Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​​
 


​​​​​​Meer oor o​​​​ns


WELKOM BY DIE FAKULTEIT VAN GENEESKUNDE EN GESONDHEIDSWETENSKAPPE

Die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) is sedert 1956 sinoniem met uitnemendheid in mediese en gesondheidswetenskappe-opleiding en -navorsing in Suid-Afrika. Die Fakulteit is aan die voet van Kaapstad se Tygerberg-heuwels geleë en ons strewe daarna om 'n lewenskragtige gemeenskap van studente, leerders, opvoeders, navorsers en personeel te wees wat daartoe verbind is om die toonaangewende gesondheidswetenskappefakulteit in Afrika te wees.

Die FGGW is een van 10 fakulteite aan die Universiteit Stellenbosch en is die tuiste van 15 akademiese departemente, wat op hul beurt 18 sentrums, buro's en institute huisves. Ons voorgraadse akademiese aanbod sluit grade in Arbeidsterapie, Dieetkunde, Fisioterapie, Geneeskunde-en-Snykunde (MBChB), Spraak-Taal- en Gehoorterapie en Verpleeg-en-Verloskunde in. Ons bied 'n verskeidenheid Honneursgrade en meer as 90 Magister- en Doktorale programme in 'n verskeidenheid van dissiplines aan, insluitend Sportwetenskap.

Ons doelwit is om toekomstige gesondheidsberoepslui te ontwikkel wat deur middel van innovasie en leierskap gesondheid sal bevorder, siekte sal voorkom en optimale gesondheidsorg sal voorsien.

Ons het 'n diverse studentekorps van sowat 5 000 voorgraadse en nagraadse studente. Ons personeel bestaan uit meer as 1 600 individue wat in diens van die Universiteit Stellenbosch en vennote soos die Wes-Kaapse Regering en die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens is.

Die hoë suksessyfers van studente aan die FGGW kan toegeskryf word aan die sterk klem op die gehalte van onderrig en leer, met inbegrip van doeltreffende studentesteundienste. Die Ukwanda Landelike Kliniese Skool, een van die Fakulteit se unieke onderrig-innovasies, bevorder landelike en distriksgebaseerde opleiding van gesondheidsberoepslui en stel hulle in staat om doeltreffend op Suid-Afrika se unieke gesondheidsorgbehoeftes te reageer.

Die fakulteit is 'n selfgedrewe sentrum van globale uitnemendheid op talle gebiede en was die geboorteplek van verskeie medies- en gesondheidswetenskapverwante baanbrekersinisiatiewe. 'n Navorsingagenda wat deur strategiese navorsingsfokusareas bepaal word, verseker dat ons navorsingsbedrywighede gerig is op die belangrikste gesondheidsuitdagings in Afrika. Ons het 'n reputasie vir uitstekende navorsing wat oor dekades van nougesette en volgehoue ywer opgebou is en is allerweë bekend vir ons wêreldklasnavorsing oor onder meer aansteeklik siektes, insluitend van tuberkulose en MIV/Vigs, die gesondheid van moeder en kind en neuro-psigiatriese steurnisse.

 

Ons is die tuiste van vername navorsingsentiteite, insluitend die Buitemuurse Eenheid vir Navorsing oor die Genomika van Brein-afwykings, die DST/NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Biomediese Tuberkulose-navorsing en die Desmond Tutu TB-sentrum. Ons spog met wêreldklasnavorsers en pas internasionale beste praktyke en bewysgebaseerde benaderings in leer en onderrig toe om die beste akademiese uitkomste te verseker.

Die FGGW is die tuiste van 92 navorsers met graderings van die Nasionale Navorsingstigting, en sewe navorsingsleerstoele van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief. Ander navorsingsleerstoele sluit die Sarah Turoff-navorsingsleerstoel in Skisofrenie en leerstoele in Proteometrika, Fisioterapie, Kankerwetenskap en Sport- en Oefeningsgeneeskunde.

Ons is verbind tot uitnemendheid en leierskap in geneeskunde, gesondheidswetenskappe, onderrig, navorsing, kliniese sorg en gemeenskapsdiens. Ten einde ons doelwitte te bereik, bevorder ons 'n stel gemeenskaplike waardes wat prestasie aanmoedig.



​​​​​