Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

MIV/vigs

​​
FAM-CRU

Die infeksiesiekte-gerigte navorsingsentiteit ressorteer onder Departement Pediatrie en Kindergesondheid. FAM-CRU (voorheen bekend as KID-CRU) is in 2002 gestig en het sy deure amptelik in September 2003 as navorsingseenheid vir kliniese proefnemings geopen. Die missie van die Family Clinical Research Unit (FAM-CRU) is om navorsing van gehalte te onderneem en 'n sentrum van uitnemendheid vir die bestuur van pediatriese infeksiesiektes te word.

Die Eenheid se navorsing word deur sowel die provinsiale as die nasionale regering onderskryf. KID-CRU konsentreer hoofsaaklik op navorsing oor die behandeling en bestuur van pediatriese MIV/vigs en tuberkulose, en versterk só ons vermoë om hierdie toestande te beheer.

 

Die Afdeling Geneeskundige Virologie, Departement Patologie

Die Afdeling Geneeskundige Virologie bied 'n omvattende diagnostiese virologiediens, wat die opsporing en isolasie van virusse sowel as serologiese ondersoeke insluit. Die Afdeling lei voor- én nagraadse studente op.

Navorsing in die Afdeling lê deurentyd klem op verskillende aspekte van MIV. Navorsingsgebiede sluit die volgende in:

  • Die genomiese diversiteit en molekulêre epidemiologie van MIV
  • Immunologiese aspekte van MIV-infeksie in soverre dit met die ontwikkeling van entstowwe verband hou
  • Ander, nuwe immunoterapeutiese benaderings, en antiretrovirale middelweerstandigheid

Die FGGW het in Oktober 2008 die eerste vennootperseel in die konsortium GHRC (Global HIV Vaccine Research Cryorepository) geword waar hoogs gespesialiseerde, unieke krio-toerusting geïnstalleer is.

GHRC staan onder leiding van dr Hagen von Briesen van die Fraunhofer-instituut vir Biomediese Ingenieurswese in Duitsland – 'n toonaangewende organisasie vir toegepaste navorsing en ontwikkeling met besondere kundigheid in kriobiotegnologie – en word deur die Bill & Melinda Gates-stigting gefinansier. Die doel van die projek is die vestiging van 'n wêreldwye MIV-eksemplaarversameling van kliniese monsters (soos serum, plasma, perifere bloedmononukleêre selle/PBMS'e, en geïsoleerde virusse) met behulp van 'n ultramoderne bewaarplek.