmakers en berei hulle vir die bedryf of vir doktorale studie voor. Sedertdien het verskeie ASE-studente reeds vir PhD-programme aan universiteite in die Verenigde State en elders ingeskryf.

Hy het posisies aan Yale-Universiteit en die Universiteit van New York beklee. Hy is ’n genoot van die Amerikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap, asook van die Ekonometriese Vereniging, en is lid van die uitvoerende komitee van die Internasionale Ekonomiese Vereniging.

Die graad, Doktor in die Handel (DCom), honoris causa, sal aan Wantchekon toegeken word.

Prof James Robinson

Prof James Robinson is ’n denkleier oor ekonomiese ontwikkeling en politieke instellings. Hy het ’n sleutelrol in die vestiging en bevordering van die veld van kwantitatiewe ekonomiese geskiedenis in Suid-Afrika gespeel en word erken vir sy toewyding om in die Globale Suide te werk en aktief met opkomende vakkundiges in Latyns-Amerika en Afrika suid van die Sahara saam te werk.

Robinson se verbintenis met die Universiteit Stellenbosch (US) duur al etlike jare. Hy het die Universiteit ondersteun terwyl dit voorberei het om die heel eerste Wêreldekonomiese Geskiedeniskongres in Afrika in 2012 aan te bied. Samesprekings ná hierdie gebeurtenis het tot die stigting van die Laboratory for the Economics of Africa's Past (LEAP) gelei om Afrika-stemme in die vakgebiede van Ekonomiese Geskiedenis en Ekonomiese Ontwikkeling te verhef.

Hy het ook saam met medewerkers van die US, die Universiteit van Chicago en Harvard ’n projek aangepak wat op vroue se politieke deelname in Afrika suid van die Sahara in historiese en kontemporêre kontekste fokus. Die kennisuitruiling tussen die US en Chicago bly aktief.

Robinson dien tans as die Eerwaarde Dr Richard L Pearson-professor in Globale Konflikstudie, universiteitsprofessor asook direkteur van die Pearson Instituut vir die Bestudering en Oplossing van Globale Konflikte – alles aan die Universiteit van Chicago.

Die graad, Doktor in die Handel (DCom), honoris causa, sal aan Robinson toegeken word.