Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Tuberkulose (TB)

Die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, Departement Biomediese Wetenskappe

Die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika onderneem navorsing op twee hoofgebiede, naamlik tuberkulose en oorerflike genetiese afwykings. Hierdie twee oënskynlik uiteenlopende gebiede val albei onder die studie van die fundamentele biologie van nukleïensuur en genetiese materiaal van sowel mense as organismes.

Hierdie molekulêre benadering tot navorsing word versterk deur die gebruik van moderne laboratoriumtegnieke en samewerking met nasionale en internasionale leiers op die gebied.

Die Afdeling vul die leemte tussen basiese navorsing en die toepassing daarvan in kliniese TB-navorsing en -bestuur. Hierdie laboratorium is betrokke by fundamentele navorsing om 'n beter begrip te vorm van die biologie van die bakterium, om sodoende aftakeling van die gasheer en vinnige verspreiding onder menslike populasies te voorkom. Dít kan tot die identifisering en tipering van nuwe geneesmiddelteikens lei.

Die Afdeling staan ook aan die voorpunt van navorsing om nuwe bakteriese en gasheermerkers te identifiseer. Dít sal dit moontlik maak om binne 'n veel korter tydperk nuwe middels en entstowwe te beoordeel en nuwe diagnostiese instrumente en multidissiplinêre benaderings te ontwikkel om die epidemiologie van die siekte te begryp.

Elk van hierdie pogings is daarop afgestem om die leemte tussen fundamentele navorsing en die kliniese toepassing daarvan te oorbrug. Sommige kan ook buite die gebied van menslike TB toegepas word, veral op terreine soos natuurbestuur en dieresiektes.

Die Afdeling is die tuiste van 'n aantal navorsingsentiteite, waarvan baie op verskillende aspekte van tuberkulosenavorsing konsentreer.

Die Afdeling is ook die gasheer vir die Stellenbosse nodus van die DWT/NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Biomediese Tuberkulosenavorsing sowel as drie Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoelinisiatief- (SARChI-)leerstoele oor TB-navorsing. SARChI wil hoëvlaknavorsing en navorsingsvermoë deur middel van nagraadse navorsing en opleiding stimuleer.

Die drie SARChI-leerstoele handel oor die volgende:

  • Mikobaktomika (genomika, proteomika, transkriptomika en ander 'omika'-studies van mikobakterieë, veral die spesies wat tuberkulose veroorsaak)
  • Biomerkers van tuberkulose
  • Dieretuberkulose

 

Ander navorsingsentiteite in die Afdeling is soos volg:

Die DWT/NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Biomediese Tuberkulosenavorsing

Die hoofoogmerk van die Sentrum van Uitnemendheid vir Biomediese Tuberkulosenavorsing is om by te dra tot plaaslike en internasionale navorsingspogings om nuwe instrumente vir tuberkulosebeheer te ontwikkel, en om die navorsing te gebruik as 'n werktuig om 'n nuwe generasie biomediese navorsingswetenskaplikes van gehalte op te lei.


 Die MNR Sentrum vir Molekulêre en Sellulêre Biologie

Die MNR Sentrum vir Molekulêre en Sellulêre Biologie bied 'n sterk onderrig- en navorsingsomgewing aan sowat 50 wetenskaplikes, tegnici en nagraadse studente. Dit ontvang ook wetenskaplikes en studente van ander streeksinstellings wie se werk deur ons fasiliteite en navorsingsbelangstellings aangevul word.

 

Die Afrikanetwerk vir Middel- en Diagnostiese Innovasie (ANDI) Sentrum van Uitnemendheid vir MIV-oordragnavorsing

 

Die Desmond Tutu TB-sentrum

Die Desmond Tutu TB-sentrum is 'n akademiese navorsingsentrum met sy hoofkantoor by die FGGW, en satellietkantore in verskeie gemeenskappe wat deur tuberkulose en swak gesondheid geraak word.

Die missie van die Sentrum is om kwesbare groepe se gesondheid te verbeter deur beleid te beïnvloed op grond van nuwe kennis wat uit gesondheidsnavorsing, hoofsaaklik oor TB en MIV, bekom word.