Die ISS
is 'n multidissiplinêre entiteit wat navorsing oor die voorkoming en
bestuur van infeksies en infeksiesiektes op streeks- en nasionale
grondslag in die Suid-Afrikaanse gemeenskap koördineer.
Die ISS
is ook die tuiste van die Afrikanetwerk vir Middel- en Diagnostiese
Innovasie (ANDI) se Sentrum van Uitnemendheid vir TB -oordragnavorsing.
Die
Afrikanetwerk vir Middel- en Diagnostiese Innovasie (ANDI) is in 2008
met finansiering van die Europese Unie en ander belanghebbendes geskep.
ANDI wil navorsingsvermoë en leierskap in Afrika bou sodat meer
navorsing onderneem sal word vir die ontdekking en ontwikkeling van nuwe
en beter instrumente om die siektes wat die Afrikavasteland buite
verhouding swaar beïnvloed, die stryd aan te sê.
ANDI
se Sentrums van Uitnemendheid neem deel aan die inwerkingstelling van
ANDI-projekte, wat merendeels met vermoëbou sowel as die aanmoediging
van samewerking en netwerkvorming tussen Afrikalande verband hou.
.jpg)
Die Afdeling Infeksiesiektes, Departement Geneeskunde
Die Afdeling Infeksiesiektes
is 'n stigterslid van die Universiteit Stellenbosch se
Infeksiesiektesentrum (ISS). Buitepasiëntdienste word vanuit die
Infeksiesiektekliniek by Tygerberg Hospitaal gelewer.
Die
Afdeling het 'n standaardkliniek vir antiretrovirale MIV-behandeling,
wat die voorkoming van moeder-na-kind-oordrag insluit; 'n kliniek vir
komplekse infeksiesiekte- (IS-)probleme (waaronder MIV en TB), en 'n
enkeldoelkliniek vir primêre immuuntekorte. Binnepasiëntdienste sluit in
antibiotiese beheer en kliniese IS-konsultasies vir alle departemente
in Tygerberg Hospitaal.
Dit beskik
ook oor 'n aktiewe IS-uitreikdiens na die dorpe Stellenbosch, die Paarl,
Worcester, Malmesbury en Khayelitsha. Ons is boonop betrokke by voor-
en nagraadse onderrig in infeksiesiektes.
Die Eenheid vir Infeksievoorkoming en -beheer
Die akademiese Eenheid vir Infeksievoorkoming en -beheer
is geleë by die Tygerberg Akademiese Hospitaal en die FGGW. Dit val
onder die Afdeling Gemeenskapsgesondheid en behoort ook tot die
Infeksiesiektesentrum.
Die Eenheid
konsentreer op geïntegreerde navorsing, opleiding en dienslewering. Dit
bied 'n verskeidenheid pasgemaakte kursusse in infeksievoorkoming en
-beheer sowel as ontsmetting en sterilisasie vir steriele
diensdepartemente aan.
Daarbenewens
word kursusse oor spesialiteitsonderwerpe, soos die operasiesaal,
nierdialise, intensiewe sorg en infeksiesiektes, aangebied.
Die Afdeling Geneeskundige Mikrobiologie, Departement Patologie
Die Afdeling Geneeskundige Mikrobiologie
konsentreer op bedryfsnavorsing wat die diagnose van infeksiesiektes
verbeter, met 'n voorkeur vir projekte wat duidelik relevant is vir die
gesondheidsbehoeftes van die Wes-Kaapse gemeenskap.