Maties
Welkom by Universiteit Stellenbosch

2023 Registrasie Inligting

​Vrywaring 
 
Hierdie kommunikasie word gestuur aan alle voorlopig aanvaarde aansoekers vir 2023 sowel as alle senior studente wat in 2022 geregistreer was. Let asseblief daarop dat hierdie kommunikasie nie beteken dat jy finaal by die Universiteit Stellenbosch aanvaar is nie. 
 
Alle voorgraadse nuwelingstudente (studente wat vir die eerste keer in 'n bepaalde program registreer) moet seker maak dat hulle aan ál die toelatingsvereistes vir hulle gekose studieprogram voldoen voordat hulle Stellenbosch toe kom. Gaan ook asseblief die Universiteit se registrasiewebtuiste gereeld vir die jongste inligting na. 
 

Inskakelingsprogram  

Die Universiteit Stellenbosch het 'n aanlyn inskakelingsprogram wat spesiaal vir alle voorlopig aanvaarde eerstejaars ontwerp is. Let asseblief daarop dat toegang tot hierdie program nie beteken dat jy finaal by die Universiteit Stellenbosch aanvaar is nie.
 
Die program is vanaf 13 Desember 2022 op SUNLearn (die Universiteit se leerbestuurstelsel) te kry. As 'n student, sal jy heelwat tyd op SUNLearn deurbring, so die inskakelingsprogram is 'n goeie manier om met die stelsel vertroud te raak. Alles wat jy oor die Universiteit en jou fakulteit moet weet, is net 'n paar klikke weg!

Verwelkomingstydperk

Die Universiteit bied elke jaar 'n Verwelkomingstydperk vir alle nuwe studente aan. Gedurende hierdie tydperk word nuwe studente bekend gestel aan hul fakulteite, die universiteitsomgewing en die onderskeie studente-steundienste en kampusfasiliteite wat 'n belangrike rol in die kampuslewe speel. Besoek die Welkom Maties-webwerf vir meer inligting.

Datums vir betaling van klas- en huisvestingsgeld vir 2023

Let asseblief daarop dat die eerste verpligte fooibetaling met 'n nuwe betaalrooster vervang is.
 
Daar sal nie gedurende registrasie 'n aparte studenterekening uitgereik word nie. Die maandelikse betaalbare bedrae sal verskyn op die studentegeldrekening wat die Universiteit voor die einde van elke maand sal uitstuur. Die eerste rekening sal eers beskikbaar wees nadat jy geregistreer het en sal binne 'n week ná die sluiting van registrasie versend word.
 
Registrasieprosedures

Let asseblief daarop dat 'n kommunikasie oor finale aanvaarding vanaf 21 Januarie 2023 uitgestuur sal word.
 
Ons versoek vriendelik dat finaal aanvaarde aansoekers van ons aanlyn registrasiestelsel gebruik maak. Indien jy enige probleem met die stelsel of proses ondervind, registreer asseblief hetsy per e-pos (slegs nagraadse programme) of fisies op kampus (voor- én nagraadse programme). Die kontak- en registrasiebesonderhede vir die verskillende fakulteite en programme volg hieronder.
 
Registrasie kan op een van die volgende maniere geskied:
 
Opsie 1: Selfregistrasie/aanlyn registrasie

  • Aangesien die meeste studente aanlyn kan registreer, moedig ons jou aan om van die aanlyn registrasieportaal gebruik te maak.  
  • Voltooi jou selfregistrasie via my.sun.ac.za vanaf enige rekenaar met internettoegang.
  • Die volgende studente sal nié toegang tot selfregistrasie hê nie:
  • Diegene van wie een of meer toelaatbaarheidsbewyse uitstaande is (soos 'n matriekvrystellingsertifikaat, uitslagadvies of post-matriektoelaatbaarheidsbewys)
  • Diegene wie se hertoelating tot die Universiteit nie in orde is nie
  • Diegene wie se studenterekeninge by die Universiteit agterstallig is (debiteure). Indien jou rekening en eerste registrasiepaaiement ten volle vereffen en deur die Afdeling Studentegelde vasgelê is, en jy voldoen aan alle ander vereistes vir selfregistrasie, sal jy kan selfregistreer. Raadpleeg asseblief die afdeling oor studentegeld HIER.
  • Diegene wat vir nagraadse programme by die Universiteit aanvaar is en wat in 2023 vir die eerste keer vir daardie program registreer (nagraadse nuwelinge)
  • Diegene wat vir spesiale programme of as 'n spesiale student registreer
  • Diegene op wie se akademiese rekord daar aan die einde van die vorige jaar 'n ander finale uitslag as “Slaag jaar" verskyn het

 
Opsie 2: E-posregistrasie (nagraadse programme, en terugkerende voorgraadse studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe)

  • Hierdie opsie is slegs van toepassing op nagraadse studente en op terugkerende studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wat nie toegang tot die selfregistrasie-/aanlyn registrasiestelsel het nie.  
  • Studente met uitstaande fooie vir 2022 sal nie toegelaat word om te registreer nie (buiten kwalifiserende NSFAS-begunstigdes). Raadpleeg asseblief eers die personeellede in die betrokke kantoor vir Beurse en Lenings in dié verband (kontakbesonderhede verskyn hieronder).
  • Raadpleeg asseblief die kontaklys hieronder vir bystand met e-posregistrasie.
  • Nagraadse studente sou 'n registrasievorm van die Universiteit ontvang het, wat hulle kan voltooi en per e-pos kan terugstuur. Die tersaaklike kontakbesonderhede hiervoor verskyn hieronder.

 
Opsie 3: Registrasie op kampus (voor- en nagraadse programme)

  • Hierdie opsie is slegs van toepassing op diegene sonder toegang tot selfregistrasie en wat ook nie hulle registrasie per e-pos kon voltooi nie.
  • Alle studente op Stellenboschkampus wat nie deur middel van die registrasie-opsies hierbo kon registreer nie, moet in die rekenaargebruikerarea (NARGA) in Admin A registreer. (Die enigste uitsondering is terugkerende voorgraadse studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wat op Stellenboschkampus studeer, wat by mnr Johan Coetzer in kamer 3020, Admin A, kan registreer.)
  • Studente met uitstaande fooie vir 2022 sal nie toegelaat word om te registreer nie (buiten kwalifiserende NSFAS-begunstigdes).
  • Raadpleeg asseblief die rooster hieronder vir die datums wanneer registrasie op kampus plaasvind. 

Spesifieke registrasiebesonderhede vir Tygerbergkampus is HIER te kry.

Voorlegging van Dokumente  

Studente wat enige van die volgende kwalifikasies gedurende 2022 voltooi het, hoef NIE enige uitslae voor te lê nie, omdat ons die afgelaaide weergawe van die Departement van Basiese Onderwys in Januarie 2023 sal ontvang:  

  • Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsintituut (SACAI)
  • Onafhanklike Eksamineringsraad (IEB) 
  • Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)
  • School of Tomorrow (SoT) 

Alle ander studente wat enige ander kwalifikasie voltooi het, moet hul resultate asseblief aflaai/stuur sodra dit beskikbaar is. Dit sal verseker dat ons jou toelating so gou as moontlik kan prosesseer. Klik asb. HIER om jou finale uitslae vir verifikasie af te laai.

Internasionale studente

Alle internasionale voorgraadse eerstejaarstudente moet 'n gewaarmerkte afskrif van hulle finale uitslae vir verifikasie by US Internasionaal indien voordat die fakulteit 'n finale toelatingsaanbod sal kan uitreik, mits jy steeds aan die vereistes voldoen.

Meer inligting oor die proses, asook inligting rakende terugkerende internasionale studente is HIER beskikbaar.

Registrasierooster

Algemene datums

  • 3 Januarie 2023: Aanvang van aanlyn registrasie sowel as registrasie op kampus vir terugkerende voor- en nagraadse studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
  • 16 Januarie 2023: Aanvang van aanlyn registrasie vir senior voorgraadse en nagraadse studente
  • 25 Januarie 2023: Aanvang van aanlyn registrasie vir nuwelingeerstejaars
  • 6–7 Februarie 2023: Registrasie op kampus (NARGA) vir nuwelingeerstejaars op Stellenboschkampus, soos wat die registrasierooster hieronder aandui
  • 7–9 Februarie 2023: Registrasie op kampus vir senior studente op Stellenboschkampus, soos wat die registrasierooster hieronder aandui
  • 9 Februarie 2023: Einde van registrasie vir alle studente (buiten M- en D-studente)
  • 13 Februarie 2023: Aanvang van akademiese jaar
  • 24 Februarie 2023: Laaste dag vir laat registrasie van voor- en nagraadse studente (buiten M- en D-studente) 

Klik asseblief HIER om die begeleide registrasieskedule te sien (nuwelingeerstejaars en senior/terugkerende studente
 
Studentedienste-kontakbesonderhede

Klik asseblief HIER vir kontak- en registrasiebesonderhede vir jou betrokke fakulteit. 

Koshuise

Nuwe voorgraadse eerstejaars

  • Nuwelinge wat plek in 'n universiteitskoshuis ontvang het, moet daar aanmeld ooreenkomstig die tye wat elke koshuis bepaal.
  • Nuwelingeerstejaars sal op 1 en 2 Februarie intrek, en party Huiskomiteelede en mentors sal 'n paar dae vroeër reeds daar wees.
  • Let wel, indien eerstejaars sonder 'n voorafreëling versuim om teen die intrekdatums by die koshuis aan te meld, sal hulle koshuisplek gekanselleer en aan studente op die koshuiswaglys toegeken word.
  • Laat weet asseblief die Koshuisplasingskantoor by info@sun.ac.za indien jy nie van plan is om van jou koshuisplek gebruik te maak nie. 

Senior/terugkerende studente

  • Studente in senior leefruimtes sal vanaf 15 Januarie intrek.
  • Alle ander senior studente in voorgraadse koshuise sal vanaf 8 Februarie begin intrek.
  • Laat weet asseblief die Koshuisplasingskantoor by info@sun.ac.za indien jy nie van plan is om van jou plek gebruik te maak nie sodat die Universiteit nie huisvestingsgeld by jou studenterekening insluit nie.

Studentekaarte

Nuwe Studente

Alle studente moet ná registrasie ʼn studentekaart bekom. Jy sal jou studentekaart om verskeie redes nodig kry, dus moet jy dit altyd by jou hê wanneer jy op kampus is. Klik HIER vir meer inligting oor waar om jou kaart te kry.


Studente op die Tygerberg-kampus moet hul spesifieke kampus se registrasie-inligting raadpleeg vir besonderhede oor die afhaal van hul studentekaarte. 
 
Terugkerende studente (heraktivering van studentekaart)

As jy nog jou 2022-studentekaart het en dit weer in 2023 gaan gebruik, hoef jy dit nie weer te aktiveer nie. Die kaart sal outomaties geheraktiveer word sodra jy vir die 2023- akademiese jaar geregistreer het en enige uitstaande gelde van vorige jare betaal het.

Ons moedig jou aan om ons registrasieblad gereeld te besoek vir die nuutste inligting.
 
Vriendelike groete
Registrateursafdeling​