Die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, Departement Biomediese Wetenskappe
Die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika is 'n navorsingseenheid wat op twee hoofgebiede, naamlik tuberkulose en oorerflike genetiese afwykings, konsentreer. Hierdie twee oënskynlik uiteenlopende gebiede val albei onder die studie van die fundamentele biologie van nukleïensuur en genetiese materiaal van sowel mense as organismes.
Hierdie molekulêre benadering tot navorsing word versterk deur die gebruik van moderne laboratoriumtegnieke, en samewerking met nasionale en internasionale leiers op die gebied.
Die volgende navorsingsprojekte word onderneem:
- Genetika van Parkinson se siekte: Dit is die enigste navorsingsgroep in Suid-Afrika wat die genetiese grondslag van Parkinson se siekte in die verskillende onderafdelings van bevolkingsgroepe bestudeer. Die groep behoort ook tot 'n internasionale konsortium genaamd GEO-PD.
In die afgelope dekade het dit duidelik geword dat hierdie betreklik algemene neurodegenerasie-toestand 'n beduidende genetiese komponent het, en is minstens ses oorsaaklike gene geïdentifiseer. Die doel van die navorsing is om die genetiese oorsake van Parkinson se siekte by Suid-Afrikaanse pasiënte te bepaal.
Die bepaling van hierdie mutasies sal beter kliniese bestuur van familielede fasiliteer en dit moontlik maak om presimptomatiese genetiese toetse uit te voer.
- Genetika van angsversteurings: Die navorsing behels die studie van die genetiese grondslag van 'n aantal angsversteurings, met die klem op posttraumatiese stresversteuring. Posttraumatiese stresversteuring is 'n uitmergelende psigiatriese versteuring wat ná blootstelling aan 'n traumatiese gebeurtenis kan ontwikkel.
Hoewel 'n groot persentasie individue in hul leeftyd minstens een traumatiese gebeurtenis ervaar, ontwikkel slegs 'n minderheid posttraumatiese stresversteuring. Dít het groot belangstelling gewek om nie net die risikofaktore vir die ontwikkeling van die toestand te bepaal nie, maar ook die faktore wat 'n persoon teen posttraumatiese stresversteuring bestand maak.
Ons onderneem tans 'n aantal molekulêre navorsingsprojekte ten einde hierdie risiko- en weerstandigheidsfaktore te bepaal, onder meer genetiese geval-kontrole-assosiasie, geenuitdrukking en epigenetiese projekte. Die data waarmee dié groep sowel as baie ander navorsers wêreldwyd vorendag kom, lyk belowend, en kan ons uiteindelik in staat stel om 'n profiel van biologiese merkers saam te stel wat met die diagnose en behandeling van die versteuring kan help.