AC4TR4
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Die Piesang Fusariumverwelkswam


Die veroorsakende agent van Fusariumverwelk van piesangs word Fusarium oxysporum f. sp. cubense (Foc) genoem, 'n grond-inwonende, filamentagtige swam wat tot die seksie Elegans in die genus Fusarium behoort. Foc kan in kultuur 'n verbasende reeks van kleure, teksture en aromas produseer, maar niks wat die piesangpatogeen van F. oxysporum wat siekte van ander gewasse veroorsaak, kan onderskei nie.  Op aartappel-dekstrose agar varieer koloniemorfologie van dun tot wollerige groei en die kleur van diep pers tot room- tot perskekleurig.  Sekere lede van Foc kan vlugtige stowwe produseer met 'n ster-agtige groei.  Die swam produseer drie tipes spore, waaronder makrokonidia, mikrokonidia en klamydospore.

Die makrokonidia is amper reguit, dun en dunwandig met drie tot vier septa, 'n voetvormige basale sel en 'n geboë dunlopende apikale sel.  Hulle word vanaf kort fialiedes op konidiofore geproduseer.  Mikrokonidia is enkel- of tweesellig, ovaal- tot niervormig en word in vals koppe geproduseer.  Klamydospore is gewoonlik bolvormig en word enkel of in pare hifes of konidia gevorm.  Hulle is weerstandbiedend teen uitdroging en ongunstige omgewingstoestande, en stel die swam in staat om vir meer as 30 jaar in die grond te oorleef nadat die gasheer verwyder is.  Klamydospore en konidia ontkiem in die teenwoordigheid van wortels en penetreer vatbare plante.

Drie rasse van Foc word, gebaseer op patogenisiteit teenoor verskillende piesangkultivars, herken. Ras 1 veroorsaak siekte in die 'Gros Michel' (AAA) en 'Silk' (AAB) kultivars. Ras 2 val 'Bluggoe' (ABB) aan, en ras 4 infekteer Cavendish (AAA) kultivars  en al die kultivars wat vatbaar is vir ras 1 en ras 2. Ras 3 is uitgelaat as 'n patogeen van piesang aangesien dit slegs Heliconia spp. aanval.  Aansienlike variasie bestaan binne Foc soos gemeet deur vegetatiewe verenigbaarheid, vlugtige stof produksie, elektroforetiese kariotipering en verskeie molekulêre tegnieke. Een-en-twintig vegetatiewe verenigbaarheidsgroepe (VCGs) is vanuit 'n wêreldwye versameling van Foc isolate geïdentifiseer. Slegs een van hierdie VCGs kom in Suid-Afrika voor, genaamd VCG 0120.

Daar word geglo dat Foc saam met sy Musa gashere in Suidoos Asië geko-evolueer het en vandaar na nuwe piesangproduserende lande, deur die beweging van geïnfekteerde plantmateriaal, ingebring is.  In 'n studie van 'n wêreldwye versameling van Foc, is twee hoof groepe, gebaseer op elektroforetiese kariotipe, geïdentifiseer; een groep word oor die algemeen geassosieer met piesangkultivars met gedeeltelike B genome (dit is ten minste een kromosoom verkry vanaf M. balbisiana; bv. Lady finger AAB en Bluggoe ABB), en die ander geassosieer met piesangkultivars met suiwer A genome (dit is alle kromosome verkry vanaf M. acuminata; bv. Cavendish AAA en Gros Michel AAA). Hierdie  groepe is met RFLP data, RAPD en DAF analise, basispaarvolgorde analise van die TEF en mtSSU gene en AFLP analise bevestig. Die twee groepe is bewyse vir onafhanklike evolusionêre oorspronge van Foc in Suidoos Asië.  Een VCG van Foc (VCG 01214), kon egter buite die Indo-Maleisiese area ontstaan het.  Isolate van hierdie VCG affekteer ABB kookpiesangs in noordelike Malawi, en is geneties verskillend van ander Foc afstammelinge/VCGs. Foc isolate word verder in verskillende afstammelinge verdeel met groepe van naby-verwante VCGs, selfs as hulle oor 'n breë geografiese area verspei is.  Hierdie verwantskappe is met RAPDs, RFLPs, AFLPs, elektroforetiese kariotipes en multi-geen filogenieë gedokumenteer, en stel 'n klonale voortplantingsstrategie vir hierdie patogeen voor.