Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Besering, trauma en rehabilitasie

​​​​​​​​

Die Afdeling Noodgeneeskunde

Die Afdeling Noodgeneeskunde is verbind tot die onderrig en opleiding van spesialis- kliniese assistente wat deur 'n formele akademiese program, 'n mentorskapsprogram, 'n voortdurende beoordelingstelsel en finale eksamenvoorbereidingshulp ondersteun word.

Voorgraadse studente aan albei universiteite word onder meer aan onderrig in noodgeneeskunde blootgestel. Vaardigheid in noodultraklank is deesdae 'n vereiste vir die finale eksamen, en dus is 'n noodultraklank-rotasie vanjaar ontwikkel wat deur 'n virtuele leeromgewing ondersteun word.

Weens die uitbreiding van die Afdeling se aktiwiteite is die Noodsorginstituut Suid-Afrika tot stand gebring. Die Instituut beplan om alle noodsaaklike aspekte van noodgeneeskunde te dek, onder meer onderrig en opleiding sowel as uitreik na ander Afrikalande (soos Botswana, Madagaskar en Uganda). Noodgeneeskunde beleef tans 'n opwindende tyd in die streek, en hierdie ontluikende spesialisrigting is vinnig besig om 'n belangrike grondslag vir gesondheidsorg in Suid-Afrika te word.


Die Sentrum vir Rehabilitasiestudies

Die Sentrum vir Rehabilitasiestudies bied 'n unieke nagraadse program met die oog op alle gesondheidsberoepslui, wat insluit dokters, verpleegkundiges, spraak- en arbeidsterapeute, fisioterapeute, maatskaplike werkers, ensovoorts. Die benadering is interdissiplinêr, met die klem op die ontwikkeling van leiersvaardighede om die ontwikkeling, bestuur en evaluering van, en navorsing oor, toepaslike en kostedoeltreffende rehabilitasie- en gestremdheidsprogramme te fasiliteer.


Die Afdeling Spraak-Taal- en Gehoorterapie

Die Afdeling Spraak-Taal- en Gehoorterapie onderrig en lei gesondheidsberoepslui op om die volgende professionele funksies op die gebied van spraak-taal- en gehoorterapie te vervul:

  • Die voorkoming, bepaling, assessering en behandeling van kommunikasieversteurings
  • Voorligting aan persone met kommunikasieversteurings, sowel as hul geliefdes
  • Konsultasie op die gebied van kommunikasieversteurings
  • Navorsing oor kommunikasieversteurings​
  • Onderrig en opleiding van verwante beroepslui of lekebetrokkenes
  • Die bestuur van die programme wat spraak-taal- en gehoorterapeute in gesondheids-, onderwys- en regeringsverband aan kliënte met kommunikasieversteurings voorsien


Die Afdeling Fisioterapie

Een van die fokusgebiede van die Afdelin​g Fisioterapie is spinale navorsing. Daar is al hoe meer bewustheid van die verwantskap tussen rekenaargebruik en hoë vlakke van liggaamspyn onder adolessente.

Rekenaargebruik word al hoe algemener in Suid-Afrikaanse skole weens die regering se toenemende klem op rekenaargesteunde onderrig ten einde onderwysvermoë in skole te verbeter en loopbane in wetenskap en tegnologie te bevorder.

Indien adolessente egter in die kritieke tydperk van skeletgroei in die werwelkolom vir lang tye voor 'n rekenaar sit, kan dit die spinale strukture beskadig. Die Afdeling se reeks spinale-gesondheidsprojekte in skole beoog om die ontwikkeling van spinale spier- en skeletprobleme onder studente-rekenaargebruikers te ondersoek en te voorkom.

 

Die Departement Verpleeg- en Verloskunde

Die Departement Verpleeg- en Verloskunde is verbind tot die skepping en handhawing van 'n omgewing waarin kennis tot voordeel van die verpleegberoep en die gemeenskap ontdek, gedeel en toegepas kan word.

Die Afdeling is voorts verbind tot uitnemendheid in verpleegpraktyk, -vakkundigheid en -leierskap, wat ondersteun word deur ons primêre navorsingsgebied, naamlik pasiëntgerigte sorg, met onderafdelings vir geweld tussen mense in ʼn intieme verhouding en voortdurende gehalteverbetering.

Hoewel ons besef dat baie verpleegkundiges in die gesondheidsorgbedryf reeds die toonbeeld van leierskap in verpleegkunde is, glo ons dat verpleegkundiges wat terselfdertyd navorsing onderneem, oor die unieke vermoë beskik om deur navorsing of onderrig tot leierskap in verpleegkunde by te dra. Die magister- en doktorale programme is dus ontwerp om verpleegkundiges toe te rus om nuwe kennis te ontdek, en dit toe te pas ten einde praktyk te verander en pasiëntesorg te verbeter.

 

Die Afdeling Arbeidsterapie

Die nagraadse kursusse van die Afdeling Arbeidsterapie bied gekwalifiseerde arbeidsterapeute die geleentheid om hul kwalifikasies op die fokusgebiede van bestuur, navorsing, pediatrie of werksrehabilitasie uit te brei.

 

Die Universiteit Stellenbosch Baro- en Beroepsgeneeskun​defasiliteit

Die Universiteit Stellenbosch Baro- en Beroepsgeneeskundefasiliteit bestaan uit 'n Sechrist 3200E- en 'n Hyox- hiperbariese stelsel wat tot agt pasiënte per dag kan behandel. Die fasiliteit bied ook gespesialiseerde duik-, lugvaart- en beroepspesifieke mediese ondersoeke. Dit is een van twee fasiliteite in die Wes-Kaap wat hiperbariese suurstof aan die plaaslike gemeenskap kan bied.

 

Die Farmakologie- en Toksikologielaboratorium​

Die aktiwiteite van die Afdeling Farmakologie word ondersteun deur 'n Farmakologie-/Toksikologielaboratorium wat 'n voltydse roetine-ontledingsdiens lewer.

Hoewel Tygerberg Akademiese Hospitaal steeds die gereeldste gebruiker van hierdie diens is, is dit toeganklik vir alle hospitale, gesondheidsorgfasiliteite en -agentskappe in die Kaapse Skiereiland (privaat patologiedienste, rehabilitasiesentrums, ensovoorts) wat kwalitatiewe en kwantitatiewe data oor xenobiotika (soos geneeskundige agense, misbruikte middels sowel as toksiese en moontlike toksiese xenobiotika) benodig.

Versoeke van die privaat sektor is aan die toeneem, en aangesien die meeste daarvan met noodgevalle verband hou, word daar sterk op die betroubare voltydse ontledingsdiens gesteun.


Die Gifinligtingsentrum

Die Gifinligtingsentrum bied 'n voltydse farmakologiese/toksikologiese konsultasiediens aan gesondheidsorgberoepslui (op alle vlakke), die bedryf en die lekepubliek.

Hoewel die diens hoofsaaklik in die behoeftes van die Wes-Kaapse provinsie en omliggende streke voorsien, het die nasionale vraag oor die afgelope jare stadig maar seker toegeneem.

Ook búite Suid-Afrikaanse grense blyk die diens in aanvraag te wees, en dienswisselwerking met ander lande op die Afrikavasteland neem geleidelik toe.