Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Meertaligheid aan die FGGW

In 'n diverse land soos Suid-Afrika behoort dokters en ander gesondheidsorgberoepslui sinvol en verstaanbaar in die taal van die pasiënt se keuse te kan kommunikeer en kulturele sensitiwiteit teenoor pasiënte te toon. Hierdie beginsel is 'n integrale deel van transformasiegerigte leer in die Fakulteit, en dus is 'n omvattende taalinisiatief, wat as die FGGWUlwimi-inisiatief bekend is, in 2012 van stapel gestuur om kulturele en taalgrense tussen gesondheidsorgstudente en pasiënte oor te steek.

Dié inisiatief, wat op beter gesondheidsorguitkomste afgestem is, rig die Fakulteit se pogings om onderrig in die gesondheidswetenskappe te herontwerp en te transformeer ten einde in die behoeftes van die Suid-Afrikaanse samelewing te voorsien.

Opleiding in kliniese kommunikasie in Xhosa en Afrikaans, met die oog op die kliniese omgewing, word tans in al ons voorgraadse programme bekend gestel. Studente in Dieetkunde, Arbeidsterapie, en Spraak-Taal- en Gehoorterapie ontvang reeds deur die hele jaar intensiewe kleingroeponderrig in Xhosa en Afrikaans. Benewens hul voorkliniese Xhosa-opleiding, sal studente in die programme MB,ChB en Fisioterapie vanaf 2014 ook in kliniese kommunikasie in Xhosa en Afrikaans onderrig word.

Die omvattende ontwikkeling van leermateriaal in Xhosa en Afrikaans is goed op dreef in elk van die vyf programme se besondere terminologie. Ons het boonop 'n nuwe e-leerprogram in Xhosa en Afrikaans aangevoor, wat studenteleer sowel as formatiewe en summatiewe assessering sal aanvul. 'n Aantal navorsingsprojekte oor hierdie inisiatief is reeds aan die gang. Die projek het heelwat belangstelling gewek, onder meer 'n onlangse besoek deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT).