AC4TR4
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Geskiedenis

Fusariumverwelk is vir die eerste keer op die plaas Metocheria naby Namialo in noordelike Mosambiek in Februarie 2013 waargeneem, na abnormaal hewige reëns. Die verspreidingspatroon van die siekte dui egter daarop dat die siekte al langer teenwoordig was.  Aangesien die reën vooraf gegaan is deur droogte in die vorige jaar, is dit moontlik dat simptome verkeerdelik aangesien is vir plante onder ernstige droogtestres.  Kartering van nuwe uitbrake toon egter dat die siekte vinnig versprei, en kan in amper al die aanplantingsblokke van plaas 2 gevind word (op ses plase van Metocheria).  Die ander plase het egter slegs 'n paar gevalle van siek plante.

Nadat die siekte ontdek is, is monsters na wetenskaplikes in Mosambiek en Suid-Afrika gestuur, en die verantwoordelike swam is deur wetenskaplikes by die Universiteit van Stellenbosch in Suid-Afrika geïdentifiseer.  Monsters van siek piesangpseudostamme wat by Metocheria Farms versamel is het beide Fusarium spesies en bakerieë bevat.  Die idendifikasie van bakerieë het hul rol as sekondêre kontaminante bevestig.  Die Fusarium isolate is egter morfologies as lede van Fusarium oxysporum geïdentifiseer, en deur patogenisiteitstoetsing as F. oxysporum f. sp. cubense (Foc), die piesang Fusariumverwelkpatogeen. Twee stelle molekulêre merkers het aangedui dat die Foc isolate lede van die vegetatiewe verenigbaarheidgroep (VCG) 01213/16 was, beter bekend as Foc 'tropiese' ras 4 (TR4). Filogenetiese vergelyking met ander VCGs van Foc het ook die Mosambiek isolate in die VCG 01213/16 gegroepeer.  Die identiteit is met vegetatiewe verenigbaarheidsgroeptoetsing (VCG) bevestig.

Die eerste Cavendish aanplantings by Metocheria Farms is met weefselkultuur piesangplantjies vanaf DuRoi Laboratoriums (Suid-Afrika) in 2009 aangeplant, en meer plantjies is vanaf Rahan (Israel) in 2011 bekom.  Ses plase is nou ontwikkel, waarvan elkeen onafhanklik bestuur word. Metocheria Farms dek 'n totale area van meer as 16 000 ha, waarvan 1 500 ha met piesangs geplant is.  Elkeen van die plase is ongeveer 250-300 ha in grootte, en geeneen van hulle het duidelike grense nie.  Plaas 3 en 6 deel 'n pakhuis, en so ook plase 4 en 5.  Plase 1 en 2 het hul eie pakhuise. Gronde het 'n hoë klei-inhoud en 'n pH (water) van tussen 6.0 en 7.5. Wintertemperature varieer tussen 15-25oC en somertemperature tussen 30 en 45oC. Mikro-sprinkelbesproeiing word gedoen met water in twee houdamme op die plaas wat gevul word met water vanuit die Monapo rivier. Voor die ontdekking van Fusariumverwelk, was daar 'n aansienlike beweging van mense van plaaslike gemeenskappe wat deur Metocheria Farms geloop het, en ook dikwels deur piesanglande. Plaaspersoneel is ook tussen lande geroteer, en internasionale personeel is dikwels vervang.  Die internasionale personeel sluit piesangwerkers met ondervinding van ander piesang uitvoerlande soos Panama, Costa Rica, Honduras, Guatemala en die Filippyne in. Elkeen van die plase is nou omhein, en toegang tot die area word by die hoofhek, asook tussen plase, beheer.