Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Nie-aansteeklike siektes


Kanker

Die Universiteit Stellenbosch het onlangs die Afrika-kankerinstituut (AKI) gestig ten einde kankernavorsing in Suid-Afrika en Afrika te bevorder. Ons kankernavorsing word oor 'n verskeidenheid departemente, afdelings en eenhede heen onderneem, en ons het in die afgelope vyf jaar al meer as 140 referate met betrekking tot kankernavorsing gepubliseer.

 

Die Departement Mediese Beelding en Kliniese Onkologie

Die Departement Mediese Beelding en Kliniese Onkologie bestaan uit die afdelings Kerngeneeskunde, Radiodiagnose, Stralingsonkologie en Mediese Fisika. Radiobiologie is ook onlosmaaklik deel van die Departement.

 ​

Kardiovaskulêre siekte​

Die Afdeling Kardiologie, Departement Geneeskunde

Die Afdeling Kardiologie is 'n integrale deel van die Departement Geneeskunde van die FGGW. Die kliniese aktiwiteite draai om die kardiale eenheid van Tygerberg Hospitaal, wat insluit 'n koronêre sorgeenheid met 25 beddens, 'n kardiale kateterisasie-laboratorium, 'n eggokardiografie-laboratorium en 'n buitepasiëntkliniek. Ons bied 'n volledige reeks kardiale dienste en is boonop trots op ons betrokkenheid by kardiologie-opleiding.

Navorsingsgebiede sluit die volgende in:

  • Valvulêre siekte, veral perkutane behandeling (behandeling deur die vel)
  • Perikardiale siekte
  • Vaso-aktiewe peptiede
  • Metamfetamienmisbruik en die hart

 

Die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, Departement Biomediese Wetenskappe

Een van die navorsingsgebiede van die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika is die genetika van kardiovaskulêre siekte. Hipertrofiese kardiomiopatie (HKM) is 'n oorerflike hartsiekte. HKM is die grootste doodsoorsaak by sportlui onder 35 jaar, en is dikwels die rede waarom jongmense byvoorbeeld skielik op die rugbyveld sterf. Ons is aktief betrokke by die bepaling van die mutasies wat in Suid-Afrika tot dié siekte lei.

 

Uit internasionale navorsing weet ons reeds dat HKM deur meer as 100 verskillende tekorte in die proteïene van die kontraktiele (saamtrekbare) hartspierkomponente veroorsaak word. Van hierdie proteïene, soos miosien en aktien, is al deeglik bestudeer. Die proteïen waarin ons veral belang stel, is miosien-bindingsproteïen C (MiBPC).

 

Die presiese funksie van MiBPC is nog onbekend. Ons weet egter dit moet 'n belangrike rol speel, want mutasies in sekere domeine veroorsaak HKM. Die aard van die MiBPC-funksie maak dus die kern van ons navorsing uit. Suksesse in die werk van die Afdeling het al tot vrugbare samewerking met prof Hugh Watkins van Oxford-universiteit gelei.

 

Diabetes

Die Voedingsinligtingsentrum (NICUS)

NICUS is verbind tot die voorsiening van die jongste geloofwaardige en gesaghebbende inligting ten einde 'n wetenskaplik gegronde voedingskultuur aan te moedig.

 

Die Afdeling Endokrinologie, Departement Geneeskunde

Die Afdeling Endokrinologie is geleë in die metaboliese eenheid van Tygerberg Akademiese Hospitaal. Die metaboliese eenheid met 15 beddens is goed ingerig met voldoende personeel en moderne toerusting (onder meer laboratoria vir biochemie, beendigtheidsmeting en histologie). Buitepasiëntfasiliteite (C7C Tygerberg) en basiese navorsingslaboratoria (3de vloer, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) is ook beskikbaar.

'n Omvattende pasiëntesorgdiens in algemene endokrinologie, diabetologie en metabolisme word voorsien, en die Afdeling dien ook as 'n verwysingsentrum vir pasiënte met metaboliese beensiektes, soos osteoporose en komplekse endokrinopatieë.

Die Afdeling het 'n goed gevestigde belangstelling en geskiedenis in endokriene navorsing op basiese, oordrag- sowel as kliniese vlak, en is aktief betrokke by voor- én nagraadse opleiding. Navorsingsgebiede sluit die volgende in:

  • Molekulêre biologie van osteoblast- en stamseldifferensiasie, -proliferasie en -apoptose, veral in soverre dit met glukokortikoïed-uitwerkings op been verband hou
  • Diabetes, insulienweerstandigheid en metaboliese sindroom
  • Etniese verskille in beensterkte en die voorkoms van frakture
  • Kliniese tiroïdologie
  • Pituïtêre tumore

 

Die Afdeling Menslike Voeding

Die Afdeling Menslike Voeding is sedert die stigting daarvan betrokke by baanbrekerswerk in die opleiding van dieetkundiges en ander gesondheidsberoepslui sowel as by dienslewering en navorsing. Navorsingsgebiede sluit die volgende in:

  • Voedsel- en voedingsekerheid, met die klem op die voeding van moeders, babas en jong kinders
  • Voeding in die konteks van aansteeklike siektes, veral MIV en TB
  • Gespesialiseerde voedingsteun
  • Voeding, menseregte en etiek
  • Voedselveiligheid