Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Reproduktiewe gesondheid


Die Departement Verloskunde en Ginekologie

Die Departement Verloskunde en Ginekologie is 'n leier op die gebied van onder meer reproduktiewe geneeskunde, moeder- en fetale geneeskunde, uroginekologie, ginekologiese onkologie en reproduktiewe gesondheid.

Die eenheid vir reproduktiewe geneeskunde in die Departement is bekend as die Tygerberg (Aevitas) In Vitro-fertilisasiegroep. Die naam "Aevitas" beteken 'leeftyd' en die eenheid word wyd erken as 'n leier op die gebied van moderne fertiliteitsorg. Dit is deur prof Thinus Kruger gestig.

Prof Kruger se navorsing en fertiliteitsbehandeling het in 1984 tot die geboorte van Suid-Afrika se eerste 'proefbuis'- (in vitro-)baba gelei. Hierdie gebeurtenis het 'n nuwe era in reproduktiewe geneeskunde ingelui – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook internasionaal.

Aanvanklik het die navorsing op manlike infertiliteit gekonsentreer. Daar is immers baie onbeantwoorde vrae op hierdie gebied van infertiliteit, en die man word dikwels oor die hoof gesien. Die span se grootste bydrae was op die terrein van sperm-morfologie (-vorm) deur die beskrywing van drie fertiliteitspatrone. Hierdie kriteria word nou wêreldwyd gebruik en deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) as internasionale standaard aanvaar.

 

Die Afdeling Geneeskundige Fisiologie, Departement Biomediese Wetenskappe

Die vakgebied van Geneeskundige Fisiologie lewer jaarliks 'n groot aantal nagraadse kwalifikasies op as gevolg van die wye verskeidenheid navorsingsbedrywighede waartoe die dissipline hom leen. Die hoofnavorsingstemas is kardiovaskulêre fisiologie, diabetes, reproduktiewe fisiologie en neurofisiologie.