Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Besigheidsbestuur

Die Afdeling Besigheidsbestuur behartig die doeltreffende sakebestuur van die Fakulteit ooreenkomstig algemene bestuursbeginsels. In samewerking met funksionele steundienste, is die Afdeling verantwoordelik vir doeltreffende bedryfsdienslewering aan die Fakulteit se personeel, studente en ander kliënte.

Die Afdeling funksioneer binne die raamwerk van bestaande Fakulteitsbeleid ten einde die sakebestuurslas op die Dekaan, adjunkdekane en departemente te verlig. In oorleg met die hoofde van sentrale steundienste en hul personeel, is die Afdeling verantwoordelik vir die voortgesette verbetering van die gehalte van steundienste aan en in die Fakulteit.

 

Besigheidsbestuur

Die Afdeling is verantwoordelik vir:

  • die ontwikkeling en sluiting van diensleweringsooreenkomste met steundienste op die hoofkampus;
  • die versekering van doeltreffende en doelmatige dienslewering op Fakulteitsvlak wat betref akademiese administrasie, menslike hulpbronne, finansies, fasiliteitsbestuur, inligtingstegnologie en biblioteekdienste;
  • die versekering van goeie kommunikasie en samewerking tussen administratiewe amptenare by die Fakulteit en dié op die hoofkampus;
  • die versekering dat bestuursinligting goed gekoördineer word en bestuursbesluitneming ondersteun; en
  • bystand met strategieformulering en -inwerkingstelling, bedryfsprosesse, kliënte-responsiwiteit en bestuursdoeltreffendheid.

 

Finansiële bestuur

Dít behels:

  • die opstel van 'n lopende finansiële plan ter ondersteuning van die Fakulteit se sakeplan;
  • die versekering dat die finansiële plan uitgevoer word;
  • die ontwikkeling van 'n stel beginsels vir die toewysing van Fakulteitsgeld aan departemente;
  • koördinering van die opstel van die jaarlikse Fakulteitsbegroting;
  • ondersteuning van Fakulteitsbestuur in die uitoefening van begrotingsbeheer om te verseker dat besteding nie die begroting oorskry nie;
  • die bekostiging van nuwe voorstelle, soos nuwe programme;
  • ondersteuning vir die skep van derdestroom-inkomste;
  • bestuur van die toewysing van geld aan kostepunte ooreenkomstig Universiteits- en Fakulteitsbeleid, om te verseker dat strategiese doelwitte bereik word;
  • die opstel van verslae wat die status van departemente in die Fakulteit weerspieël; en
  • skakeling met die Uitvoerende Direkteur: Finansies en Bedryf, en die Hoofdirekteur: Finansies.

     

Fasiliteitsbestuur

Hierdie komponent behels:
  • die ontwikkeling en inwerkingstelling van die Fakulteit se ruimtebeleid;
  • die versekering dat sentraal beheerde fasiliteite soos lesingsale met inligtingskommunikasietegnologie toegerus is om onderrig en leer te ondersteun;
  • die bepaling van nuwe behoeftes vir fasiliteite, soos koshuise, lesingsale, ensovoorts, na gelang van behoefte;
  • die versekering dat geboue en fasiliteite in oorleg met die Afdeling Fasiliteitsbestuur in stand gehou word;
  • die versekering dat die regulasies van die tersaaklike wetgewende liggaam/liggame, soos die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, nagekom word;
  • die versekering van 'n veilige kampus vir personeel en studente in oorleg met US Sekuriteitsdienste;
  • die versekering dat voldoende verblyf beskikbaar is;
  • die bestuur en koördinering van die lewering van alle toepaslike dienste op Tygerberg- en Worcester-kampus; en
  • skakeling met toepaslike sentrale funksionarisse, onder meer die Hoofdirekteur: Fasiliteitsbestuur.

 

Menslike Hulpbronne

In hierdie opsig is die Afdeling verantwoordelik vir:

  • die opstel van 'n jaarlikse personeelplan in pas met die finansiële plan en toewysings;
  • die versekering dat jaarlikse salarisaanpassings in pas met die riglyne van die Departement van Staatsdiens en Administrasie sowel as die Universiteit Stellenbosch geskied;
  • die versekering dat die keurings- en indiensnemingsprosesse behoorlik funksioneer, in samewerking met die Fakulteit se menslikehulpbronbeampte en die Dekaan;
  • die ondersteuning van die Dekaan in die nakoming van diensbillikheidsregulasies gedurende keuring, indiensneming en opvolgingsbeplanning;
  • die vertolking van die vereistes van die Wet op Vaardigheidsontwikkeling vir toepassing op Fakulteitsopleiding en personeelontwikkeling;
  • ondersteuning met die hantering van griewe en dissiplinêre prosedures in die Fakulteit;
  • die bestuur en samestelling van aanstellingskomitees;
  • die bestuur en hantering van eksterne werksversoeke;
  • 'n ondersteunende rol in die bevordering van die prestasiebestuursproses;
  • die bevordering van 'n kultuurverandering in die Fakulteit, veral in die steundienste; en
  • die omskakeling van die Fakulteit se strategie in meetbare doelwitte, sodat individuele personeellede hul eie prestasiedoelwitte daarvan kan aflei.

 

Inligtingstegnologie 

Dít behels:

  • die versekering van werkende fasiliteite vir personeel en studente wat betref inligtingskommunikasietegnologie (IKT);
  • die versekering dat rekenaargebruikersareas vir studente op Tygerberg- en Worcester-kampus (GERGA) in stand gehou en optimaal gebruik word, en oor die jongste IKT beskik;
  • die voortdurende hersiening en aanpassing van IKT-strategieë en -planne om tred te hou met personeel en studente se veranderende behoeftes; en
  • die versekering dat kommunikasiestelsels (privaat outomatiese taksentrale, oftewel PABX) optimaal werk en goed in stand gehou word, en dat personeel en studente toegang het tot dienste.