RDSD
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Navorsings- en Internasionaliseringsontwikkeling & -Steun (NIOS)

​Meer oor die Kantoor vir Voorgraadse Navorsing

Die hoofdoel van die Kantoor vir Voorgraadse Navorsing is om steun te bied aan alle voorgraadse studente in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wat navorsing doen, hetsy as ʼn verpligte of as ʼn keusekomponent van hul grade. Die Kantoor vir Voorgraadse Navorsing streef daarna om ʼn eenstop-winkel vir dienste en hulpbronne aan voorgraadse studente te wees terwyl hulle hul weg deur die navorsingsproses vind.

By die Kantoor vir Voorgraadse Navorsing is ons doel om studente toe te rus om goeie navorsers te word. Jy sal al die inligting en steun wat jy benodig by die Kantoor vir Voorgraadse Navorsing vind – van die ontwikkeling van ʼn protokol tot aansoeke om etiekgoedkeuring en die verkryging van befondsings vir jou navorsing. En omdat ons wil hê jy moet beroemd raak, sal ons ook hulpbronne bied om jou aan te moedig om jou navorsingsbevindinge aan te bied en te publiseer.

Die Kantoor vir Voorgraadse Navorsing se missie is om voorgraadse navorsingsuitsette te verhoog deur 1) gekoördineerde versterking en ondersteuning van navorsingskapasiteit; 2) fasilitering van etiekbeoordeling van voorgraadse aansoeke; en 3) die beskikbaarstelling van befondsing vir navorsingsverwante koste, asook van geleenthede om artikels te publiseer en referate by kongresse aan te bied. Hierdie kantoor skakel ook met Fakulteitspersoneel en -bestuur en met studenteleierskapsliggame om te verseker dat navorsingsverwante beleide, aktiwiteite en hulpbronne in ooreenstemming met kurrikulumvereistes en studentebehoeftes is.

Ons doen almal een of ander vorm van navorsing in ons daaglikse lewens wanneer ons na dinge kyk en vra hoe of hoekom dit voorkom. Die uitvoer van ʼn navorsingstudie verg van ons om ʼn spesifieke stel vaardighede te ontwikkel, van die formulering van ʼn navorsingsvraag tot die ontwikkeling van ʼn protokol, van die insameling en ontleding van data tot die neerskryf van die resultate. Etlike hulpbronne is by die Kantoor vir Voorgraadse Navorsing beskikbaar om studente deur hierdie stappe te lei. Of jy nou wonder waar en hoe om te begin, of jou bevindinge wil publiseer, jy sal die hulp wat jy benodig by die Kantoor vir Voorgraadse Navorsing vind.  Lees meer ›

Van die druk van vraelyste tot die ontwikkeling van nuwe medikasie – navorsing behels uitgawes. Befondsing vir navorsing op universiteitsvlak is voorheen tipies op personeel en nagraadse studente gemik. Die Kantoor vir Voorgraadse Navorsing is daartoe verbind om befondsing vir voorgraadse en honneurs studente wat navorsing onderneem, te identifiseer en te verskaf, hetsy deur die uitreiking van oproepe om direkte befondsing of deur die identifisering van navorsingsbefondsingsgeleenthede van eksterne bronne.    Lees meer ›

Die eerste stap in die uitvoering van etiese navorsing is om aansoek te doen om etiekgoedkeuring van die Gesondheidsnavorsingsetiekkomitee (GNEK). Die Kantoor vir Voorgraadse Navorsing help studente deur hierdie proses deur inligting en persoonlike konsultasies te verskaf. Leiding en steun is ook beskikbaar ná die etiekaansoek, om advies te bied oor etiekkwessies wat tydens die uitvoer van die navorsing na vore kom.   

    Lees meer ›