Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Die Infeksiesiektesentrum (ISS)

Die ISS is 'n multidissiplinêre entiteit wat navorsing oor die voorkoming en bestuur van infeksies en infeksiesiektes op streeks- en nasionale grondslag in die Suid-Afrikaanse gemeenskap koördineer.

Die ISS is ook die tuiste van die Afrikanetwerk vir Middel- en Diagnostiese Innovasie (ANDI) se Sentrum van Uitnemendheid vir TB -oordragnavorsing.

Die Afrikanetwerk vir Middel- en Diagnostiese Innovasie (ANDI) is in 2008 met finansiering van die Europese Unie en ander belanghebbendes geskep. ANDI wil navorsingsvermoë en leierskap in Afrika bou sodat meer navorsing onderneem sal word vir die ontdekking en ontwikkeling van nuwe en beter instrumente om die siektes wat die Afrikavasteland buite verhouding swaar beïnvloed, die stryd aan te sê.

ANDI se Sentrums van Uitnemendheid neem deel aan die inwerkingstelling van ANDI-projekte, wat merendeels met vermoëbou sowel as die aanmoediging van samewerking en netwerkvorming tussen Afrikalande verband hou.

 

Die Afdeling Infeksiesiektes, Departement Geneeskunde

Die Afdeling Infeksiesiektes is 'n stigterslid van die Universiteit Stellenbosch se Infeksiesiektesentrum (ISS). Buitepasiëntdienste word vanuit die Infeksiesiektekliniek by Tygerberg Hospitaal gelewer.

Die Afdeling het 'n standaardkliniek vir antiretrovirale MIV-behandeling, wat die voorkoming van moeder-na-kind-oordrag insluit; 'n kliniek vir komplekse infeksiesiekte- (IS-)probleme (waaronder MIV en TB), en 'n enkeldoelkliniek vir primêre immuuntekorte. Binnepasiëntdienste sluit in antibiotiese beheer en kliniese IS-konsultasies vir alle departemente in Tygerberg Hospitaal.

Dit beskik ook oor 'n aktiewe IS-uitreikdiens na die dorpe Stellenbosch, die Paarl, Worcester, Malmesbury en Khayelitsha. Ons is boonop betrokke by voor- en nagraadse onderrig in infeksiesiektes.

 

Die Eenheid vir Infeksievoorkoming en -beheer

Die akademiese Eenheid vir Infeksievoorkoming en -beheer is geleë by die Tygerberg Akademiese Hospitaal en die FGGW. Dit val onder die Afdeling Gemeenskapsgesondheid en behoort ook tot die Infeksiesiektesentrum.

Die Eenheid konsentreer op geïntegreerde navorsing, opleiding en dienslewering. Dit bied 'n verskeidenheid pasgemaakte kursusse in infeksievoorkoming en -beheer sowel as ontsmetting en sterilisasie vir steriele diensdepartemente aan.

Daarbenewens word kursusse oor spesialiteitsonderwerpe, soos die operasiesaal, nierdialise, intensiewe sorg en infeksiesiektes, aangebied.

 

Die Afdeling Geneeskundige Mikrobiologie, Departement Patologie

Die Afdeling Geneeskundige Mikrobiologie konsentreer op bedryfsnavorsing wat die diagnose van infeksiesiektes verbeter, met 'n voorkeur vir projekte wat duidelik relevant is vir die gesondheidsbehoeftes​ van die Wes-Kaapse gemeenskap.