Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Navorsing

Die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het oor dekades van toegewyde en volgehoue werk 'n uitstekende navorsingsreputasie opgebou. Ons doen steeds ons naam gestand as 'n toonaangewende navorsingsryke omgewing, nie net deur nasionale en plaaslike vennootskappe nie, maar ook omvattende internasionale medewerking. Ons navorsingsagenda, wat op strategiese fokusgebiede berus, verseker dat ons navorsingsbedrywighede die ernstige gesondheidsuitdagings op die Afrikavasteland die hoof bied.

Die afgelope jare het ons navorsers ongekende sukses beleef met die verkryging van eksterne toelaes. Die voorreg om navorsing te kan onderneem, gaan egter gepaard met die verantwoordelikheid om te publiseer. Daarom is dit verblydend dat ons navorsers al hoe meer hul stempel op internasionale literatuur afdruk. Selfs méér bevredigend is die toenemende bewyse dat hul navorsing gesondheidsbeleid en -praktyk binne én buite Suid-Afrika positief beïnvloed.

Die Fakulteit se navorsingsbedrywighede en -uitsette in die vyf jaar vanaf 2007 tot 2011 toon 'n beduidende toename in volume sowel as gehalte. Die jaarlikse uitset van die Fakulteit spreek van 'n trotse navorsingstradisie, met meer as 300 beoordeelde wetenskaplike artikels in vaktydskrifte en meer as 600 wetenskaplike referate, opsommings en plakkate by kongresse en ander wetenskaplike byeenkomste in Suid-Afrika en die buiteland. Ons ken ook jaarliks gemiddeld 80 magister- en meer as 20 doktorsgrade toe.

Die Fakulteit is boonop 'n leier in die verkryging van ultramoderne tegnologie en toerusting, soos die breinbeeldingskandeerder 3-Tesla Allegra en die Orbitrap-massa-spektrometer – albei die eerste in hul soort in Afrika.

 

 

 » Kliek hier vir die US Kennisgids

Die waarde van hierdie gids lê hierin: voornemende nagraadse studente sal moontlike studieleiers kan identifiseer; dit sal mediaskakeling bystaan; nasionale en internasionale navorsers en potensiële industrie vennote sal via die gids kan soek vir US kundiges binne spesifieke areas; dit het die potensiaal om interdissiplinêre netwerke tussen US navorsers te versterk; en in die algemeen, om die sigbaarheid van US navorsingsterkpunte en individuele navorsingskundigheid te verhoog.