Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Openbare gesondheid

Die Eenheid vir Navorsing oor Gesondheid en die Samelewing

Die hoofdoel van die Eenheid vir Navorsing oor Gesondheid en die Samelewing is navorsing oor die gemeenskaps-, maatskaplike, gedrags- en menslike aspekte van gesondheid, ten einde die gesondheidstatus van alle Suid-Afrikaners te verbeter en tot kennis en begrip van openbare gesondheid en maatskaplike ontwikkelingsprobleme wêreldwyd by te dra.

 

Die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg

Die doel van die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg is drieledig. Eerstens beoog die Sentrum om bewysgebaseerde gesondheidsorg op voor- én nagraadse vlak met die oog op alle gesondheidsberoepslui te ontwikkel, te onderrig en te bevorder. Tweedens wil die Sentrum ondersteuning en hulpbronne met betrekking tot bewysgebaseerde gesondheidsorg voorsien, sodat gesondheidsberoepslui die hoogste praktykstandaarde kan handhaaf. Derdens streef die Sentrum daarna om die regering, nieregeringsorganisasies en die privaat sektor aan te moedig om beste bewyse in gesondheidsorgbeleid en -praktyk te gebruik.

 

Die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg, Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe

Die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg is verantwoordelik vir die holistiese mediese sorg van individue in gesins- en gemeenskapsverband. In sy onderrigaktiwiteite beklemtoon die Afdeling 'n pasiëntgerigte benadering tot primêre sorg, hoewel dit stewig gegrond bly op biomediese wetenskap en kliniese vaardighede.

Die navorsingsaktiwiteite van die Afdeling konsentreer op die ontwikkeling van primêre sorg van gehalte in 'n distriksgesondheidstelsel, en die ontwerp van innoverende onderrigmetodes in die gesondheidswetenskappe.

 

Die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg

Die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg is betrokke by voorgraadse en nagraadse bio-etiek-onderrig, empiriese navorsing oor bio-etiekkwessies, en konsultasiedienste aan omliggende hospitale.