AgriScience
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Departement Voedselwetenskap

Wat is Voedselwetenskap?

Voedselwetenskap dek die prosessering van rou landbouprodukte tot voedselprodukte wat vir menslike verbruik en vertering geskik is.  Voedselwetenskap is 'n opwindende studieterrein wat wetenskappe soos Chemie, Biochemie en Mikrobiologie toepas om maniere te ontdek om die smaak, voedingswaarde en gehalte van voedsel te verbeter om in die wêreld se vraag na 'n steeds toenemende voedselvoorraad te voorsien.  Voedselpreservering en -prosessering, voedselontleding, produkontwikkeling, voedselverpakking en die implementering van voedselgehalte- en -veiligheidstelsels word ook bestudeer.

Die Departement Voedselwetenskap​

Die Departement Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch word beskou as een van die toonaangewende opleidingsinstansies in Suid-Afrika met 'n sterk fokus op navorsing, waarvoor dit internasionale erkenning geniet.  Dit is 'n dinamiese department met personeel wat geesdriftig is oor onderrig en wat by innoverende en relevante navorsing betrokke is.  Die Departement probeer voortdurend om bestaande tegnieke vir die ontwikkeling, prosessering, verpakking, berging en vervoer van nuwe produkte te verbeter.  Die missie van die Departement is om 'n nasionaal en internasionaal mededingende uitnemendheid­sentrum vir Voedselwetenskap te wees en om, deur visioenêre opleiding en innoverende navorsing, die Suid-Afrikaanse voedselbedryf te voorsien van voorpunttegnologie, kennis en omgewingsvriendelike produkte en praktyke sowel as goed opgeleide rolspelers.

Programinligting  ​

BSc in Voedselwetenskap

Hierdie vierjaarprogram lei studente op om grondstowwe om te skakel in die innoverende, veilige, gesonde en smaaklike voedselprodukte wat in die supermarket beskikbaar is.  Jy sal leer om die kennis van die grondliggende wetenskappe soos Chemie, Biochemie, Fisika, Wiskunde en Mikrobiologie toe te pas op voedselprosessering, -preservering, -verpakking en produkontwikkeling.

Daar is in hierdie program noue kontak met die Suid-Afrikaanse voedselbedryf deur gereelde fabrieksbesoeke en verpligte bedryfsopleiding.  Dit sal jou aan 'n groot verskeidenheid van aspekte van voedselwetenskap blootstel.

Studente wat 'n BSc (Voedselwetenskap)-graad verwerf het, kan aangestel word as innoverende produkontwikkelaars of as bestuurders in verskeie afdelings van voedselmaatskappye, soos produksie, produkontwikkeling, gehaltebeheer, navorsing en ontwikkeling, en tegnies.  Hulle kan ook as navorsers by tersiêre en navorsingsinstansies of  as entrepreneurs werk en, wanneer hulle voldoende ondervinding opgedoen het, as konsultante in die voedselbedryf.  Die Universiteit Stellenbosch se voedselwetenskaplikes is wêreldwyd gesog.

Nagraadse programme

 

  • MSc Voedselwet
  • PhD (Voedselwet)
  • DSc Voedselwet

 

Navorsing

Daar heers 'n sterk navorsingskultuur, gegrond op die aanwending van fundamentele wetenskaplike beginsels en 'n fokus op die verstaan van voedselsoorte as biomateriale.

Navorsing dek 'n bree gebied en fokus op verskeie temas:  In Voedselmikrobiologie word die diversiteit van mikrobiese populasies bestudeer deur middel van konvensionele en molekulêre tegnieke.  Die omgewingstema  konsentreer op die impak wat voedsel­prosessering op watergebruik, eienskappe van  afloopwater en behandelingsmoontlikhede  het.  Die voedselveiligheidstema is gebaseer op die voorkoms, identifisering, oorlewing en beheer van potensiële patogene in voedselprosessering.  Die spektroskopietema  gebruik naby-infrarooi (NIR)-spektroskopie en NIR-hiperspektrale beeldanalise vir kwalitatiewe, kwantitatiewe en outentisiteitstudies van landbou- en voedselprodukte.  In die graangehaltetema  is die eerste fokus op die onderliggende faktore wat graangehalte beïnvloed, soos endospermtekstuur en, tweedens, word metodes vir vroeë identifisering van haalbare kwekingsbane ontwikkel, in samewerking met Suid-Afrikaanse graannavorsingsinstansies.  Multidissiplinêre velde is betrokke by die sensometriese tema:  chemiese, fisiese en sensoriese eienskappe van voedselprodukte word in wederkerige verband gebring deur gebruik van statistiese tegnieke om die drywers van verbruikerskeuses te bepaal.

Deur sterk student-personeel-interaksies te kweek word 'n stimulerende navorsings­omgewing gehandhaaf.  Dit weerspieël die feit dat beduidende navorsings­befondsing jaarliks verkry word – 'n teken van sowel die hoë gehalte navorsing wat onderneem word as die relevansie van die grade wat aangebied word (MSc, PhD en DSc) – vir die behoeftes van vandag se globale voedselbedryf.

'n Omvattende lys van alle navorsingsartikels is beskikbaar by http://www.sun.ac.za/research/en/research-report

Kontakbesonderhede

Departement Voedselwetenskap

Fakulteit AgriWetenskappe
Universiteit Stellenbosch
Privaatsak X1, 7602 Matieland, Suid-Afrika​​

Tel: +27 (0)21 808 3578    
E-pos: voedselw@sun.ac.za
      Web:  http://www0.sun.ac.za/foodsci/